Poppie-verhoor begin

Poppie van der Merwe (Foto: Facebook)

Byna ʼn jaar ná die dood van die driejarige Poppie Koekemoer gaan haar ma en stiefpa, Louisa (46) en Kobus Koekemoer (44), na verwagting Maandag in die Pretoria-hooggeregshof verskyn op aanklag van haar moord.

Die verhoordatum vir die Koekemoer-egpaar is in Maart in die Brits-landdroshof vasgestel. Die egpaar staan tereg op ʼn aanklag van moord, twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling.

Van dié aanklagte hou ook verband met die beweerde aanranding op ʼn vyfjarige seun en ʼn 15-jarige meisie wat strek oor ʼn tydperk van September 2015 tot Oktober 2016.

Maroela Media het voorheen berig ʼn buurman van die Koekemoers in Orania het in Augustus 2016 in ʼn polisieverklaring aangevoer daar was gereeld ʼn bakleiery by die Koekemoers se huis. Hy het gedink die kinders is onnodig gedissiplineer. “Die aantal houe vir kinders van daardie ouderdom was onvanpas,” het hy in die verklaring geskryf. Hy het ook ander bewerings van mishandeling gemaak.

Poppie is op 25 Oktober verlede jaar na ʼn hospitaal in Brits gehaas, nadat sy vermoedelik aangerand is. Die Koekemoer-egpaar het toe reeds van Orania na ʼn kleinhoewe in Mamogaleskraal naby Brits verhuis. Poppie is kort ná haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Kobus is kort daarna vir Poppie se moord in hegtenis geneem. Louisa is op 15 Desember in verband met die moord in hegtenis geneem.

Die egpaar is sedert hul inhegtenisneming in aanhouding nadat hulle borgtog geweier is. Die saak is tot 10 November op die hofrol geplaas.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof (28 Maart 2017). Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.