Porterville se Saaiprojek: Eers babatreë, daarna wins vir almal

Tydens 2019 se terugvoervergadering op Porterville, staan (van links, agter): Gareth de Bruin (Kaap Agri); Willem Engelbrecht (hoof: Hoërskool Porterville – begunstigde); Johan de Lange (Kaap Agri); Pieter du Plessis (stigterslid); Cobie Liebenberg (stigterslid); Cedric Zincke (Porterville Primêr – begunstigde) en Louis Coetzee (Kaap Agri). Voor, van links: Lerina Nel (Kaap Agri); Ester Schreuder, Alice Kok en Elaine Muller (almal van Badisa – begunstigde); Anita Odendaal (ACVV, Huis Nerina – begunstigde) en Wayne Dirks (voorsitter – Porterville Gemeenskapsvereniging). (Foto: Verskaf.)

Wanneer laas kon ons lees dat ’n hele dorp se mense saamwerk en koring plant en alle wins terugploeg na instansies wat werk met behoeftige en kwesbare mense? Porterville se Saaiprojek het die afgelope 16 jaar reeds meer as R1 miljoen aan noodhulp toegesê. Twee stigterslede gesels met Sarie Marais-Nell.

“Vroeg in 2000 het ons kerke sulke millenniumboodskappe gehad. Só het ons gemeente ons uitgestuur met die uitdaging van diensbaarheid,” vertel Pieter du Plessis (78), afgetrede boer van die kontrei.

“Dit het veroorsaak dat ek ernstig geloop en nadink het, gesoek het na planne; hoe kan ons in ons eie omgewing armoede verlig?

“Ek en oudskoolhoof Cobie Liebenberg het vergader en mekaar gevra hoe kan ons so iets saam aanpak?

“Ons het met klein treetjies begin en die Deernis 2000-projek van stapel gestuur: ’n sopkombuis. Later het tweedehandse klere gevolg.”

Heeltyd was die twee manne aan’t soek na ’n sterk, werkbare projek, tot ’n oop stuk meentgrond hul oog vang.

“In ’n proses sedert 2003, kon ons die projek ontwikkel tot iets wat werk: Ons saai koring op hierdie grond van 25 hektaar sonder oordonderende uitgawes omdat borge vir die grootste deel van die saai- en oesproses instaan. Die personeel van Kaap Agri op Porterville verskaf ’n magdom landboukundige en administratiewe dienste en hulle hanteer ook die bemarking en verkoop van die koring.”

Liebenberg en Du Plessis het van meet af aan daarvoor gesorg dat ’n verteenwoordigende komitee die projek bestuur, en die borge gekry wat help betaal vir die koring, bemesting en verryking van die grond, bespuiting, oesversekering, die boekhouding en ook vir die meganiese deel – die plant en oesproses. Só het dit moontlik geraak om maksimumwins uit die projek te haal.

Die meeste borge steek hul hande diep in hul sakke, met die langtermyndoelwit om die gemeenskap se welsyn doelgerig te bevorder. Party borge verskaf dienste en produkte teen kosprys, ander lewer bydraes van selfs R40 000 per jaar.

Terwyl die wenresep treetjie vir treetjie ontwikkel het, het die komitee besluit dat die geld jaarliks in vier gelyke dele toegesê word aan die dorp se twee skole, die ouetehuis en Badisa, die maatskaplike welsynsorganisasie.

“Met die heel eerste skenkings aan Badisa, kon hulle hul motortjie se herstelwerk betaal. Een skool kon lugreëlaars insit. (Weet julle hoe bitter warm raak dit op Porterville, hier aan die voet van die Groot Winterhoekberge?)

“Deesdae kan die skole besluit of hulle ’n ekstra skooltoer met hierdie donasies wil reël, of ander projekte tot voordeel van die skool wil aanpak. Tydens skooltoere voorsien hierdie geld dikwels ook die nodige sportdrag of aanvullende sakgeld aan die ware behoeftige kinders op toer,” verduidelik Oom Pieter.

Hoewel die jaarlikse skenkings in die verlede kleiner was, ontvang die begunstigde organisasies deesdae rondom R50 000 per jaar.

Hyself was nog nooit voorsitter van die Saaiprojekkomitee nie, hoewel hy en Liebenberg reeds 16 jaar op die komitee dien.

“Dis maar hoe ons bestuurstyl werk.”

Met die terugkyk klink dit nou maklik, maar dit het tyd geneem om by die wenresep uit te kom, verduidelik beide manne. Dit het ook behels dat die stuk grond waarop hulle koring verbou, in ’n stadium verskuif moes word, verder weg van die dorp omdat onnadenkende inwoners soms rommel tussen die koring laat beland het. Beide beklemtoon die waardevolle ondersteuning wat die leiers van die Bergrivier-munisipaliteit deurentyd bied.

Pieter du Plessis (links) en Cobie Liebenberg (regs) oorhandig die Saaiprojek se jaarlikse tjek aan Cedrick Zincke, die skoolhoof van Porterville Primer, met ‘n vorige fondsoorhandigingseremonie.
(Foto: Verskaf deur Kaap Agri.)

Op ’n hittige somersdag is Liebenberg (75) besig om sy huis se dak te verf toe hy ’n tydjie afstaan om meer te vertel van Porterville se Saaiprojek.

“Die rede waarom die Saaiprojek so goed werk, is omdat almal wat hulle hiertoe verbind, hulself ook verbind tot ’n positiewe ingesteldheid. Ons wenresep is om volle vertroue in mekaar te hê en om sonder verskuilde agendas te werk. Komiteelede moet ’n gevoel hê vir die opheffing van mense en ons duld geen politiekery nie.

“In 2019 het ons reeds die R1 miljoen-kerf (vir fondse toegeken) verbygesteek. Jaarliks, tydens ’n algemene vergadering, doen die vier begunstigde instansies verslag oor hoe die geld gebruik is en kry die borge erkenning vir hul insette.

“Ons het twee groot vereistes: Die geld moet op ’n deursigtige wyse bestuur word, en daar mag geen sent van een jaar na ’n volgende boekjaar oorgedra word nie. Begunstigdes moet dus alle geld aanwend tydens ’n betrokke boekjaar.

“Dit is in ware wese ’n gemeenskapsprojek. Aanvanklik het die mense van die departement korrektiewe dienste hul werktuie vir ons beskikbaar gestel vir die saai- en oesproses, totdat ons ander werkbare oplossings kon uittoets. Vir die laaste drie jaar plant en monitor en oes Stoffel du Plessis die 25 ha se koring sonder om R1 daarvoor te eis.

“Ons doen dit alles vir die gemeenskap. Die Here is regtig ons anker, ons kan nie anders as om dit op ’n Christelike grondslag te doen nie,” sê dié manne wat nog baie nuwe planne het, soos die vestiging van ’n gemeenskapstuin vir die dorp se mense. “Alles begin maar met babatreë. Maar kyk dan net hoe mooi het die Saaiprojek in 17 jaar gegroei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Engela ·

Wat ‘n wonderlike projek! Baie geluk en mag dit vorentoe net voorspoediger gaan.

Yvonne ·

Hulle belangstelling le elders…nie by iets wat werk nie????

Vriendelike Frikkie ·

Hou hulle weg asseblief. Sodra hulle sien daar word geld gemaak gaan hulle weer rade en komitees aanstel en al die geld laat verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.