Portefeuljekomitee ontmoet bestuur van beleërde SA Express

SA Express (Foto: Facebook)

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings het met die uitvoerende hoofde van SA Express (SAX) vergader.

Dit is ʼn poging om die finansiële probleme te probeer ontrafel wat vandeesweek gelei het tot die opskorting van die streekslugdiens se vlugte weens sogenaamde erfenisskuld van R71 miljoen.

“Die komitee hoop op ʼn spoedige en volhoubare ooreenkoms tussen SA Express en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa),” het Khaya Mgaxa, voorsitter van die komitee, gesê.

Acsa het Donderdag bevestig hy het die staatsbeheerde lugdiens verbied om van enige van sy aanloopbane op te styg of te land weens wanbetaling wat nou al ʼn geruime tyd duur.

Volgens Acsa verhoed vertroulikheid hom om bekend te maak presies hoeveel SA Express hom skuld. Sy bestuurders vergader egter al vir etlike maande met bestuurders van die lugredery om die uitstaande betaling vir passasierskoste, landing- en parkeergeld te vereffen.

Vrydag het die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê SAX se tussentydse uitvoerende hoof, Siza Mzimela, het die opskort van vlugte toegeskryf aan historiese probleme, waaronder ʼn swak balansstaat, kredietlyne wat gevries is, likiditeitsprobleme, ou skuld en ʼn beduidende maandelikse kontantrekening.

Dít het gelei tot lae personeelmoraal, ʼn groot getal vakante bestuursposte en ʼn gebrek aan verantwoordbaarheid. ʼn Hele aantal kontrakte is boonop deur derde partye gedoen, wat tot nóg onkoste vir die redery gelei het.

Die komitee, wat tans besig is met ʼn oorsigbesoek om eerstehands inligting in te win oor die bedrywighede en probleme by staatsbeheerde ondernemings (SBO’s), het ook gehoor dat die R1,2 miljard wat die redery in Februarie vanjaar gekry het om te herkapitaliseer, net gebruik mag word om sy staatskuld te delg. Dit was boonop nie naastenby genoeg om alles te betaal nie.

Dit het SAX sonder enige bedryfskapitaal gelaat, nadat RMB boonop ʼn oortrokke fasiliteit aan SA Express opgeskort het.

“Hoewel die redery ʼn oortrokke fasiliteit van R300 miljoen kan verseker, is dit onderhewig aan staatswaarborge,” het die komitee gesê.

SAX se omkeerplan berus op ʼn inspuiting van hulpbronne, maar dit wat ontvang is, is gebruik om skuld te delg, eerder as vir die koste van huidige en toekomstige bedrywighede.

Mgaxa het die gesê SA Express se versoek vir ʼn regeringswaarborg van R300 miljoen moet in ag neem dat die land ernstige geldprobleme het en dat daar na alternatiewe oplossings gesoek moet word as die waarborg afgekeur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Is Acsa die vark in verhaal ? Parasitisme werk nie lekker uit nie . Dis die waarheid

Gert van Wierdapark ·

Die probleme spruit glo uit “histories probleme” – so oom Jan (1652) en die Wright broers het betrekking? . Wat is die skuld-bedrag?, of het die telrame te min nulletjies? Wag ek moet gaan = hier Kommi-tee nou net!

Sarel ·

Maak nou daardie boek toe. Verkoop, raak ontslae. Ons is verslae dat ander maatskappye winsgewend kan meeding en bly en julle gly. Duidelik het julle nie die kennis en vaardigheid nie. Kry vir julle regte werk!

Johan Pretorius ·

Raak ontslae van die lugdiens. Die belastingbetalers wil nie sulke laste dra nie. Die lugdiens sal nooit die mas opkom nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.