Poppie-verhoor: Ma ‘kry nie kans’ om mishandeling aan te meld

Louisa Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Louisa Koekemoer (47) het Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria verskeie kere gehoor sy kon die dood van Poppie van der Merwe verhoed het as sy as ma ingegryp het.

Louisa, wat saam met haar man, Kobus Koekemoer (44), tereg staan op aanklag van moord op die driejarige blondekopdogtertjie, is Dinsdag verskeie kere sprakeloos gelaat terwyl adv. Lana Augustyn, Kobus se regsverteenwoordiger, en adv. Salomé Scheepers, die staatsaanklaer, haar onder kruisverhoor met vrae gepeper het.

Louisa en Kobus staan ook tereg op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Augustyn wou by Louisa weet hoekom sy so vinnig uit Westonaria gevlug het toe Louisa se vorige lewensmaat van sowat vyf jaar vir Louisa en die tienermeisie aangerand het, maar dit nooit gedoen het toe Kobus die kinders mishandel het nie.

“Toe jy in Orania aankom, het jy gesê die Orania Maatskaplike Raad (OMR) het jou bygestaan. Het jy die berader vertrou?” het Augustyn gevra. “Ek vertrou nie sommer enigiemand nie. Alhoewel sy nooit rêrig iets gedoen het sodat ek haar nie kon vertrou nie,” het Louisa gesê.

Louisa het gesê in die begin toe sy Kobus ontmoet het, was daar nie probleme in die verhouding nie. Hy het met die kinders geraas, maar sy het gedink hy is oorbeskermend en “dit laat gaan”. Die aanranding het glo begin kort nadat hulle getroud is.

“Hy het die kinders geslaan dat hulle sou seerkry en blou kolle kry. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Hy het gesê ek is slegte ma omdat hulle nie dissipline het nie,” het Louisa gesê.

“Hoekom het jy dit nie by die OMR aangemeld nie? Hulle het jou dan gehelp om op jou voete te kom en om ʼn interdik teen Poppie se pa te kry?” het Augustyn gevra.

Kobus Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Louisa het gesê die doel van die interdik was om Poppie se pa te verhoed om die kinders sonder haar goedkeuring te sien. Regter Bert Bam wou weet of sy enigsins oorweeg het om ʼn interdik teen Kobus te kry. Louisa het geantwoord sy het dit oorweeg, “maar nie kans gekry nie”.

Louisa het vroeër die dag getuig dat sy baie bang was vir Kobus en dat hy glo gereeld gedreig het dat hy haar en haar kinders en familie leed sal aandoen as sy hom sou verkla. Tog het hy haar nooit fisiek aangerand nie. Die egpaar het wel rusies gehad waartydens hulle op mekaar sou skreeu en vloek.

“Kobus het my nie toegelaat om met die berader te praat nie. Ek het nie die tyd of geleentheid gehad nie en was bang [vir Kobus]. Hy was die meeste van die tyd by my en het ook my selfoongebruik dopgehou,” het Louisa geantwoord. “Hy was baie manipulerend en ek was bang as hulle [die polisie] hom wegvat dat hy sou vrygelaat word en terugkom om ons seer te maak,” het sy gesê.

“So jy het nêrens net vyf minute gehad om dit aan iemand te sê nie. Nie eens aan die tienermeisie of jou eie ma wat op Orania gewoon het nie? Ek stel dit aan jou as jy besorg oor [die kinders se] veiligheid was, sou jy as moeder opgetree het. Jy het die kinders aangerand,” het Augustyn gesê.

Louisa het herhaaldelik ontken dat sy die kinders met die vuis geslaan het as sy oor getuies se bewerings dat sy dit gedoen het, uitgevra is.

Sy het erken sy het gedink die beserings en mishandeling was ernstig en kon ʼn kind se dood veroorsaak. “Hoekom het jy hulle dan nie beskerm nie?” wou Augustyn weer weet. “Ek kon hulle nie beskerm nie want ek was bang hy maak hulle seerder of hy maak hulle dood,” het Louisa geantwoord.

Augustyn het haar kruisondervraging afgesluit deur dit te stel dat Kobus nooit op 25 Oktober 2016 Poppie se dood veroorsaak het nie, maar dat dit Louisa was wat vir Poppie teen die muur gegooi en in die bad laat val het.

Scheepers het dit gestel dat Louisa nie in haar huwelik met Kobus die “slaansak” was soos in haar vorige verhouding nie, en dat dit dus nie die rede was hoekom sy nie opgetree het teen hom nie.

“Jy sê jy was bang, maar Kobus het jou nooit seergemaak nie, hoe kan jy bang wees? Jy erken hy maak die kinders baie seer; dan moet jy mos intree? Hoekom het jy nie ingetree nie? Want jy het ook daardie beserings veroorsaak,” het Scheepers gestel.

Louise het getuig sy het nie geweet waarheen hulle aan die einde van September 2016 getrek het toe hulle Orania verlaat het nie en dat Kobus alles gereël het.

Poppie van der Merwe.

“Jy het geweet die lewe raak te moeilik [in Orania] en julle kan nie meer daar optree soos julle wil nie. Jy het geweet julle gaan Brits toe. As jy bang was, kon jy oornag gevlug het. Ek stel dit aan jou dat jy die aanranding goedgekeur het en saam in die aanrandingsverhouding was,” het Scheepers gesê.

