Porno op skoonmaak-DVD skok

'n Foto van die DVD's wat op sosiale media gedeel is. Foto: Facebook

‘n Foto van die DVD’s wat op sosiale media gedeel is. Foto: Facebook

ʼn Pa van Johannesburg is “gewalg” nadat sy peuterdogter en haar maatjies aan “ernstige pornografie” blootgestel is nadat hy ʼn DVD by ʼn Crazy Store-winkel gekoop het.

Wayne Nunn het aan Maroela Media gesê ses van sy dogter se maatjies het op 19 Augustus by hul huis gekuier. Die kinders wou graag ʼn DVD kyk, maar die DVD-speler moes skoongemaak word.

“Ek het ʼn lensskoonmaker-DVD by die Crazy Store in Randparkrif gaan koop. Toe ek by die huis kom, het ek die DVD solank in die DVD-speler gesit terwyl ek die res van die inkopies uit die bakkie gaan haal het. Toe ek terugkom, was ek geskok en gewalg om pornografiese beeldmateriaal op die televisie te sien,” het Nunn gesê.

Hy het gesê die kinders, tussen die ouderdomme van 17 maande en vyf jaar, het ook die pornografiese video gesien voordat hy dit kon afskakel.

Volgens Nunn het hy dadelik Crazy Store se kliëntedienslyn geskakel en hulle van die voorval verwittig. “Die vrou wat die klagte telefonies hanteer het, het aan my gesê om onder geen omstandighede die DVD aan enigiemand te oorhandig nie,” het hy gesê.

Die volgende dag is Nunn na ʼn ander nabygeleë Crazy Store, waar hy weer ʼn lensskoonmaker-DVD van dieselfde handelsmerk gekoop het. Volgens hom het hy die DVD by die huis gespeel en was daar “nog erger” pornografiese materiaal op.

“Ek was dadelik op die foon met Crazy Store se streeksbestuurder,” het Nunn gesê. “Hy het die middag na my huis toe gekom om na die DVD’s te kyk. Hy het foto’s van die betaalstrokies geneem, van die twee DVD’s en die pornografiese materiaal op die skerm. Hy het gevra of hy die DVD’s kan saamneem, maar ek het geweier en gesê ek sal nie die DVD’s oorhandig voordat ek nie weet dat hierdie saak nie net onder die mat ingevee gaan word nie.”

Volgens Nunn het hy dieselfde aand ʼn brief van ʼn prokureur, wat namens Crazy Store optree, ontvang dat die maatskappy regstappe sou neem indien Nunn die inligting op sosiale media deel of met enige media daaroor praat. Hy sê hy het later nog ʼn brief ontvang van nog ʼn prokureur, wat namens Crazy Store optree, waarin hy weer gewaarsku word om nie met die media te praat nie.

“Ek het my net nie aan die briewe gesteur nie. Ek weet wat my grondwetlike regte is en ek sal nie die saak hier laat voordat hulle nie die probleem op ʼn aanvaarbare wyse opgelos het nie,” het Nunn gesê.

Volgens Nunn eis hy dat die lensskoonmaker-DVD landwyd van Crazy Store se rakke onttrek word en dat die winkel hom en die publiek amptelik om verskoning vra vir die voorval. “As ʼn pa kan ek nie net hieroor stilbly nie. Ander ouers moet hiervan weet, veral aangesien dit ʼn gesinswinkel is,” het hy gesê.

Kevin Lennett, besturende direkteur van Crazy Store, het aan Maroela Media gesê hulle het binne tien minute nadat Nunn die kliëntedienslyn geskakel het, met hom in verbinding getree om ondersoek in te stel.

Lennett ontken ʼn Crazy Store-werknemer het gesê Nunn moet nie die DVD’s aan iemand oorhandig nie en sê volgens die transkripsie van Nunn se oproep aan die kliëntedienslyn, is hy gevra om die DVD’s te hou totdat ʼn verteenwoordiger van Crazy Store dit by hom kan kry.

