Poskantoor kom stadig reg

Argieffoto

Die Poskantoor is stadig aan die herstel na jare lange swak bestuur, het die parlementêre portefeuljekomitee oor telekommunikasie en posdienste Woensdagoggend gehoor.

Die bestuur van die Poskantoor het hul jaarverslag aan die portefeuljekomitee voorgehou, en hoewel dit nog maar beroerd gaan, is die herstelkurwe onteenseglik opwaarts.

Die Poskantoor het vir die eerste keer in sy bestaan ʼn ongekwalifiseerde oudit ontvang, en ongemagtigde besteding het met 64% afgeneem, van R308 miljoen verlede jaar tot R109 miljoen vanjaar.

Die suksesvolle aflewering van pos is steeds redelik laag, maar het vanjaar van 73% tot 87% verbeter.

Die Poskantoor het straataflewerings vir posdienste na nie minder nie as 655 860 nuwe straatadresse uitgebrei, en ʼn steeds lae 48% van sy diensleweringsteikens bereik, maar dis  bykans ’n verdubbeling vergeleke met die 27% van verlede jaar.

Die Poskantoor meen ook die Posspaarbank se agteruitgang is gestuit en dat dit al hoe beter met dié bank sal gaan.

Hoewel die Poskantoor sy personeel met 610 verminder het tot 18 119, het geen stakings vanjaar plaasgevind nie, in teenstelling met die afgelope paar jaar.

Die Poskantoor is saam met die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap (SASSA) aangewys om voortaan welsynstoelae uit te betaal – ʼn groot stap vorentoe.

Die finansiële posisie van die Poskantoor het merkbaar verbeter. Hoewel inkomste weens die verminderde gebruik van die posstelsel met 4,6% afgeneem het, van R4,6 miljard tot R4,4 miljard, is dit net-net oortref deur die afname in uitgawes – met 7% van R5,6 miljard tot R5,2 miljard.

Die beteken dat operasionele verliese met 17% (R141 miljoen) afgeneem het, van R815 miljoen tot R674 miljoen.

Die netto verlies vir die jaar het met 79 miljoen (8%) afgeneem, van R987 miljoen tot R908 miljoen.

Met betrekking tot die huidige boekjaar wil die Poskantoor sy finansieringsmeganismes finaliseer om likiditeitsuitdagings te takel, belê in kritieke infrastruktuur en sy e-handelsmerk uitbrei.

Die Poskantoor wil groter stabiliteit in sy arbeidsverhoudinge verseker en fokus op die uitbou van die Posspaarbank, het die Poskantoor se bestuur aangedui.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Sarel ·

Moet asb. nie dat die Vakbonde dit hoor want dan staak hulle weer.

Estelle ·

My vraag is: Hoekom het dit in die eerste plek verswak? Ñ instansie wat 100% werkend was en betroubaar was en dis tot die grond af gebreek. Al verbeter dit ook hoe, lakse en kriminele elemente sal dit altyd ñ swak opsie maak.

Stormjaers ·

Die poskantoor is swak. Ek wag nou al 5 maande vir pos van nederland. Hulle sal nie eers moeite doen om vir my te se wat aan die gang is nie. Sal hulle ooit regkom?

Amy ·

Ek het verlede jaar byna vier maande gewag vir ‘n pakkie van Switserland af.

Grassie ·

Daar is 3 jaar gelede twee pakkies van Australië af aan my gepos, per aangetekende pos. Die Ozzies se posdiens het rekord daarvan tot dit in SA aangekom het, en daar eindig alles. Niks het by my uitgekom nie. In die een pakkie was ‘n katrol (vir hengel) wat ek gretig voor gewag het. ‘n Poskantoor @#%&+em vang seker nou daarmee vis.

Buspos ·

Wie, wie in hierdie land, stuur vandag briewe per pos?

Laat ‘n ondersoekende joernalis asseblief ‘n foto van daardie persoon plaas.

Amy ·

Ek het verlede jaar byna vier maande gewag vir ‘n pakkie van Switserland af.

