Poskantoor in Deneysville beroof

Die rowers het in ‘n wit Volkswagen Gholf gevlug. (Foto: Bernardt van Niekerk / National Crime Assist)

Bernardt van Niekerk, ’n lid van die National Crime Assist (NCA)-reaksiegroep, het Donderdagoggend uit ’n apteek in Deneysville in die Vrystaat gestap toe hy opmerk dat ’n vuurwapen, glo ’n AK-47, ’n ent verder op hom gerig is.

Die man met die vuurwapen was een van drie gewapende rowers wat besig was om die plaaslike poskantoor op die hoek van Main- en Voortrekkerstraat te beroof.

“Twee rowers was binne en een het buite gewag – dis die een wat die AK-47 op my gerig het.”

Van Niekerk, wat agter ’n pilaar gaan staan het, kon daarin slaag om ’n foto te neem van die wit Volkswagen Golf waarin die rowers gevlug het, en die registrasienommer neer te pen.

Hy het NCA ontbied en die foto en inligting op verskeie veiligheidsgroepe gedeel. Van Niekerk het ook gevra dat mense al die polisiestasies in die omgewing moet kontak.

Die polisie in Deneysville het die voorval bevestig en gesê dat die rowers binne vyf minute in en uit was.

“Hulle het ingestap, mense met vuurwapens gedreig en geëis dat die kluis oopgesluit word. Hulle het die sak geld gegryp en gevlug.”

Die rowers het glo R250 000 gebuit, wat die polisie nie by navraag kon bevestig nie. Die voorval word egter ondersoek en niemand was teen Donderdag in hegtenis geneem nie.

Die polisie kon ook nie bevestig watter vuurwapens gebruik is nie, maar sê dat daar twee groot vuurwapens en een klein vuurwapen betrokke was. Niemand is tydens die rooftog beseer nie.

Mike O’Connell (71), ’n inwoner wat al sowat nege jaar in Deneysville woon, sê inwoners is bekommerd oor die toename in misdaad en die polisie se optrede.

“Dit gaan nie goed in Deneysville nie. Misdaad neem toe en ons sien geen polisieteenwoordigheid nie.”

O’Connell het verskeie voorbeelde genoem wat groot kommer onder inwoners wek, waaronder die beweerde teistering van Amanda de Goede (54) deur Deneysville-polisie asook die moord op Wilna Smit (53) in Mei vanjaar.

Maroela Media het berig dat Smit op 16 Mei leweloos in haar huis gevind is. Sy is verwurg. Hoewel die polisie die saak ondersoek, het die familie ook aangedui dat hulle tans geld insamel om ’n privaat speurder aan te stel.

’n Ondersoek is ook van stapel gestuur nadat De Goede verlede week in hegtenis geneem is toe sy die polisie na haar huis ontbied het om ’n klag van diefstal teen haar huiswerker te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Michal ·

inside job, kom ons bet daarop. Poli graaf die wat daar werk

Persheks Adri ·

Ek glo dis onwettige vuurwapens wat gebruik is! Dit gaan in elke dorp so en niemand is veilig nie. Hoedeman, neem kennis van dit en weet sommer ons gaan nie ontwapen word nie klaar. Kriminele het meer regte en onwettige wapens

Ovelia ·

Dit gaan net slegter met Deneysville. Begin by die polisie stasie. Is hul opgy vir die taak. Wil hul hul werk doen

Tanniepetoors ·

Alweer Deneysville. Die bevelvoerder slaap dag en nag. Hopelik is hy/sy en die hele stasie se personeel binnekort werkloos, want van polisie werk weet hul skynbaar net mooi niks.

Mallie ·

My man het een Sondag op n Sondag middag rit geneem en gaan wys waar Deneysville is, ek was nog nooit daar nie en het nie geweet waar die dorp is nie. Ek kan nie glo dat daar n poskantoor is nie. Die strate en die dorp is so verwaarloos. Ek was geskok om te sien hoe die plek lyk. Daar is sulke oulike mense wat daar woon.

Sêmanet ·

Wie beroof nog poskantore? Ons weet mos dat hulle almal feitlik bankrot is. Hoe kan ‘n poskantoor so “baie” geld in die kluis hê?

Andries ·

Die polisie is te besig om onskuldige vrouens te arresteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.