“Die streekbestuurder was die volgende dag self by sy huis en het bevestig daar was wel pornografiese materiaal op die twee DVD’s,” het Lennett gesê. “Ons het Saterdag, ʼn dag nadat ons die klagte ontvang het, ʼn kennisgewing aan al ons winkels landwyd uitgestuur en die produk van ons rakke onttrek.”

Hy het gesê die maatskappy het met verdere ondersoek agter die kap van die byl gekom oor hoe die pornografiese materiaal op die DVD beland het. “Blykbaar gebruik die maatskappy wat die DVD’s maak, ou DVD’s wat hulle omskakel in skoonmaak-DVD’s. Soos ek verstaan speel die ‘skoonmaak-gedeelte’ van die DVD tot op ʼn sekere punt en dan wys wat ook al voorheen op die DVD was. Nadat ons van die voorraad by ons hoofkantoor en in ons stoorkamers nagegaan het, het ons gesien sommige DVD’s bevat godsdienstige inhoud, ander het musiekvideo’s op, ensovoorts. Ongelukkig bevat sommige ook pornografiese materiaal. Nodeloos om te sê, ons sal nooit weer die produk gebruik nie.”

Lennett het ook bevestig Crazy Store het wel regsbriewe aan Nunn gestuur. “Mnr. Nunn se weergawe van gebeure laat ʼn paar belangrike feite uit. Tydens ʼn gesprek tussen my en [Nunn] op Maandag, 22 Augustus, het hy gesê ʼn kliënt van hom het ʼn groot kontrak gekanselleer nadat sy dogter die video gesien het. Hy het geëis ons moet daarom aan hom vergoeding van R280 000 betaal. Hy het gesê indien ons dit nie doen nie, sal hy met die storie media toe gaan,” het Lennett gesê.

“Ek het hierdie feite aan ons prokureur oorgedra, wat daarna ʼn brief aan Mnr. Nunn gestuur het waarin hy beklemtoon dit kom op afpersing neer. Die eerste brief was van ons interne regspan en die tweede van ons prokureur.”

Lennett het gesê hy is steeds baie spyt oor wat gebeur het en beskou die voorval in ʼn baie ernstige lig. “Daarom het ons alles in ons vermoë gedoen om die saak so gou as moontlik reg te stel. Ons is ‘n trotse en betroubare onderneming wat nooit willens en wetens ons kliënte sou blootstel aan hierdie soort materiaal nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

42 Kommentare

Anoniem ·

Die gesinstydskrif “Huisgenoot”, is net so erg. Kan nie dink hoe kan die redakteur die foto’ s van vroue in eina bikini’s of deurtrekkers toelaat nie. Nog erger is die artikels oor gay-wees ens! Kinders lees die tydskrif, sies vir jul!

Karin ·

Anoniem, waarom koop jy dan nog die ‘Huisgenoot’ as jy weet die ongure foto’s en artikels kom daarin voor? Niemand dwing jou mos nie, of hoe? Ek het nog nooit die tydskrif gekoop nie en sal te skaam wees dat iemand dit in my huis moet sien.

Veronica ·

Anoniem jou kinders gaan een of ander tyd blootgestel word aan hierdie dinge. Op die strand, by die swembad of waar ookal. Pasop dat een van jou kinders nie gay is nie. Daar is niks met sulke artikels fout nie. Bêre jou Huisgenoot dan of skeur die blaaie uit wat jy nie wil hê hulle moet sien nie.

Neewat jul oordryf ·

Nee wat jul oordryf, ek is seker jul kyk gereeld tv. Miskien kyk jul saam, verlaat die vertrek en die kind van so oud as 2 weet al watter knoppie om te druk om van kanaal te verander. Daar word hul meer blootgestel aan porgnografie. Bly sommer weg van vakansie oorde en strande elke tweede vrou loop met ‘n deurtrekker en top wat behoorlik net-net toemaak. Dokters en hospital besoeke en oral le tydskrifte rond. Sluit jul kinders toe want daar is oral sulke material. Ek het my kinders van kleins af waardes geleer, wanneer hul soiets sien sal hul geen opmerkings te maak of daaroor te lag of ‘n “fuzz” te maak nie. Kyk sommer waarna kyk jou kind op hul “van die beste” selfone op die mark!!!! As jy vir boetie of sussie ‘n foon gekoop het weet dat “huisgenoot die bad boek” se inhoud in OORMAAT daarop is. Vat die foon onmiddelik weg!! Ek kry skaam as jy sien wat daarop vrylik beskikbaar is.

