Poskantoor sukkel, maar geld vir swierige buiteklub word betaal

(Argieffoto)

Die Poskantoor het volgens die DA sowat R600 000 oor agt jaar bestee aan korporatiewe lidmaatskap by die swierige Irene-buiteklub – dít terwyl die instelling die afgelope paar jaar steier onder ʼn geldtekort.

Cameron MacKenzie, die DA se woordvoerder oor kommunikasie, telekommunikasie en die posdiens, sê uitvoerende bestuurslede van die poskantoor het aan die beste kos en drank gesmul, terwyl hy personeel afgelê en takke gesluit het.

Dit inligting het aan die lig gekom in antwoord op ʼn parlementêre vraag van MacKenzie.

“Om sake te vererger was daar in hierdie tyd wat die korporatiewe lidmaatskap betaal is, verskeie voorvalle van poskantore wat gesluit is omdat huurgeld nie betaal is nie, vlootvoertuie wat weens ʼn gebrek aan brandstof nie gebruik kon word nie, asook ʼn rits onbetaalde verskaffers wat wissel van drukkersink tot instandhoudingswerk,” het MacKenzie gesê.

“In die agt jaar wat die uitvoerende hoofde van die poskantoor geëet en gedrink, gholf op die Top 50-baan gespeel en hul verlustig het in krieket, tennis, rolbal en muurbal, het waarskuwings van die ouditeur-generaal hom jaar na jaar in die gesig gestaar oor sy voortgesette vermoë om aan die gang te bly.”

MacKenzie sê die poskantoor het in die tyd ook verskeie strategiese omkeerplanne aan die parlement voorgelê in ʼn poging om finansiële volhoubaarheid te verseker. Al hierdie planne het ʼn verbintenis tot personeelverminderings ingesluit – die aflegging of aftrede van lojale poskantoorwerkers – terwyl senior hoofde veilig in hul poste van die voorste buiteklubvermaak geniet het wat die land kan bied.

In ruil vir reddingsboeie van die belastingbetaler ten bedrae van amper R8 miljard oor die afgelope agt jaar, het al die omkeerplanne ʼn onderneming ingesluit dat onnodige besteding ingeperk gaan word.

MacKenzie sê dié inperking het oënskynlik nie korporatiewe gasvryheidsvoordele ingesluit nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat op ʼn tydstip wat die poskantoor met reddingsboeie aan die gang gehou moes word, geld steeds gevind kon word die buiteklub-lidmaatskap elke keer betyds te betaal. Die staat en sy instellings kan nie ʼn plek van byvoordele vir sekere mense wees wat dit vir hul eie selfsugtige belang uitbuit nie.”

MacKenzie sê die DA gaan die saak nie daar laat nie en gaan verdere vrae vra om vas te stel wie presies by die lidmaatskap by die Irene-buiteklub gebaat het, of die poskantoor opgedok het vir enige bykomende betalings vir kos en drank, baangeld of klere, asook of die poskantoor elders in die land soortgelyke ooreenkomste het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.