Poskantoor: Voordele betaal sodra ‘kontantvloei verbeter’

(Foto: Esther Lourens)

Die Poskantoor het laat Donderdagmiddag gesê hy is nog nie bewus van enige dreigende regstappe omdat hy aftrekkings van werkers doen sonder om dit aan die betrokke instellings oor te betaal nie.

Die vakbond Solidariteit het vroeër die dag gesê ʼn dringende hofaansoek sal so gou soos volgende week teen die Poskantoor gebring word, sou hy nie gehoor gee aan ’n aanmaning van Solidariteit wat daarop aandring dat hy bewys lewer dat al sy statutêre en kontraktuele verpligtinge teenoor sy werknemers tot op hede nagekom is nie.

Die posdiens het sedert 1 April vanjaar versuim om dié verpligtinge, wat insluit die betaling van mediesefondsbydraes, belasting en pensioenbydraes namens sy werknemers, na te kom terwyl hy steeds bydraes hiervoor van salarisse verhaal.

Die posdiens se mediese fonds, MEDiPOS, het intussen reeds kennis gegee dat hy lede wie se bydraes nie teen Desember ten volle opbetaal is nie, se lidmaatskap op 1 Januarie gaan opskort.

Reneilwe Langa, waarnemende uitvoerende hoof van die Poskantoor, het by navraag gesê “soos die meeste ondernemings in Suid-Afrika, is die Poskantoor se omset geknou deur die inperkingstyd toe dit vir die entiteit net moontlik was om Sassa-betalings te doen, aangesien dit as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer word.

“Die besluit is gevolglik geneem om die werknemers se salaris te betaal. Byvoordele soos pensioen- en mediesefondsbydraes sal betaal word sodra die Poskantoor se kontantvloei verbeter of sodra die entiteit finansiering ontvang. Die Poskantoor het aansoek gedoen om befondsing vir die Covid-19-inperkingstyd,” het Langa gesê.

“Ter wille van rekordhouding word die bedrae wat betrokke is, deurgaans op werknemers se salarisstrokies ingesluit.”

Solidariteit het die aftrekkings wat nie oorbetaal word nie as “diefstal” bestempel. Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, het gesê die versuim veroorsaak dat werkers se ledebydrae aan mediese en pensioenfondse agterstallig is. Dit hou ernstige gevolge in wat tot die beëindiging van werkers se ledevoordele kan lei – iets wat Solidariteit nie kan toelaat nie.

Die vakbond het die Poskantoor tot Maandagmiddag gegee om op die aanmaning te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andre

Die poskantoor funksioneer net teen ‘n verlies.Kan enige iemand nog aanspraak maak op voordele wat moet betaal moet word ??

Nie Verbaas

Enige maatskappy is slegs suksesvol as dit doeltreffend is. Het die poskantoor die regte hoeveelheid werknemers, is salarisse markverwant en is hulle doeltreffend en geskik vir hulle poste? Hoeveel korrupsie vind plaas? As die basiese beginsels van bogenoemde nie in plek is nie kan hulle maar toemaak. Ons almal weet dis die teenoorgestelde.

Persheks Adri

Dis teen die wet om geld af te trek en nie oor te betaal nie! Dis beslis diefstal. Nogals medies, pensioenfonds, belasting en UIF! Ja nee kyk alles waaraan die ANC vat is ‘n gemors vanaf 1994. Ons kort ‘n nuwe kaptein aan die stuur van sake soos in lankal al totaal en al onbevoeg!

Sarel

Hulle hetdan die geld reedsvsn lede gevorder. Ek hoor niks van die Vakbond wat so lief is om te staak nie ook niks van fie EFF nie. Wonder hoekom.

Dup

Net nog ñ semi staatsinstelling wat in die afgrond in “bestuur” is.Dit gebeur wanneer onbekwame mense in sleutelposisies aangestel word.(lees kader ontplooing).Indien dit so voortgaan voorspel ek dat SA binne 20 jaar heeltemal in duie sal stort.Watter beleggers gaan in ñ bankrot land investeer?