“Ek het nie,” het Louisa saggies geantwoord.

“Het jy nie gedink dit sal maar beter wees as iemand die kinders vat aangesien hulle so mishandel word nie?” het Scheepers gevra.

“Ja,” het Louisa geantwoord.

“Nou hoekom het jy nie gaan kla nie?” wou Scheepers weet.

“Ek weet nie, ek is lief vir my kinders. Ek wou hulle by my hê,” was Louisa se antwoord.

Adv. Adrian Nell, Louisa se regsverteenwoordiger, het afgesluit deur te ontken dat Louisa “niks” gedoen het oor die aanradings nie. “Sy het gegaan vir evaluasie by dokters soos deur die OMR aangevra en het ook haar samewerking aan die OMR gegee waar sy moes. So almal was bewus daarvan [die mishandeling], maar almal het niks gedoen nie,” het hy gesê.

Bam het ingetree en gesê: “Dit lyk my meer niemand het niks gedoen nie, maar dit is nie Orania wat in die beskuldigdebank staan nie.”

Die saak is daarna tot 5 Desember uitgestel aangesien een van die getuies nie dadelik beskikbaar was nie. Dié getuie is ʼn maatskaplike werker verbonde aan ʼn maatskaplike organisasie buite Orania.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

NET EK ·

Hoe kon jy jou kind WOU beskerm. Jy wou hul nie weggee want jy was lief vir hulle Sy was in jou huis mishandel en toe later dood.. Onder jou toesig. Asseblief. Daai dierbare kind het nie verdien wat met haar gebeur het nie. Wat JY gesaai het sal jy maai…..

Veer ·

Ken iemand nie dalk iemand in die tronk nie….sal graag ‘n boodskap wou stuur dat hierdie 2 mense asb hul koppe moet stamp teen ‘n kas! of kan hul nie dalk sokker speel en geskop word nie…..ai ek hoop hul kry die hoogste straf!

De Villiers ·

As sy die vrees vir haar man bo die beskerming en liefde van haar kinders gestel het, het sy nie ‘n saak nie, al sê sy wat. Geen regdenkende mens sou so iets toelaat nie.

karin van Niekerk ·

Ek is jammer daar is geen rede wat sy nie kon haar kinders neem en die pad vat, as sy so lief was vir hulle soos sy se nie, jare terug toe my eksman eenkeer sy hand vir my kind opgetel en haar rondgepluk het aan haar hare, het ek my en my kinders en letterlik gevlug vir ons lewe, omdat hy ook gedreig het hy sal ons almal doodmaak, ek is jammer my liefde vir my kinders was groter as “vrees” vir sy dreigemente, wat daardie arme dogtertjie moes deurmaak, mag GOD hulle oordeel en hul straf toeken, al wat my troos is dat sy darem by Jesus nou is, maar wat van die ander kinders watse letsels, lewenslank het hulle nie opgedoen nie, hierdie sg. ouers moet die hoogste straf nl vir moord kry.

Lolapot ·

Dis nou ‘n voorbeeld van alles sien maar ook niks sien nie. Dit klink asof almal geweet het die kinders word mishandel. Orania behoort hulle te skaam! Hoekom het hulle nie die kinders weggevat van hierdie vieslike gespuis nie. Is dit omdat dissipline as ‘n Afrikaanse godgegewe reg beskou word? Mens moet wonder hoeveel ander Poppies dwaal daar dalk nog in Orania rond. Poppies wat kamstig getugtig word maae meantime back at the ranch is dit niks meer en niks minder as aanranding

Magda ·

Die Here alleen weet waardeur daardie klein tenger kindjie moes gaan. Ek huil as ek dink dat die mens wat haar moes beskerm, vertroetel, koester en liefhe haar gebreek en toegelaat het dat sy gebreek word. Ekt self n 3 jarige dogtertjie. Daardie kindjie se hartjie was seker so seer, verward en gevul met vrees. Sy het nie verstaan hoekom en wat met haar gebeur nie. Verbeel jou sy sak inmekaar langs n asblik of op n badkamermatjie. EENSAAM EN ALLEEN MET NIEMAND!!!!!!!! Met niks. Niks liefde…niks vashou..niks soentjies..niks. Net Niks. Ai. Here tog.???

Loraine ·

Ek sal my kinders met my lewe beskerm. Geen verskoning vir haar nie. Sy was beslis deel daarvan en glad nie so onskuldig as wat sy voorgee nie!! Rus in vrede kleine prinsessie, jy is nou by Jesus waar niemand jou ooit weer seer sal kan maak nie!

maria ·

My dogter is blond met groot bou oë. Sy het op 3 baie soos Poppie gelyk. Genade tog,hoe kan enige mens- en ek praat nie net van die ma nie- weg kyk waar so ‘n kind mishandel word? Die Poppie storie spook by my-‘n kind van 3 vra net vir 1 ding- Liefde!

Alida ·

Elke oggend wat jy jou oe oopgemaak het, en jy en jou kind het gelewe… was dit jou kans om iets te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.