Poskantoor-reddingsplan ‘op sand gebou’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die Demokratiese Alliansie meen die sakereddingsplan vir die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) is op sand gebou en is afhanklik aan fondse wat nog nie bestaan nie.

Krediteure van die Sapo het verlede week die sakereddingsplan goedgekeur. Volgens dié plan sal 420 takke gesluit word en 6 000 personeellede afgedank word. Die plan is ook afhanklik van die R3,8 miljard-reddingsboei van die nasionale tesourie.

Die fondse is in Julie aangekondig deur Mondli Gungubele, minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, en sou in die mediumtermyn-begrotingsbeleidsrede ingesluit word.

“Ons is natuurlik bewus van die finansiële situasie waarin die ANC die republiek geplaas het: daar is nie geld nie,” sê Natasha Mazzone, die DA se skaduminister oor kommunikasie en digitale tegnologieë.

“Ek het in vandag se komiteevergadering die minister, direkteur-generaal en Sapo se sakereddingpraktisyns gepols oor die fondse. Die reaksie was dat gesprekke met die kabinet gevoer sal word. Dit beteken effektief dat die sakereddingsplan op sand gebou is en afhanklik is aan fondse wat nog nie bestaan nie. Sapo se kans op oorlewing is nou selfs meer kommerwekkend.”

Mazzone sê terwyl die regering die saak verdoesel, is die werklike implikasies van ʼn agteruitgaande Poskantoor reeds sigbaar. “Sedert die pandemie het byna 400 takke reeds gesluit. Kliënte moet ver reis om van die Poskantoor se dienste gebruik te maak. Hierby word ingesluit Sassa-begunstigdes wat, soos gister aangekondig, van volgende jaar af nie meer hul toelaes by die Poskantoor kan trek nie. Dit is interessant dat ʼn departement wat só gekant is teen die privaat sektor juis die verskillende handelaars blootstelling gee waar begunstigdes toegang kan kry tot hul toelaes. Dit is die handelaars wat moes ingryp weens ʼn gebrekkige Poskantoor.”

Mazzone sê die DA moedig Sassa-begunstigdes aan om bankrekeninge oop te maak by betroubare banke. “Só kan jy maklik van betalingsopsie verander en jou toelaag direk ontvang. Begunstigdes kan ook van die handelaars Boxer, Pick n Pay, Spar, Shoprite, Checkers of Usave gebruik maak.”

Die DA onderneem om die ANC aanspreeklik te hou vir sy tekortkomings en seker te maak dat al die Poskantoor-werkers die pakkette ontvang wat hulle verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Briljant gestel. Net jammer die lot verstaan nie die terme nie. lyk ook asof hulle nie wil verstaan nie… Hulle is mos nou die experts…

Pieter ·

Ek het vir die eerste keer in ‘n lang ruk pos by my huis gekry. Raai wat, AARTO… Dis al wat ons in Geuteng kry via pos. En nie die ou pos nie, nuut. So waar is my ou pos?

Jakes ·

Soos alle staatsentiteite omtrent 50 % meer werkers indiens het as wat nodig is, is die poskantoor dieselfde. N reddingsboei sal gegee word om stemme vir die ANC te werf. Diensvlakke sal nooit verbeter nie want die privaatsektor is ligjare voor die poskantoor.

Papsak ·

Van dat ANC oor gevat het is alles op sand gebou wat kan beter verwag word !!!!!!!

minnie muis ·

verkiesing foefie—— hou dop al die seep balle wat voor die massas se neuse gehou gaan word en ergste is die massas gaan dit glo!!!!!!

christo ·

Nog ‘n bodemlose put waarin miljarde Rande ingestort en dan bly dit ‘n mislukking. As ek korrek onthou het dat Poskantoor werkers hulleself uit ‘n werk (job) gestaak het. Die privaatsektor moes inderhaas ‘n ander manier vir aflewering van briewe dokumente pakkette ens. Nou wil die Poskantoor wéér hulle mark terug hê. Boontjie kry sy loontjie.

Lee T ·

Werkers het hulle uit werk gestaak. Staak en staak voortdurend en poskantoorgebruikers het alternatiewe soos e-pos en Postnet begin gebruik en die poskantoor vermy. Ons het het dit gedoen.

Gert ·

Vandat die Poskantoor hulle met ander twak besig hou, soos Lotto kaartjies, karlisensies en SASSA, i.p.v. om die basiese posseëls te verkoop en briewe en pakkies te versend, is hulle in die knyp.
Ek het as kind my verlustig in my posseëlversameling, nou het party takke nie eers meer ‘n 50c seël in voorraad nie!! Ai tog!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.