Poskantoor waarsku teen skelmstreek met pakkies

Die briefhoof wat gebruik word om mense met die skelmstreek te vang.

Die poskantoor het die publiek gewaarsku om bedag te wees op ʼn slenter wat lyk of dit te doen het met die aflewering van ʼn pakkie, maar eintlik ʼn skelmstreek is.

Johan Kruger, woordvoerder van die poskantoor, het gesê mense ontvang ʼn e-pos-brief van ʼn sogenaamde maatskappy wat voorgee om met “Speed Messenger Services” geaffilieer te wees.

Dit gebruik ook ʼn aangepaste logo van die poskantoor se werklike koerierdiens, Speed Services.

“Die brief eis betaling vir ingevoerde pakkies en noem dat die ontvanger tronkstraf opgelê kan word as hy die brief verontagsaam,” het Kruger gesê.

“Die SA Poskantoor verwag nooit van kliënte om betalings te maak voordat pakkies vanaf ʼn sorteersentrum aangestuur word nie. Indien daar BTW of invoerbelasting op ʼn pakkie betaalbaar is, word dit by ʼn poskantoortoonbank gedoen wanneer die pakkie afgehaal word.”

Kliënte kry ook ʼn amptelike kwitansie vir dié betaling.

“Indien die poskantoor die selfoonnommer van ʼn pakkie se ontvanger het, sal die kliënt ʼn SMS ontvang wat hom of haar versoek om die pakkie by ʼn spesifieke poskantoor af te haal.  Die SMS sal nie vra dat daar geld in enige rekening inbetaal moet word nie,” het Kruger gesê.

Lede van die publiek wat inligting oor die bedrogskema het, word gevra om die polisie te kontak of die poskantoor se spesiale teenmisdaadlyn te bel by 0800 020 070.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Seeskulp ·

In die huidige algemene toestand vd poskantoor is dit beter om eerder van Postnet gebruik te maak vir pakkies. Jy is verseker jou pakkie kom anderkant veilig en vinnig uit.

Marous ·

Wie verskaf die kliente se inligting ? Die feetjies wat in die aande tussen die pakkies rondfladder ?

Karolis ·

Hahaha skerp Marous, vlymskerp.
Wat is ‘n dag sonder humor?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.