Poskantoor ‘bankrot’ na nóg ʼn enorme verlies

Die poskantoor het weer ‘n enorme verlies gely. (Argieffoto: Maroela Media)

Die Poskantoor is finansieel insolvent omdat dit teen ʼn verlies bedryf word, ʼn ernstige kontantvloeiprobleem het en sy skuldeisers boonop voortdurend aan die deur hamer. Dit terwyl die Poskantoor daarop aandring om alle pakkies wat minder as 1 kg weeg, sélf af te lewer.

Volgens die sukkelende instelling se jaarverslag het hy ʼn verlies van sowat R1,8 miljard vir die 2019-’20-boekjaar gehad – ʼn allemintige toename van die R1,1 miljard se verlies wat hy die vorige jaar gely het.

Die vooruitsig vir nuwe boekjaar lyk selfs meer beroerd.

Tia van der Sandt, voorsitter van die Poskantoor se raad, sê die sukkelende ekonomie het sy tol op die Poskantoor se inkomste geëis en bygedra tot die verlies. Dit is vererger deur faktore soos die toenemende afname in die stuur van posstukke – die poskantoor se grootste bron van inkomste.

Daar is boonop groot onbestendigheid in die leierskap van die poskantoor. Verskeie uitvoerende hoofde het die afgelope paar maande hul goed gepak en talle sleutelposisies is steeds nie gevul nie.

“ʼn Onvolhoubare kostebasis wat oor ʼn lang tydperk sonder behoorlike oorweging vir ʼn werkbare bedryfsmodel opgebou is, staar die Suid-Afrikaanse Poskantoor in die gesig,” sê Van der Sandt.

Enkele ligpunte in die Poskantoor-verhaal is die vermoë om voertuiglisensies te hernieu wat nou na alle provinsies – behalwe die Wes-Kaap – uitgebrei is. Die Poskantoor het ook sowat 2,6 miljoen handboeke by meer as 3 800 skole afgelewer en hoop om dié diens in die toekoms uit te brei.

Tydens die streng inperkingstyd wat weens die Covid-19-pandemie in werking gestel is kon “geen posaflewering” gedoen word nie en die poskantoor werk steeds “onophoudelik om die gevolglike agterstand uit te wis”.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal (OG), het verlede maand in ʼn verslag bekend gemaak die Poskantoor het meer as R200 miljoen onregmatig bestee, terwyl nuttelose en verkwistende besteding meer as R26 miljoen was, het die SABC berig.

Volgens die OG se verslag is die Poskantoor kommersieel insolvent en kan hy nie sy algehele skuld van meer as R5 miljard betaal wanneer dit in verskillende stadiums betaalbaar word nie.

Verskeie poskantore moes die afgelope ruk boonop hul deure sluit – etlike daarvan is onlangs weer heropen – omdat die Poskantoor nie die verhuurders betyds betaal het nie.

Cameron MacKenzie, die DA se woordvoerder oor kommunikasie en digitale tegnologie, sê die Poskantoor is nie in staat om ʼn funksionele, doeltreffende en betroubare pos- en pakkiediens te lewer nie. En hy sê min. Stella Ndabeni-Abrahams moet die skuld vir die Poskantoor se finansiële ineenstorting kry.

“Haar inmenging by die Poskantoor se bedryfsake is welbekend. Dit sluit in die skorsing van die destydse waarnemende uitvoerende hoof, Lindiwe Kwele, en die verwydering van die raadsvoorsitter wat versuim het om die minister se bevele oor die aanstelling van sleutelwerkers in werking te stel.”

Die Poskantoor is boonop in ʼn hofstryd gewikkel oor sy voortgesette monopolie om pakkies wat minder as 1kg weeg, af te lewer. Sommige kenners het reeds gesê die uitwerking daarvan op private koeriers en e-handelsondernemings sal rampspoedig wees.

Die Poskantoor het in 2018 gesê die private koeriermaatskappy PostNet tree strydig op met die Poswet wat bepaal dat die poskantoor die alleenreg het op die aflewering van pakkies van 1 kg of minder. Die onafhanklike kommunikasieowerheid (Okosa) se klagte- en nakomingskomitee het bevind dat PostNet inderdaad dié wet oortree en sy aflewering van pakkies van minder as 1 kg teen Maart verlede jaar moet staak.

PostNet en die Suid-Afrikaanse Spoedposvereniging (SAEOA) het in die hooggeregshof teen dié uitspraak geappelleer en die saak word na verwagting volgende jaar aangehoor.

MacKenzie sê die Poskantoor het in die vorige boekjaar ʼn subsidie van R475 miljoen ontvang om sy universele diensverpligting na te kom. Dít terwyl sy monopolie op items minder as 1 kg veronderstel is om hierdie verpligting te help nakom.

Hy sê ten spyte van die steun van die regering vra die Poskantoor steeds vir die monopolie om volgehou te word.

Die Poskantoor het sowat 530 takke, talle daarvan in diep landelike gebiede.

“As die Poskantoor, soos hy tans bedryf word, met die grootste kleinhandelvoetspoor in die land, nie winsgewend en regverdig in ʼn oop mark met strawwe kompetisie kan meeding nie, moet dit dalk glad nie bestaan nie.”

MacKenzie sê meer mededinging en meer rolspelers is nodig, nie ʼn monopolie wat afgedwing word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

casper ·

Aag — Postnet kan maar net aanklop.
Ek maak graag 0.25 -0.5 –0.75 kg baksteentjies om in die pakkies in te sluit.