Johann Marx ·

Gisteraand ‘n onverwagse klop aan die voordeur. My kombuis-ingenieur maak die voordeur oop en hier staan die dominee vir huisbesoek. Ek kon gelukkig net-net die huisgenoot onder die Loslyf indruk voor hy by die sitkamer ingestap het….sjoe, dit was amper!!!

Cherokee ·

As ek sulke twak kwyt geraak het sou ek ook as ‘anoniem’ geskryf het. Maar as jy nie eens weet dat Klara, Sanna en Siena ook maar anoniem is, word meer dinge duidelik.

Piet Pompies ·

Met die verpakking van die produk sou geen mens kon dink dat dit gebruikte DVD’s is wat omskep is in skoonmaak DVD’s. Goedkoop vervaardig, duur prys om te betaal.

koos ·

Ek sit ook die lig af as ek my nagklere aan trek dan blaai ek deur die huisgenoot en sit weerdie lig aan lol.

Frik ·

Ek maak ook soos Koos. Blaai deur die huisgenoot as die lig af is…hehehe…

Bruno Stef ·

Dit klink vir my nie na n lekker storie om te ervaar nie maar aan die anderkant klink dit vir my soos n oppertunis wat n belaglike bedrag eis en van n molshoop n berg probeer maak.

Johann ·

Wel die winkel se naam is CRAZY….nogal op n DVD “SKOONMAKER” produk. Is die ou seker dis nie juis agv wat al op sy DVD was dat die produk dit begin ” skoonmaak ” nie? Wel; so kry ons met kids iewers die verwagte OF onverwagte geleentheid om CRAZY birts ant beez te verduidelik.

Janine ·

Uh…skoonmakers is NIE ‘n gewone cd nie. So….bietjie ‘confused’ hoe daar enige iets gekyk kon word?

Hehehehiehie kkkiekie ·

Lekker lag ek nou hehehehehe. Skerp skerp so ou planmakertjie Dvd skoonmakertjie! Crazy Store syfers gaan lekker styg!

Georgie ·

Ag nee wat Wayne Nunn, inplaas daarvan dat jy Crazy Store in n baie slegte lig wou plaas het jy eerder jou eie naam krater gemaak

san ·

DIT HET AL VOORHEEN BY MUSICA OOK GEBEUR. MET DIE FLIEK ALADEN. TOE MY VRIENDIN DIE VIDEO VIR HAAR KINDERS OPSIT TOE GEBEUR DIT. PORN. SY HET DIT DIE VOLGENDE DAG TERUG GENEEM. DIE VIDEO IS SEMUUR VAN DIE RAKKE AFGEHAAL. DINK NET AS DIE KINDERS SELF DAARDIE VIDEO INGESIT HET.

Asjas ·

Iemand het juis eendag op die einste blad genoem dat elke saak het 3 kante. Wel die waarheid is ook nou gehoor.
Hy praat in elk geval bollie oor die kontrak, ek is seker as die persoon hom nie beter geken het nie sou hy nie sy kind in sorg toevertrou het nie.
Persoonlik sou ek my lag moes hou terwyl ek voor my kinders aangaan asof niks gebeur het nie. Ouers van kinders het al geleer dat jy kan nie altyd koes, keer of voorbereid wees nie!!

Cherokee ·

So die Nunn ou probeer toe ‘n score maak. Daarvan rep hy nie ‘n woord nie.