Amy ·

Ek doen!!!!

Het verlede jaar ook drie kerskaartjies in die pos gekry

Freek ·

Dankie Mark Barnes. Sonder jou was hulle so bankrot soos die ander staatsbeheerde instellings.

Judge Dredd ·

Het nogsteeds verlies van 674 miljoen rand gely.
So hulle is bankrot as dit nie vir regering “bailouts” was nie.

Engela ·

Stem saam. ‘n Groot dankie aan Mark Barnes. En aan al die doemprofete, gaan soek iets anders om oor te kla.

Karen ·

“Ongemagtigde besteding” was NET R109 miljoen???? R109 000 000 ????
Bestee op wat? Of op wie?

Casper Labuschagne ·

Die poskantoor kom inderdaad nie reg nie, nie eers stadig nie. Inteendeel, vanaf my beskeie perspektief versleg dit, en baie vinnig daarby.

Vandag, op die 16de moet ek state uitstuur in hierdie maatskappy. Maar ek kon slegs state per epos uitstuur, en nie die 1,200 gedrukte state aan diegene sonder epos nie want die poskantoor in Kroonstad het nog gefrankeerde koeverte, nog posseëls beskikbaar. Nie by die hoofposkantoor of die twee satelliet poskantore nie, Nie vandag nie, nie laas week nie, nie aan die begin van die maand nie, nie op hierdie dag verlede maand nie.

Sulke goed is absoluut onaanvaarbaar, dit mag eenvoudig nie in die 25ste grootste ekonomie ter wêreld gebeur nie, maar hier sit ek nou, ek kan by niemand hieroor kla nie, tog sê die opskrifte dat die poskantoor stadig regkom? Ek wil hardop hierop skreeu, bog!

Ek is heeltemal radeloos en daar is klaarblyklik niemand of nêrens om hieroor te kla nie, daar word eenvoudig aanvaar dat sulke goed gebeur, want dit is Afrika hierdie.

Penellope Jones ·

Hallo Casper. Dalk het jou klante sonder epos adres wel whastsapp en kan jul ooreenkom met hul dat jy n foto stuur vd staat? Ek is seker daar is iewers in iemand se brein die antw op jou probleem. Dan kan jy sommer sien as hul dit ontvang het?

Casper Labuschagne ·

Penellope, Daar is ‘n groot hoeveelheid kliënte wat steeds ‘n gedrukte staat verkies. Party het wel slimfone en WhatsApp, ander nie. Ons stuur die balans uit as SMS en het ‘n dame wat ook nou kliënte bel en ons bode lewer party state af. Die ding is dat die toestand in die poskantoor absoluut onaanvaarbaar is, hierdie land stort in duie en niemand gee ‘n flenter om nie. Wie ook al uit hierdie land kan kom, moet nou vlug, want dit gaan vorentoe oneindig slegter gaan want daar is hoegenaamd geen wil om die verval te stuit nie, geen verantwoordelikheid nie.

Marble Hall ·

Ons Poskantoor in Marble Hall is wonderlik, daar is oulike mense wat daar werk, altyd vriendelik en hulpvaardig. Ek neem tot die lisensies daar uit! Baie beter as die lisensie kantoor waar jy vir ure lank kan sit op ‘n bankie en wag. Ek is baie bly die Poskantoor werk hard om hulself weer te kan bewys. Ek wens al die staat instellings kan begin besef, hulle is hier om ‘n diens te lewer aan die publiek en om gekwalifiseerde mense in diens te neem. Mense wat WIL WERK en ‘n verskil in ons land wil maak.

wilma ·

Toe ek onlangs voertuiglisensie by Sinoville Poskantoor wou hernu, het hulle nie die nodige papier gehad nie!

Casper Labuschagne ·

Ek moet periodiek klein pakkies versend na Noorweë. Ten spyte van die lugpos seëls, die Franse Par Avion daarop geskryf, die korrekte Noorweegse adres wat duidelik as “Norway” gemerk is, of die R80 posgeld, kom die pakkies telkens terug vanaf ons plaaslike poskantoor met ‘n plakker wat sê, “No valid postal code supplied.”

