Poppie-verhoor: Só tug stiefpa kinders

Poppie van der Merwe (Foto: Facebook)

“Ek het hulle eers met die plat hand pak slae gegee, maar hulle het vir my gelag en dit het my kwaad gemaak. Dit is toe dat ek die paplepel gekoop het.”

Só het Kobus Koekemoer (44) Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria getuig waar hy saam met sy vrou, Louisa (46), teregstaan op ʼn aanklag van moord op Poppie van der Merwe (3), twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en ʼn aanklag van kindermishandeling. Van dié aanklagte hou verband met die beweerde aanranding van ʼn sesjarige seuntjie en ʼn 16-jarige meisie tussen September 2015 en Oktober 2016.

Kobus het Dinsdag onder kruisverhoor getuig hy het aanvanklik die dissipline in die huis toegepas omdat hy die “vaderfiguur” was nadat hy en Louisa op 14 November 2015 in Orania in die Noord-Kaap getrou het.

Kobus het gesê hy het ʼn hegter band met die seuntjie gehad en dat Louisa en die tienermeisie meestal by Poppie betrokke was. Die tienermeisie het voor die troue saam met Louisa gewoon en gehelp om na die kinders om te sien. Sy het egter nie met Kobus oor die weg gekom nie en die huis verlaat toe die egpaar getrou het.

Hy het erken hy het die kinders baie geslaan “omdat hulle stout was” soos wanneer hulle goed gebreek of met hulle kos gespeel het. Hy sou hulle op die boude, op die hande en “soms op die bobene” met sy plathand geslaan het.

Kobus het getuig die kinders het egter vir hom gelag as hy hulle met die plathand bygekom het en hy het daarom ʼn paplepel by ʼn padstalletjie gekoop. Die paplepel, wat vroeër by die hof as ʼn bewysstuk ingedien is, is so groot soos ʼn volwasse man se voorarm en die punt so groot soos ʼn plathand. Hy het getuig hy het nooit die tienermeisie gedissiplineer nie en het dit van die staanspoor af in Louisa se hande gelaat.

Kobus het erken dat hy verskeie kere op die twee jonger kinders geskree en selfs gevloek het, soos ʼn voormalige buurman verlede week in die hof getuig het.

Kobus Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

Hy het egter gesê die buurman se weergawe van die dag wat hy glo die kinders in die middel van die winter “sopnat gespuit” en buite in die koue laat sit het, is onwaar. “Ons het net gespeel. Hulle was nie sopnat gespuit nie, net ʼn bietjie. Ek en Louisa het saamgespeel en was ook nat,” het hy gesê.

Kobus voer aan hy het merke op die kinders opgemerk, maar dat hulle dit by die dagskool opgedoen het en wanneer hulle speletjies in die bakkie sou speel. “Hulle het gespeel as ons in die bakkie gery het en mekaar daarin rondgestamp.”

Hy het gesê hy het die beserings by die Orania Maatskaplike Raad (OMR) aangemeld, maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Hy is van mening die OMR het ʼn sameswering teen hom en Louisa gehad en die buurman en die kinders se ouma was deel daarvan. Hy beweer hy het die dissipline gestaak en aan Louisa oorgelaat nadat die OMR hom aangespreek het.

“Meneer, beskryf jouself aan die hof. Beskou jy jouself as aggressief?” het adv. Adrian Nell, Louisa se regverteenwoordiger, aan Kobus gevra. “Ek is baie streng, nie noodwendig aggressief nie. As ek in ʼn woordewisseling betrokke is met iemand wat my beledig, dan sal ek aggressief raak.”

Hy het daarna erken dat hy al “in ʼn vuisgeveg of twee” met volwasse mense betrokke was. Hy het onder meer in ʼn stadium sy broer se kakebeen gebreek.

“Het u ooit vir Louisa aangerand?” het Nell gevra. “Nog nooit nie en ek het haar nog nooit gestamp nie. Ons het soms gestry en dan sou daar dalk ʼn vloekwoord van my en haar kant af gewees het.”

Nell het dit gestel dat Kobus vir Louisa “dramaties gevloek en geskel het” en dat sy bang was vir hom. Kobus het hierop geantwoord: “Ek is baie lief vir Louisa, meneer. Nee, ek het nie.”

Louisa Koekemoer in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Nell het gesê Louisa sal ook getuig dat Kobus in Orania die kinders ernstig aangerand het. “Sy sal getuig sodra sy tussenbeide wou tree as jy die kinders aanrand, het die aanranding erger geword, want jy het berserk geraak.”