Andrea ·

Terwyl ek al die kommentaar lees, het ek gewonder of iemamd vir Margaret hierby gaan insleep.

annatjie ·

Die winkel kan bly wees dat dit uitgekom het. Geen ouer sal wil sien dat VERAL sulke jong kinders sulke goed sien nie. Grazy store as jul die saak verder vat koop ek ook nie meer daar nie. Wees dankbaar vir kliënt dar dit uitgekom het. Vra onverskoning en gaan aan.

Stem saam ·

Stem saam, wees bly, dit kon baie baie slegter gewees het, ek stem egter saam hy hoef nie uitbetaal te word, vir wat…..

Vrek Snaaks ·

Smaak my as jou naam Johan (n) is, is goeie humor in jou gene. Lekker geskater vir julle :-)

Danielle ·

Julle moet wegbly van pornografie, daar sit iets wat lyk soos ‘n rot op mense se koppe wat daarna kyk. Dit lyk of dit by die peroon se oor krap. Bly weg.

Louwrens ·

Nee Jitte Danielle. Verduidelik asseblief jou kommentaar. Ek verstaan dit nie. Dit voel nou vir my of ek n rot of n ding op my kop het wat nie net my oor nie, maar my hele kopvel krap as ek probeer uitmaak wat jy bedoel.

Hehehe ·

Skerp Danielle, jy het die 1ste man klaar gevang en ek glo al n hele paar wat nie kommentaar sal lewer, hul kry skaam of verstaan nie! Lekkkker man.

Columbiana ·

Liewe oordryf
Fuzz =ander woord vir polisie.
Fuss= bohaai opskop.
Net brokkie useless info vir jou as jy volgende keer die woord wil gebruik.

Cherokee ·

Nunn = die hoeveelheid geld wat hy gemaak het na sy poging om te eis.

Vroom ·

my dvd speler se lens is baie vuil…waars die naaste crazy store?

francois ·

As die kinders buite gaan speel het, sou dit nie gebeur het nie. Maak nie saak watter tyd jy vandag by iemand instap nie, die kinders le altyd voor die tv, gewoonlik een of ander kwaal hoekom hulle nie speel nie.

Frans C ·

Hopelik verstaan almal nou waarom die winkel ‘crazy’ genoem word.

Lynn ·

Ja, gee my R280 000 anders gaan ek media toe. (Daardie sin sê baie).

Marlene Hanekom ·

Wel ek kan maar net se God slaap nie. Die Crazy Store in Clear Water Mall in die Wes-Rand het altyd Christelike musiek gespeel. So maand of 2 gelede toe ek hul weer besoek het daar ander tipe musiek gespeel. by navraag se die kassiere toe vir my dat hul HK opdrag gegee het dat geen Christelike musiek meer in daardie winkel gespeel mag word nie en dat as dit wel gebeur die bestuurder van daardie winkel ‘n skriftelike waarskuwing sou kry. Ek het my voorgeneem om hul HK te kontak en my misnoe uit te spreek oor die saak, maar het dit ongelukkig nog nie gedoen nie. Dit was altyd ‘n plesier om net in daardie spesifieke winkel te loop omdat die musiek kalmerend was , maar nou sien hulle my maar selde, die musiek dryf my uit die winkel.

ronel ·

amazing, just friggen amazing, hoe n winkel se reuse verleentheid skielik als bevat van ‘n uit gewerkte bedrag van sonde, skade en pyn en leiding, hoe mense dink is okay om jou kinders en hul maatjies te laat babysit deur die TV sonder om n idee te he wat jy hul laat sien, hoe dit sommer gay mense, tannies in g-strings en huisgenoot se skuld is all in one, is dit net ek, of is die kommentaar string net effe ADD ? En musiek winkels in malls moet vir alle musiek smaak voorsiening maak, nie net Gospel, Marlene, het jy geweet, jou persoonlike smaak is nie so belangrik in bemarking dat n hele ketting winkel spesiaal vir jou moet cater, en duidelik sal Crazy Store moet erm ” steek proewe” doen op party van hul verpakte voorraad

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.