Portefeuljekomitee oor binnelandse sake gaan grensposte besoek

Mense staan in Desember in ellelange toue by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. (Argieffoto)

Die portefeuljekomitee oor binnelandse sake gaan die Beitbrug- en Lebombo-grenspos vandeesweek besoek in ’n poging om vas te stel watter vordering gemaak is om probleme op te los wat tot groot vertragings by dié grensposte gelei het.

Hierdie besoeke sal spesifiek fokus op die uitdagings van die afgelope twee maande en die komitee beoog om ook met ander rolspelers in gesprek te tree om praktiese en doeltreffende maniere te vind om verdere uitdagings die hoof te bied – nou en ná die Covid-19-pandemie.

Maroela Media het vroeër berig dat chaos by die Beitburg-grenspos geheers het met vragmotors en voertuie wat in toue van tot 20 km lank moes wag. Vragmotorbestuurders het meer as nege dae lank gewag om die grens oor te steek. Intussen het honderde mense die land ook oënskynlik onwettig probeer binnestroom.

Altesaam 104 mense het die afgelope week by die Beitbrug-grenspos positief vir Covid-19 getoets en die departement van gesondheid vrees dat die opeenhoping by dié grenspos vinnig besig is om ’n superverspreidingspunt van die virus te word.

“Die komitee was bekommerd oor die uitdagings wat mense by hierdie grensposte in die gesig staar, wat sowel humanitêre as gesondheidsrisiko’s vir hulle inhou,” sê adv. Bongani Bongo, voorsitter van die portefeuljekomitee.

Die komitee het tydens die chaos gevra dat die regering met sy vennote in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) moet saamwerk om oplossings te vind vir die huidige probleem met mense wat die grens oorsteek. Met hul besoek aan die grensposte beoog die komitee om dit ook op te volg.

“Ons gaan ook met die betrokke departemente by die grensposte in gesprek tree om vas te stel of oplossings al gevind is.”

Die komitee eis ook antwoorde by die departement van binnelandse sake oor die vordering met die operasionalisering van die Grensbestuursowerheid (BMA) na die ondertekening van die BMA-wet.

“Ons was nog altyd van mening dat die BMA sal bydra om die uitdagings by die grensposte te help oplos.”

Die komitee sal met personeel by die grensposte in gesprek tree om onder meer die beskikbaarheid van persoonlike beskermingstoerusting vas te stel. Komiteelede sal ook met reisigers en vragmotorbestuurders gesels om eerstehandse ervaring oor hul omstandighede op te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Philip ·

Die samekoms van die Pratende Koppe en die geil akkomodasie met inbegrip van die vyfster etes wat deur die sogenaamde afgevaardiges elke dag verorber word. Uitspraak word voorbehou tot n latere datum.

domheks ·

Hoekom is daar nie al lankal ordentlike toilet geriewe by die gredsposte nie? Elke jaar met Paasvakansie en Kersfees is daar ‘n opeenhoping. Korrupsie sluk te veel geld in, kon beter aangewend word. Maar elkeen kyk net vir sy eie sak en pens!

Tanniepetoors ·

Wat wil hulle nou eers daar gaan maak? Help gemors optel? Sowat van wanbestuur en swak beplanning skry ten hemele. Waar was Julius Malema en sy trawante om die mense wat hulle so graag in Suid-Afrika wil verwelkom te help en ondersteun? Trouens, Malema skyn in sy afwesigheid sedert sy bierbottel-in-die-hand feesviering. Die ellende in Limpopo agv Covid19 raak seker geen EFF-ondersteuners nie.

Hennie J ·

Wat gaan hulle daar soek of sien en wat gaan hulle regmaak? Net n klomp lee blikke wat geraas maak. MM volg asb die storie en se vir ons met welke middele die klomp gereis het en waar hulle (alles op ons koste natuurlik) tuisgegaan het. Sal ook insiggewend wees om die totale koste van die ekskursie te meet aan die sukses daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.