“Dis nie die waarheid nie,” het Kobus gereageer. “Louisa het haar deel van die pak slae uitgedeel. Louisa het ook ernstig pak slae uitgedeel, verskeie kere. As sy die kinders op hul boude of hande geslaan het, was dit reg, maar as sy hulle in die gesig of teen die kop slaan, het ek met haar daaroor gepraat.”

Die hof het gehoor drie dae voor Poppie op 25 Oktober 2015 in die Brits- provinsiale hospitaal dood verklaar is weens ʼn erge hou teen haar kop en bloeding op haar brein, was Poppie na bewering “amper dood”.

“Sy het net opgehou asemhaal. Ek het haar geskud, CPR gedoen en haar oë het weer oopgegaan,” het Kobus aan die hof gesê. Hy het gesê Poppie het “vanself reggekom” en die egpaar het nie gedink dit was nodig om haar na ʼn hospitaal te neem nie.

“Ek stel dit aan u dat u nie vir Poppie na ʼn hospitaal geneem het nie omdat julle geweet het die dokters sou al die merke aan Poppie sien,” het adv. Salomé Scheepers, staatsaanklaer, tydens kruisondervraging gesê.

Kobus beweer Louisa het Poppie die dag van haar dood “erg gedissiplineer”. Die hof het gehoor die egpaar was besig om Poppie te leer om die toilet te gebruik en dat sy die betrokke oggend haar bed vuilgemaak het. Louisa het haar skoongemaak en weer skoon klere laat aantrek, waarna Poppie as straf haar pap in haar kamer moes eet. Toe sy klaar geëet het, het sy weer haar bed vuilgemaak.

“Louisa was woedend. Ek het ʼn lawaai gehoor en dis toe dat ek sien Poppie kom hande-viervoet uit die kamer gevlieg, asof sy gestamp is. Sy het [vir Poppie] rof behandel en ʼn paar houe in die proses gegee. Sy het Poppie ook in die bad laat val en Poppie het haar kop gestamp. Ek het niks gesê nie, want ek wou nie inmeng nie.”

Scheepers wou weet hoekom Kobus juis so ʼn groot paplepel aangeskaf het om die kinders te slaan. “Glo u dat so ʼn klein meisie soos Poppie met so ʼn groot lepel pak moes kry?”

“Ek het hulle nie hard pak slae gegee nie. Die lepel was meer om ʼn geraas te maak,” het hy geantwoord. Scheepers het dit gestel dat Kobus die kinders geslaan het met die doel om hulle seer te maak en nie skrik te maak nie.

Sy het ook Kobus se weergawe dat die kinders seergekry het terwyl hulle speletjies in die bakkie gespeel het, in twyfel getrek. “As kinders speel, sal hulle lag. As hulle seerkry, sal hulle huil en die speletjies staak en nie sulke erge beserings opdoen nie,” het Scheepers gestel.

Kobus en Louisa Koekemoer in die hof (7 November 2017). Foto: Phillip Bruwer

“Hulle is taai kinders. Hulle huil nie sommer nie. Jy ken nie vir Poppie-hulle nie,” was Kobus se verweer.

“Maar dis omdat hulle te bang was om te huil en nie mag gehuil het nie. Almal wat tot duver getuig het, het gesê die kinders het hulle onttrek en soos bliksoldaatjies geraak as julle in die omtrek sou kom,” het Scheepers bygevoeg.

Kobus het geen emosie gewys terwyl hy deur foto’s van beserings aan Poppie se liggaam geblaai het nie. Hy het die merke uitgewys wat hy moontlik kon veroorsaak het deur haar “wakker te skud” en toe hy “CPR” gedoen het, maar vinnig uitgewys vir watter merke hy nie verantwoordelik was nie en glo ook onbewus van was.

Scheepers het gesê Poppie is weer in Brits aangerand, nadat dit aanvanklik beter gegaan het toe die OMR die huishouding begin monitor het. “Die OMR is was nie meer daar toe julle in Brits begin woon het nie en dit is hoekom Poppie nou dood is,” het sy dit gestel.

Die hof het daarna vir die dag verdaag. Kobus se kruisondervraging duur Woensdag voort, waarna Louisa na verwagting opgeroep gaan word om te getuig.

Lees alle vorige berigte oor Poppie van der Merwe op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Denise ·

Ek wil net weet hoe stout kan sulke klein kindertjies wees ???? Al wat sulke klein kindertjies vra is Liefde,, Aandag ,, Kos en dit gee hulle die versekering dat hulle veilig is ek lees geen van dit in al die uitreksels van die geval nie ?????? En wat is n vuil bed nou jy was net die beddegoed en hoekom het dit gebeur ek is geskok dat n moeder dit kan laat gebeur met haar kinders en hulle ook self so martel my hart is seer!!!!!!

zunette du toit ·

Hierdie gebeure en hartseer kan glad nie ongestraf bly nie dit geld vir albei grootmense – om te dink dat daardie klein ou mense soveel pyn en hartseer gehad het en die Ma was nie daar om
te troos nie.

