Poskantoor vol vertroue oor Sassa-betalings

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) het Woensdag gesê hulle sal in staat wees om teen die einde van die maand, wanneer hulle die betaling van alle Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa)-toelae by Cash Paymaster Services (CPS) oorneem, al die betalings te maak.

Lindiwe Kwele, Sapo se bedryfshoof wat verantwoordelik is vir die daaglikse implementering van die betaling van die maatskaplike toelae, het gesê hulle is tevrede met hoe glad die betalings aan die einde van Augustus verloop het, aangesien dit hul “grootste [betaling] nog was sedert hulle vanaf Julie 2018 begin het om die betalings in inkremente te maak”.

Volgens Kwele dui dít daarop dat Sapo gereed is om die betalings heeltemal oor te neem. Tot op hede het Sapo gesê hulle het meer as 97% van die betalings aan begunstigdes met die nuwe Sassa-kaart gemaak.

Kwele het gesê wat nog lekkerder is van die vennootskap tussen Sapo en Sassa is die direkte voordele wat miljoene begunstigdes van maatskaplike toelae uit die inisiatief verkry, soos die verlossing van aspekte soos ongewenste aftrekkings.

Sapo het gesê 76% van die Augustus-betalings is in die eerste week van September gefinaliseer en meer as een miljoen van daardie transaksies is oor die toonbank binne ʼn poskantoor afgehandel.

Kwele het gesê Augustus se eerste betalings was Sapo se derde betaalsessie sedert die baanbrekersooreenkoms met Sassa wat in Desember 2017 aangegaan is.

Volgens haar is die betalings vir Augustus baie gerusstellend in terme van die begunstigdes se aanpassing na die metodes van die nuwe betalingsregime.

Volgens Sapo is daar tot op hede in September 6,2 miljoen kitsbankbetalings gedoen terwyl daar 4,2 miljoen onttrekkings en aankope by handelaars gedoen is.

Sy het verder gesê die hoë getal begunstigdes wat na die Sassa-gouekaarte toe oorskakel, is bemoedigend.

Sapo het verder laat hoor dat dié week die finale week is van kontantbetalings aan net meer as 300 000 begunstigdes by 1 213 betaalpunte in die omgewings wat nie ʼn poskantoor of nasionale betaalstruktuurpunte het nie.

“Meer as 200 000 van dié begunstigdes is reeds suksesvol via Sapo se mobiele eenhede betaal; die oorblywendes sal volgende week in lyn met Sassa se betaalskedule betaal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Avra ·

Baie goed dat die poskantoor SASSA gaan betaal. Nou sal Hoof kantoor verlig wees om alle Takke se elektrisiteit rekening te betaal. Soooo baie kom mens by die poskantoor in Pretoria, geen diens want die krag is af omdat die rekening nie betaal is nie.
Geen krag, geen dienste, geen inkomste

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.