Gooi Kerspakkies nou al in pos

Die Poskantoor vra mense wat Kerspakkies per see- en landpos buiteland toe wil stuur, moet dit sommer nou reeds doen. Foto: Wikipedia

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor het kliënte gemaan om Kerspakkies wat hulle met seepos oorsee wil stuur, so gou moontlik in die pos te kry.

“Dit sal verseker dat die pakkette hul bestemming betyds vir Kersfees bereik,” sê Johan Kruger, Poskantoor-woordvoerder. “Suid-Afrika ervaar op die oomblik bitter min vertragings met posstukke wat die land verlaat, maar die pakkies moet tydrowende klaringsprosedures ondergaan in die land waarvoor dit bestem is.”

Hy herinner afsenders daaraan dat die Poskantoor nie toegelaat word om items per lugvervoer te stuur wat litiumbatterye bevat nie. “Mense moet asseblief seker maak dat hulle nie items pos met dié batterye daarin nie. Alle lugpositems word met X-strale en skandeerders vir hul inhoud ondersoek en hierdie items sal na seepos herlei word.”

Kruger sê lugpospakkies vir Kersfees moet op die laaste teen 1 Desember gepos word.

Vir see- en landpos moet kliënte op die volgende datums let:

  • Eilande in die Atlantiese Oseaan (Tristan da Cunha, Ascension en Sint Helena): teen 31 Oktober.
  • Noord- en Suid-Amerika, die Midde-Ooste, Verre Ooste, Asië, Groot-Brittanje en Europa: 31 Oktober.
  • Eilande in die Indiese Oseaan (die Seychelle, Comore, Mauritius en Réunion: 27 Oktober.
  • Afrika (Ivoorkus, Ghana, DRK, Senegal, Kameroen, Nigerië, Gaboen, Kenia, Tanzanië, Uganda, Burundi, Rwanda, Madagaskar, Angola, Malawi en Zambië): 1 Desember.

Buurlande van Suid-Afrika (Botswana, Lesotho, Mosambiek, Namibië, Swaziland en Zimbabwe): 8 Desember.

Kruger vra afsenders moet seker maak pakkies word stewig verpak aangesien hulle in grootmaat vervoer word. “As jou posstuk nie die houer [waarin jy dit pos] vul nie, vul dit op met verpakkingsmateriaal, soos versnipperde papier, wat as skokbreker kan dien.”

Hy waarsku kliënte moet sekermaak die stukke wat hulle wegstuur, is wettig in die land waarheen dit gepos word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

frans ·

vroegtydig pos laat hulle minder nodig het om te koop vir die familie.

NET SO ·

My thoughts exactly – blikkies kos van Kaapstad na PTA het so beskadig hier aangekom dat ek dit moes wegmaak

Spietnik ·

Ja/nee, Poskantoor lewer af kom wat wil al is die 6 maande later!!!!

Pat ·

Pakkie wat Desembermaand se stempel op het het Maandag by my uitgekom. Is die swakste diens denkbaar.

Nita ·

Ag nee wat spaar julself die geld en moeite. N pakkie wat ek met Speed Services courier oornag pos gestuur het, het na 3 weke nog nie sy bestemming bereik nie.

Anelle ·

Enige iemand wat met die poskantoor n pakkie wil pos is van hulle kop af….

Estelle ·

Gebruik PEP se Paxi diens nou al maande lank. Sakkie vir R50 kan ek tot 10kg vul en dis binne 7 dae afgelewer by die ontvanger se naaste Pep.

Andre ·

Hulle bedoel seker pos nou vir 2019 se kersfees. Moet ook wel se. Ek het vandag vir die eerste keer in n maand pos ontvang. So hul raak darem beter.

Akademi Buktu ·

Vriend in die VSA het 2½ jaar gelede vir my iets in die pos gesit. Nooit by my uitgekom. Maande gelede pos hy weer vir my twee boekmerkers. Nog nie gesien nie. April vanjaar bestel ek ‘n penmuis vir my rekenaar uit die buiteland. Twee maande later stuur die mpy dit opnuut omdat ek niks ontvang het nie. Steeds niks hier uitgekom. Meneer Kruger, ek dink die Poskantoor moet liewers swyg oor hul sogenaamde dienslewering.

John ·

… is dit dieselfde mense wat Sassa oorgeneem het… met dieselfde bestuur. Die Sassaiete moet maar kamptoerusting aanskaf en proviant want die wagwoord vir so ‘n ekspedisie gaan ‘Wag’ wees… Maklik om te onthou.

Ietje ·

Hy praat nie van dieselfde Poskantoor wat ek gebruik nie. Ek wag nou nog vir pakkies wat in April gepos is in Bloemfontein en DIT is in ons eie land?? My verliese aan pakkies net in 2018 is al oor R7000-00. Poskantoor sien en gebruik ek net in uitsonderlike gevalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.