Denise ·

En al wat kleinkindertjies vra is liefde , aandag, kos en dit gee hulle die versekering dat hulle veilig is . Dit is baie min gevra hoe kan n moeder so iets toelaat?????

Ella Bella ·

My enigste vraag is: As Poppie so deur die stelsel gefaal is, hoeveel anders kinders is daar nog in Suid Afrika wat elke dag mishandel word omdat die stelsel hulle faal?

Sonja ·

Beide moet gesteriliseer word – almal wat dit aan kinders doen!!!!

Alta ·

Hierdie saak is bitter intense en maak duisende mense opstandig en ongelukkig. Enige mens kan mos sien dat klein Poppie bitterlik mishandel was en as 3-jarige fyn dogtertjie duidelik nie beskerming en liefde van haar ma ontvang het nie en moes die uitbarstings van hierdie stiefpa verdra. Geen prokureur behoort eers hulle te verdedig nie want hulle verdien geen genade.

Annie ·

Hulle moet ook in die tronk aan hulle doen wat hulle aan die kinders en veral aan Poppie gedoen het. Hoop hulle kry baie seer en sterf ‘n stadige dood. Ek het geen simpatie met hulle nie.

Alida ·

U Edele Regter Bam ons as gemeenskap smeek u om hierdie mense altwee van hulle vir die volgende 30 jaar tronk toe te stuur. Dit is AFGRYSLIK!! Asb dit sal ander ouers ‘n les leer wat ook kindertjies mishandel.

Francois le Cochon ·

Tyd vlieg so vining verby, maak dit 300 jaar, of nog beter, maak soos die Amerikaners doen. Terry Nicols: 162 lewenslange vonisse sonder parool, Martin Bryant: 35 lewenslange vonisse plus 1,035 jaar sonder parool, Charles Scott Robinson: 30 000 jaar, Abdullah Barghouti: 67 lewenslange vonisse plus 5,200 jaar sonder parool, Allan Wayne McLaurin: 20 750 jaar, ens.

Martie ·

Ek vra net een vraag…ja..daai Ma is die woord Ma nie eers werd nie wat te sê die amp as Ma…maaaaaar…waar was hierdie kind se biologiese Pa???????hy het haar ook gefaal as ouer…punt…..onmenslik…hierdie ontstel my erg!!!hartseer is nie n genoegsame beskrywende woord nie!!!dis siek om te dink die kind moes deur al die ergste van ergste gaan!!siek verby…

Lettie ·

Eintlik kan ek nie die woorde vind om te reageer nie…ek voel letterlik siek op my maag. Maar wat is dit in vergelyking met wat weerlose, onskuldige kindertjies moes deurmaak…en soos iemand tereg sê, hoeveel is daar wat niemand van weet nie. Die mentaliteit van hierdie mense is om van naar te word.

Mariet ·

Ek is vervul met afgryse as ek lees hoe hierdie pràgtige dogtertjie mishandel is! Sòveel kinderlose gesinne sou haar met ope arms verwelkom en vertroetel het! Ek huil vandag…oor die wrède dade wat sy moes deurmaak…

Geskok ·

Hierdie mense moet asb geen genade ontvang nie. Die skade aan die kinders is nie net fisies nie, maar bly vir altyd in hulle menswees. WAT leer ons vir kinders deur lyfstraf toe te pas? Dat ‘n mens met geweld alles regkry?

Mariaan ·

Arme kinders!!
Dis ontstellend om te lees watter mishandeling hulle moes deurgaan. In watter ongelooflike pyn moes daai klein lyfie nie net gewees het nie.
Poppie het juís bed natgemaak omdat sy ń vreesbevange klein mensie was en niemand gehelp het nie. Wat help al die monitor? Na die eerste sessie moes die kinders al verwyder word.

Ansie ·

Dit vul my afgryse!!!! Hoe!!!!! Is dit moontlik dat hierdie mense kinders het?? My hart is in stukkend om dit te lees. Geen maar GEEN stead is genoeg vir hierdie mense nie!! Nie eers die good straf nie. Dit is verskriklik.

Mev Smit ·

Kyk, my 4jarige seuntjie kan deksels stout wees, maar NOG NOOIT het ek n behoefte gehad om hom half dood te slaan as hy stout is nie.
Die ouers is nie die naam werd nie. Hoe doen jy so iets aan 2 klein kinders en leef met jouself na die tyd?
Ek as ouer voel dan sleg as ek net te hard praat met my seuntjie.
Hoe????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.