Misky ·

Dankie Casper, ek nou lekker gelag en dis ‘n briljante idee!!!

Anoniem ·

Ek dink met nostalgie terug na die dae van briewe, telegramme, poskantoor spaarboekies, seëls, handsentrales en die vriendelike Poskantoor personeel. “Those were the days”.

Helena ·

Ons bly op die platteland en by ons poskantoor word pos 1x per week sorteer. Soms tot 2weke. Pakkies van oorsee soos bv Wish arriveer in die land en vat dan tot 3maande om by die plaaslike poskantoor uit te kom.

Madz ·

Dis omdat daai pakkies eers gescan word vir eie gewin…. ja ek IS negatief!

Tubac ·

Ek beaam dit. Kyk maar hoeveel van die pakkies kom wel by die eienaars uit.

Dries ·

Gaan kyk net hoe gaan dit in poskantore al vir jare dan sal jy weet hoekom is hulle bankrot

Vettiemaragartos ·

Ag komaan! Aanvaar vir 1 keer in jul lewe verantwoordelikheid. Die poskantoor was al laaaaaaaaank voor Corona bankrot. Weens wanbestuur en swak diens!

Madz ·

Another (government institution) bites the dust…. Nothing new – sit back and watch them ALL FALL DOWN!

groenboer ·

Mens sou nou dink as die Poskantoor swaar afhanklik is van die stuur van posstukke, mens baie flink en vinnig gehelp sou word wanneer jy pakkies probeer stuur. Dit is immers hoe besighede geld maak.

Waarom dan die trae, lomerige, onbeholpe, onbekwame en soms openlik onbeskofte diens wat ek telkens van die poskantoor ontvang?

Vanessa ·

Ek sal nooit weer my voertuiglisensie by ‘n poskantoor hernu nie. Dit is die slegste diens wat ek ooit ontvang het. Die mense wat jou help vat ‘n halfuur net om die inligting op die rekenaar te sit en dan nog ‘n halfuur om jou kleingeld te gee. Dit nadat jy vir 2 ure in die ry gestaan het. Ag nee wat. Die meeste van die personeel is so ongeskik en kan nie behoortlik praat nie. Dankie tog ek is klaar met hulle!!!!!!!!

George ·

Ek sien ‘n drastiese styging in die versending van 1,1 kg pakkies in die naby toekoms?

Francois Le Cochon ·

Jy meen 100g pakkies, elk met n liter gratis Coke.

Bart-Man ·

Alles wat die staat bestuur is bankrot. Alles wat n BEE certificate het word ondersoek. Alles wat ANC stem kry n Grant. En alles wat hier bo genoem word is verslaaf aan KFC.

My siening ·

Om te dink voor ANC het ek by die poskantoor gespaar en vertrou maar in 1989 het ek alles daar onttrek want die toekoms was duister daar en vandag bewys dit ANC besigheid is groot risiko.

Jessey ·

Bel die Kubane hulle sal weet wat om te doen.

Nee op meer ernstige noot. Ek het gister ‘n pakkie ontvang wat Desember 2020 gepos is. Geen mens of ekonomie kan so werk nie

Gato ·

Die meeste van die Poskantoor se personeel wat die publiek bedien is onbevoeg en ongeskik. By ons dorp in Limpopo kan jy nie jou voertuig lisensie by die Poskantoor hernu nie want hulle Natis stelsel is al vir maande buite werking.
Maak asb die Poskantoor tot niet want dit is ‘n geldput net soos die SAA. Biljoene verdwyn daarin elke jaar en eintlik is dit net ‘n werkskeppings organisasie vir kaders van die ANC.
E-pos en privaat koerier dienste is 1000 maal meer effektief as die Poskantoor.

Kokerboom ·

Daar moet wetgewing wees teen skandalige wanaanwending van belasting betalersgeld. Kla die hele ANC aan!

Johanncb ·

Die ander bydraende faktor vir bankrotskap, is diefstal en bedrog!

Sandra ·

Ek het nou presies aan dit gedink. Hulle het nie geld nie, maar is in ‘n hofstryd gewikkel oor die onder 1kg pakkies. Hulle het geld vir die stupid beuselagtighede, maar hulle funksioneer op ‘n verlies. Hulle wil eerder reg wees, as finansieel standvastig. Die hofgeding kos hulle seker ‘n groot klomp geld. En hulle is duurder as Postnet. So as dit ek is, sal ek net ‘n bietjie ekstra in die pakkie sit om dit net oor die 1kg te neem. En buiten dit, jou pakkies kom nooit by hulle bestemming aan in een stuk nie.

Johanita ·

By ons poskantoor in Kuruman is dit al te gevaarlik om pakkies af te haal. Boonop het my vorige een weggeraak…..

Ovelia ·

Maak weer die poslantore oop net vir pos. Dan ksn ons dt weer gebruik. Sasa en grant maak dir oorvol en dis nie goed vir beskerming teen covit ni

Anoniem ·

Die Poskantoor mense wat geld onregmatig bestee het moet SUMMIER vervolg word en aan elkeen ‘n oranje pakkie gee!!!

Tubac ·

Ja!gaan nou goed nadat die vorige CEO besluit het om om die pad te vat. Was mos uitgewerk.

Jack ·

Hy is so vrot dat hy nie in n vryemarkstelsel kan kompeteer nie. Nou wil hy die kommunistiese stelsel van dwang gebruik. Gaan niks help nie. Sorry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.