As ek dan by die poskantoor hieroor gaan kerm, sal een bepaalde amptenaar van ‘n “voorheen benadeelde klassifikasie” dan elke keer vra, “What is it worth to you to get this package to Norway?” asof ek omkoopgeld aan hom moet betaal sodat dit wel gestuur kan word. Ek het dit meermale gerapporteer, maar die enkele wit personeellede by die poskantoor kyk dan eenvoudig weg en ignoreer my – ek vermoed hulle weet dat hulle groot probleme sal optel as hulle teen hul kollega optree.

Rina ·

Daar is geen geen verbetering, net slegter. Was gister na my posbus vir verjaarsdagkaartjie van Skotland. Kon nie oopsluit nie. Ek het SAPO geskakel en dame sê vir my “Dis te gevaarlik daar om pos af te haal” .. Sy het presies geweet waar. “Hulle sal op ‘n ander plek vir my posbus gee”. Daar is geen kennisgewing dat die spesifieke busse gesluit en ontoeganklik is nie. Sy kon my nie sê waar ek my pos kan gaan afhaal nie en sou ondersoek instel en ook laat weet waar nuwe bus sal wees. Ek wag nog steeds vir haar oproep.

Mia ·

Die Poskantoor kan nie eers posbusse bestuur nie. Kan sedert Mei nie my posbus oopsluit nie. Die epos adres op die webwerf bons terug. Die no wat geskakel kan word word na 10 min se wag nie deurgeskakel. Skakel na die tak vd Poskantoor is hulle altyd van lyn af. Besoek aan d tak – met inhandiging van afskrif van kwitansie lewer ook nie sukses nie. My simpatie aan d persone wat SASSA betalings moet ontang.

KLIPPIE ·

Poskantoor het wel hierdie jaar gestaak – ek wag al 6 maande vir n pakkie van oorsee – die pakkie moes al 5 maande terug hier gewees het!
Hulle diens is treurig verby !

Breylia ·

Daar was wel ‘n staking hierdie jaar by die Poskantoor. Ek wag al vanaf Junie vir my pakkie vanaf Amerika. Tot vandag toe nog niks gekry nie alhoewel hulle genoem het dat die agterstand einde September weg gewerk sou wees. Op hulle Faceboek blad kan ‘n mens sien hoe kla almal oor hulle swak diens.

Netso ·

Poskantoor kom stadig reg met wat presies? As hulle nie besig is om te strike nie dan toi-toi die goed tot hulle weer niks doen nie!

AttieNo1 ·

Moet die “ding” om vadersnaam nie red nie, laat dit sterf. Ons het e-pos, DHL en ander privaatsektor oplossings. Al kom dit nou ietwat reg gaan dit ons as belastingbetalers altyd net geld kos.

Alida ·

Ai mense die hele SA het n “dip” gevat tenminste probeer die Poskantoor. Ek moet eerlik wees die poskantoor in my area het nog altyd goeie diens gelewer. Ons het almal epos en al die ander goed maar ons ouer mense lief dit om n geskrewe brief deur die pos te kry. Lekkerder as lekker.

Carolina Steenkamp ·

Ek het op die 11de Augustus ‘n dringende posstuk vanaf George na Die Meester van die Hooggeregshof in PTA gepos. Ek het geregiatreerde diens gebruik, dokumente se sertifisering gaan verval! Posstuk lê vanaf 18 Augustus steers by Tswane mail….. Baie bekommerd asook telleurgesteld!

Susan ·

Hoe vorder hulle met die pakkies aflewering.. Wag al 6maande vir my oorsese pakkie.

Jakes ·

Geen stakings hierdie jaar nie???
Wie skryf sulke bog?
Dalk moet julle eers bietjie jul feite nagaaan voor julle sulke leuens help versprei.

Oljetter ·

Die verbetering is merkbaar. N brief uit Ierland neem nou net 5 maande . Ek was so bly om te hoor iemand het laas Krismis aan my gedink.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.