Posspaarbank gereed om as staatsbank te ontluik

(Foto: Maroela Media)

Die nederige Posspaarbank, oftewel die Postbank, maak gereed om ʼn volwaardige staatsbank te word.

Dit blyk uit voorleggings wat Woensdag aan die parlement se staande komitee oor openbare ondernemings en kommunikasie gemaak is.

Die ANC het by sy vorige nasionale konferensie in 2017 besluit ʼn staatsbank moet gestig word, en die Posspaarbank is besig met ʼn aansoek om as volwaardige bank geregistreer te word, met die klem op inklusiwiteit.

Die bank se onmiddellike doelwitte sluit in om die hoeveelheid spaargeld wat daar belê word te vermeerder, ʼn veilige finansieringsomgewing te skep en die finansiële geletterdheid van sy kliënte te verbeter.

Daar is tans 2 112 takke van die Posspaarbank landwyd, waarvan 311 in die Oos-Kaap, 310 in Gauteng, 279 in die Wes-Kaap, 255 in Limpopo, 206 in Noordwes, 205 in Mpumalanga, 200 in KwaZulu-Natal, 136 in die Vrystaat en 130 in die Noord-Kaap.

Die koronavirus het die Posspaarbank wel negatief getref, veral omdat dit sy risikoprofiel verswak het aangesien soveel kliënte hul werk verloor het. Personeel was ook minder produktief terwyl bykomende IT-koste aangegaan moes word sodat personeel van die huis af kon werk.

Die bank is wel baie likied, hoewel die afname in omset van 18% tydens die staat van inperking ʼn daling van R311 miljoen aan inkomste beteken.

Vir die finansiële jaar word ʼn algehele afname van 13% in inkomste voorsien, wat deels aan ʼn toename van 3% in personeelkoste toegeskryf kan word, en deels daaraan dat die Posspaarbank vanjaar vir die eerste keer afsonderlik belasting betaal het.

Die bank verwag dat hy nog twee jaar lank insinkings sal beleef, hoewel sy positiewe kontantvloei en die uitbreiding van sy bankdienste beteken hy is gereed vir groei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

“‘n veilige finansieringsomgewing”. Deja Moo. Ons het hierdie stories al vantevore gehoor. VBS Mutual Bank lui ‘n klokkie.

Hennie ·

Regtig! Dit sal seker net ANC idiote wees wat hulle geld in die hande van die ANC sal plaas. Die verdomde instansie is net so korrup en vrot van ellende! Wie de hel sal daar hul geldjies wil insit?

annie ·

Hoekom wil en moet ons’n staatsposspaarbank hè? Hoekom sal dit beter wees as private instansies wat goed gekonfyt is in finansièle bestuur? Wat gaan in die agterkoppe van staatsamptenare aan? Sal SARS se ogies uit die hogeres se bankstate gehou word? Nog ‘n ‘wheel and deal’-lekkerte? Njamm-njamm!

Louis ·

Ag liewe hemel, wie gaan belangstel om sy geld daar te deponeer. Die Poskantoor is korrup en met sy patetiese diens sal geen mens daarin belangstel nie. Dis selfs ‘n gesukkel om ‘n paar posseels daar te kry, want daar is nooit voorraad nie. Onlangs met ‘n besoek aan ‘n Poskantoor het die geagte Posmeester die volgende vir my gese, nadat ek gekla het oor die diens: “die personeel staak en dit is ook regso, want daar word nie geluister na hulle griewe nie” Hoe op aarde kan ‘n persoon in beheer van ‘n instansie sulke onverantwoordelikhede kwytraak? Nodeloos om te se dit was ‘n tipiese Mevrou ” kopdoek”.

commontar ·

As dit goed bestuur kan word dink ek dis ‘n goeie idee. Die finansiële sektor in SA is gesond en die regering kan daarby baat vind. Dit moet net nie in ‘n VBS ontaard nie.

Anoniem ·

‘n Veilige finansieringsomgewing te skep sê hulle. Gereed vir groei sê hulle. Hulle gaan wag totdat daar genoeg idiote in dié staatsbank ‘belê’. En dan kom die ‘skep’ en ‘gryp’ waarna die president sal aankondig “We will appoint a committee at a cost of R500 million to investigate where all the money went to.”

gatgogga ·

As die tipe diens wat mens van die SAPO kry, enige aanduiding is, bly dan weg.
Ek het nou al tot die gevolgtrekking gekom dat SAPO personeel nie net onbevoeg is nie, hulle is boonop “spiteful”.

Ferryman ·

Daar is vir my te veel gevaarligte wat flikker. Hierdie is dalk net weer die volgende VBS.
POSKANTOOR se dienslewering is ook nie op standaard nie.

Nie Verbaas ·

Ag nou toe nou. Nog n “heuning pot” vir ANC kaders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.