Poskantoorwerkers afgedank wat onwettig staak

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 473 tydelike werkers van die Suid-Afrikaanse Poskantoor is onlangs die trekpas gegee nadat hulle aan ʼn onwettige staking deelgeneem het.

Die poskantoor het Maandag in ʼn verklaring gesê die betrokke werkers het op 19 Augustus met ʼn onbeskermde staking begin. Die werkers was hoofsaaklik in Pretoria en aan die Oos-Rand werksaam. Daar is ook voorvalle van intimidasie en geweld teen nie-stakende werkers aangemeld.

Die poskantoor het kriminele aanklagte aanhangig gemaak waar werkers geïntimideer en aangerand is of die poskantoor se eiendom beskadig is. Die voorvalle van geweld het die poskantoor se werksaamhede beïnvloed.

“Ons menslikehulpbronne-afdeling was in gesprek met die werkers se verteenwoordigers in ʼn poging om die staking so gou moontlik te beëindig,” het ʼn woordvoerder van die poskantoor in die verklaring gesê.

Die werkers is reeds op 21 Augustus gewaarsku dat hulle afgedank sal word as hulle nie die volgende dag teen 08:00 vir werk sou opdaag nie. Die poskantoor het Vrydag met stappe begin om die werkers wat die kennisgewing verontagsaam het, af te dank.

“Die poskantoor ervaar tans steeds sporadiese voorvalle, veral in die Pretoria-omgewing, waar sommige van die werkers wat afgedank is permanente werkers intimideer,” lui die verklaring. “Dit het ʼn negatiewe uitwerking op bedrywighede en vertragings kan verwag word. Ons het veiligheidprosedures versterk om werknemers te beskerm en om bedrywighede te herstel.”

Maroela Media het vroeër berig dat tydelike werknemers aan die onbeskermde staking begin  deelneem het om steun te werf vir die erkenning van ʼn nuwe vakbond wat hulle gestig het. Die werkers het ook aangedring om permanent aangestel te word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.