Poskantoorwerkers staak weer

Argieffoto

Argieffoto

Duisende werkers van die Suid-Afrikaanse Poskantoor het Donderdag op ʼn twee dae lange staking gegaan weens onopgeloste arbeidskwessies en eise vir salarisverhogings.

Die lede van die Cosatu-geaffilieerde Communication Workers Union (CWU) het gesê hulle eis ʼn 15%-salarisverhoging en die oorskakeling van kontrakwerkers na voltydse personeel. Volgens die vakbond is geen ooreenkomste met die werkgewer in 2013 en 2014 onderteken nie en is daar steeds kwessies van 2015 wat nog nie opgelos is nie.

Mark Barnes, Sapo se uitvoerende hoof, het gesê gebeurlikheidsplanne is ingestel om onderbrekings in dienslewering tot die minimum te beperk. “Ons gebeurlikheidsplanne is in werking gestel en ons verwag nie dat die staking ʼn aansienlike invloed op dienslewering sal hê nie. Ons verwag ook nie dat dienste by poskantoor-afsetpunte geraak sal word nie,” het Barnes in ʼn verklaring gesê.

Hy het gesê die staatsmaatskappy herstel tans van finansiële terugslae en die staking help nie om die probleme by die Poskantoor op te los nie. “Ek het met al ons werknemers gepraat oor die arbeidskwessies. Die Poskantoor het begin herstel wat diensstandaarde betref en begin ook geleidelik finansieel verbeter,” het hy gesê.

Barnes, wat verlede jaar aangestel is om die sukkelende staatsinstansie te probeer red, het in April aan die parlement gesê dat Sapo R3,5 miljard nodig het om die Poskantoor uit sy benarde finansiële situasie te kry. Ongeveer R1 miljard van hierdie geld sal gebruik word om skuld te betaal, waarvan sekere gedeeltes al langer as ʼn jaar uitstaande is.

ʼn Vorige staking en swak finansiële prestasie het die Poskantoor in 2014 op sy knieë gedwing en Sapo wesenlik insolvent gelaat. Die Poskantoor kon in dié tyd nie eens sy werknemers se volle salarisse betaal nie.

“Die maatskappy het finansiering nodig om sy werknemers se knelpunte aan te spreek. ʼn Staking in hierdie stadium sal dus net die huidige finansieringsreëlings belemmer en nie die werkers se kwessies aanspreek nie. Ons sal voortgaan om met al die vakbonde te vergader oor die kwessies wat die werknemers raak,” het Barnes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

ig ·

Agge nee,nou gaan ek nie my E tol aanmanings kry wat so lekker n braaivuur aansteek nie.

Jan ·

Ja, maar my Posbus huur geld bly dieselfde al kry ek nie pos nie.

m ·

Ag asb wie kry nog 15% verhoging in hierdie land behalwe die parlementslede? Hulle soek vir wors in n hondehok. Hulle kan bly wees hulle kry darem nog n salaris, kyk wat gaan by die Lilymyn aan waar geen salarisse betaal word nie en mense krepeer van ellende.

Johann ·

Staak wèèr? Nie geweet mens kan staak terwyl jy klaar staak nie? Of nee: hulle probeer genoeg vlambare goede opgaar om als af te brand? Of n beskaafde agressie…i.p.v. klippe pakkies? Naief verby Mnr Barnes

Andrea van Vuren ·

Ek voel vere. Ons poskantoor in Hercules is so donker dat ek Braille-tegniek moet gebruik om my posbusnommer te voel. Hulle kan glo nie hul krag bekostig nie. Ai tog!

André ·

Die poskantoor kon nog nooit van sy stigma ontslae raak nie. (Swak diens. Stakings of nie)

Elna Erasmus ·

Ek stem saam die diens is uiters swak. Het dit die afgelope twee ervaar.

D ·

Barnes. Jy ontvang beslis nie pos nie. Wanneer was daar ‘n verbeyering in di Poskantoor se dienste. Jy droom lekker.

HFC ·

Vandat hy aangestel is was daar wel ‘n verbetering. Ons poskantoor het weer seëls en speedservice sakke gehad en die trokke het meer gereeld begin aflewer. Om die poskantoor op te lig uit die modder gemors waarin die voriges dit laat afsak het is nie ‘n maklike taak wat sommer oornag gaan plaasvind nie veral as daar gekyk word na die geld tekort.

Anika ·

Dit is hoekom ek verlede jaar my posbus se huur gekanselleer het. Doen nou alles sover as moontlik per e-mail.

E ·

ń Paar mense probeer werklik hard om die poskantoor te red, maar die meerderheid breek af. Hulle wil hulle brood aan albei kante gebotter hê, maar vergeet dat hul aksies die brood gaan wegneem.

Paul ·

Hoeveel mense het vanjaar hul posbusse hernieu? Ek sou geld daarop sit dat meer as ‘n derde besluit het om dit nie te doen nie.

Die Poskantoor sal ondergaan, of sal slegs met belastingbetalers se geld “gered” kan word.

Almal skuif eerder na koerierdienste. Dis duurder, maar mens betaal tog altyd vir gehalte!

Veritas ·

Ek glo gladnie die staking-storie nie. Daar het dan niks versleg van verlede week af nie. Mark Barnes sê self dat dienste nie juis geraak word nie. Dit is nou die ideale geleentheid om die poskantoor se dooie hout uit te sny. Tussen hakies, die poskantoor is reeds vir 15 jaar op ‘n sloerstaking.

Kaspaas ·

O het nie geweet hulle was terug by die werk nie, wys maar net poskantoor is soos n telegram het 100 jaar terug gewerk maar nie nodig in hedendaag

Lance ·

Dis reg staak hom in die grond in sodat hy kan val en ins met nuwe mense kan begin wat eintlik wil werk .. go 4 it se ek !!!

Sarel Strydom ·

Daar is nie meer diens nie, die Poskantoor bestaan omtrent nie meer nie, maar staak sal hulle staak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.