Poskantoor-staking: Werkers nie betaal; Poskantoor dalk bankrot

Argieffoto

Argieffoto

Duisende Poskantoorwerkers, ook dié wat nié staak nie, is nie betaal nie, en baie glo die diens val nou hééltemal uitmekaar.

Intussen duur die maande lange staking klaarblyklik voort, ten spyte van die bestuur se versekering twee weke gelede dat dit opgeskort is.

Intussen het die VF Plus gesê hy het inligting bekom wat daarop dui dat die SA Poskantoor (Sapo), nes alle ander staatsinstellings, bankrot is, en dat dit die rede is waarom personeel van die poskantoor hierdie maand, vir ʼn heel eerste keer, nie op betaaldag betaal is nie.

“Die situasie is uiters kommerwekkend, aangesien die Poskantoor een van die belangrikste nutsmaatskappye vir die land is,” het Anton Alberts, woordvoerder vir die VF Plus, in ʼn verklaring gesê. “Sonder die Poskantoor gaan kommunikasie en sake-ondernemings skade ly, aangesien baie kommunikasie steeds nie-elektronies geskied.”

Die jongste verwikkeling kom op die rug van ʼn verlammende staking wat die instelling aan die begin van die jaar reeds sowat R100 miljoen aan verlore inkomste gekos het. Boonop was die staking na bewering juis oor geld wat aan werknemers verskuldig is en die feit dat die Poskantoor nie meer as 0% kon aanbied tydens loononderhandelinge nie.

Volgens die VF Plus se inligting het werkers op Woensdag 24 September [vandeesweek] oor ʼn radiostasie gehoor hulle sou nie die volgende dag betaal word nie. Dit is gister per elektroniese boodskap met al die Poskantoor-personeel bevestig. Die betaling is vandag [Vrydag] eers gedoen.

Daar word nou gevrees dat die situasie tot hernieude stakings kan lei en die groot vraag is wat in die komende maand gaan gebeur en of daar teen die einde van Oktober geld vir salarisse beskikbaar gaan wees.

Alberts het bygevoeg die VF Plus gaan vra dat die Ouditeur-Generaal (OG) die aangeleentheid ondersoek, aangesien dit dui op ʼn moontlike verbreking van die Wet op Finansiële Openbare Bestuur.

Intussen het die Poskantoor bevestig bedrywighede het na normaal teruggekeer by die possentrum in Durban. Die staking by dié sentrum is opgeskort nadat die bestuur en vakbonde ʼn ooreenkoms bereik het.

Witspos-sentrum funksioneer tans op 40% kapasiteit. Die possentrum in Germiston is ook in werking, maar nie teen volle kapasiteit nie.

Tshwane-possentrum bly steeds gesluit en ontoeganklik.

Bedrywighede in Kaapstad het weer hervat, maar die possentrum is nog nie op volle kapasiteit nie.

Klik hier om te sien watter poskantore in Johannesburg steeds vir besigheid gesluit bly uit vrees vir werkers en klante se veiligheid.

Die Poskantoor het bevestig dat hy steeds sal poog om met sy bedrywighede voort te gaan en verhoudings tussen die maatskappy en sy werknemers te normaliseer.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Barry ·

Een manier om die poswerkers aan die gang te kry is om hulle salarisse vir hulle te pos.

HEVW ·

Barry, n baie goeie idee, maar dit sal ongelukkig net werk totdat hulle hul selarisse gekry het.

[email protected] ·

Volgens die VF Plus se inligting het werkers op Woensdag 24 September [vandeesweek] oor ʼn radiostasie gehoor hulle sou nie die volgende dag betaal word nie. Dit is gister per elektroniese boodskap met al die Poskantoor-personeel bevestig. Die betaling is vandag [Vrydag] eers gedoen.

WAAROOR DIE BOHAAI ? HULLE IS MOS BETAAL volgens MM … ???

Anelle de Bruin ·

Kan julle dalk asb vir ons sê wat word intussen van al ons pakkies en wanneer sal ons dit kan kry? Ons het betaal vir die diens!

Linda ·

Ja my ma se brief is al 2 mnde terug gepos – hoop nie sy gaan dood voor sy dit ontvang nie. Vir ouer mense is dit die enigste manier van kommunikasie wat hul ken. Baie Poskantore is ook al toegemaak.

EMK ·

@Hannes – of gebruik die miljarde wat hul wil vermors op opgraderings by die parlementsgeboue en kantore en ander snert (ander berig op Maroela.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.