Potch-aanval: ‘Hy was só ʼn goeie mens’

Adriaan en Lilly Smit. Foto: Verskaf.

Die man (69) wat Vrydagoggend in Potchefstroom dood is, is met ʼn ysterstaaf doodgeslaan.

Sy vrou (67) is in ʼn kritieke toestand per helikopter na Milpark-hospitaal in Johannesburg gehaas nádat sy ook met ʼn ysterstaaf aangeval is.

Joe van Dyk, Adriaan en Lilly Smit se skoonseun, het aan Maroela Media vertel wat gebeur het.

“Die aanval was net ná 04:00. Daar is ʼn kamera in die straat wat wys hoe een verdagte oor die muur spring,” het Van Dyk vertel.

Die verdagte het glo toe aan die bakkie gepeuter. “My skoonpa het gaan ondersoek instel. Die verdagte het ʼn yster wat op die tafel by die bakkie onder die afdak gelê het, opgetel en hom aangerand. Hy het hom toe in die huis ingesleep. My skoonma het betrokke geraak en hy het haar ook daarmee aangerand,” het Van Dyk vertel.

Die ysterstaaf waarmee hy haar aangerand het, het gebreek en die verdagte het nóg ʼn ysterstaaf gaan haal en haar verder aangerand.

“Die verdagte het gevlug met die bakkie se sleutels en toe weggejaag met die bakkie.”

Volgens Van Dyk het die buurman wat gehoor het hoe die honde histeries blaf oor die muur gespring en gaan ondersoek instel. “Toe hy die bloed sien, het hy teruggegaan na sy huis en alarm gemaak.”

Maroela Media het vroeër berig Trudi Botha, eienaar van Electro Security, het aan Maroela Media gesê die veiligheidsmaatskappy het teen 05:30 ʼn noodoproep van ʼn buurman van die egpaar ontvang.

“Ons reaksievoertuig het saam met die polisie by die toneel opgedaag. Dit was ʼn gru-toneel wat met bloed besmeer was,” het Botha gesê.

Botha het inligting oor die gesteelde voertuig op veiligheidnetwerke versprei en is kort daarna deur Suzette Oosthuizen, wyk 2 se koördineerder van die AfriForum Buurtwag, ingelig dat buurtwaglede ʼn soortgelyke voertuig in hul gebied agternasit.

“Ons is voor 06:00 ingelig dat ons lede hulp benodig, want hulle is besig om ʼn Isuzu-bakkie agterna te sit. Die bestuurder van die bakkie het die voertuig gerol. Dit het op sy wiele tot stilstand gekom en hy het weggejaag,” het Oosthuizen aan Maroela Media gesê.

Die bestuurder van die bakkie het daarna teen ʼn vragmotor gebots en steeds verder gejaag met die buurtwag kort op sy hakke. Kort daarna het hy weer die bakkie gerol, waarna die bestuurder te voet in die omliggende landerye gevlug het.

“Buurtwaglede het hom daar aangekeer, waarna die man deur CB Security in hegtenis geneem is.”

Sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Die 28-jarige verdagte wat in hegtenis geneem is, moet Maandag in die Potchefstroom-landdroshof verskyn.

Van Dyk en ander familie gaan vandag vir Lilly besoek. “Ons het vanoggend met hulle oor die foon gepraat en hulle sê sy is tans in ʼn stabiele toestand.

“My skoonpa was so ʼn goeie mens. Hy was altyd bereid om enigiemand te help, hy het kos vir die mense in die strate gegee.”

Van Dyk het gesê begrafnisreëlings sal eers getref kan word ná die lykskouing Maandag afgehandel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Langtoon ·

Dit is skokkend en afgryslik!!
Hoe durf hulle onskuldige, ou mense doodmaak!!!
Vergelyk hierdie barbaarse mense se dade met die doodskis geval!!
Ek kom al meer onder die indruk dat die wreedaards gesante van satan is wat sy opdragte getrou uitvoer!! Maar God sal ook oor hulle die laaste oordeel spreek!
Mag hierdie familie getroos word, al is dit hoe seer!
My hart pyn van meegevoel!??

Eish ·

Tragies en deesdae so algemeen dat goeie mense op die wreedaardigste wyse denkbaar vermoor word. Synde almal nie in sekuriteitskomplekse kan woon nie, is die ander opsie om steeds n blok/groep huise af te seël en toegangsbeheer toe te pas met deurlopende patrollies. Daar is genoeg werklose blankes beskikbaar vir die taak.

Andrea ·

Dis n goeie idee. As ons dit net kon organiseer en implementeer.

Pieter van der Walt ·

Eish daar is al n hele paar jaar so n woonbuurt in die Ooste van Pretoria. Die pad wat deur die buurt loopis af gesper en mensewat nie daar woon nie kan nie deur die gebied ry nie. Dit is ook omhein en het net een hek tot toegang met wagte. Dit werk uitstekend. Daar is nie rondlopers in daardie woonbuurt nie.

So ook ·

So ook het my swaer (in sy 70’s) in die onlangse verlede ook weer kos gegee aan ‘n straatman. Die straatman het dan die papiere wat oorbly sommer net daar in die straat neergesmyt. Toe hy hom daaroor betig het die man sy kans afgewag en hom onverhoeds aangeval, gewurg en hy het sy bewussyn verloor waarna die man hom toe gelos het.
Moenie hulle jammer kry want hulle maak ‘n opname van jou omstandighede. Moenie uitgaan om ondersoek te gaan instel oor geluide, inteendeel, selfs in jou huis wees versigtig voor jy begin rondbeweeg, bly eerder waar jy is en wag vir die blik$%m. Sluit aan by ‘n sekuriteitsfirma en dra jou ‘panic button’ pal om jou nek.
Sterkte aan die betrokkenes oor nog ‘n hartseer gebeurtenis wat plaasgevind het maar ‘n handskud vir die vinnige reaksie van die wetstoepassers en sekuriteit

Monty ·

Weereens moenie uitgaan sonder n wapen in jou hand nie installer ligte wat weg van jou huis af lig

BANG JAN SE VROU ·

Wees eerder Bangjan as Dooie-jan. Hou verder net jou mond en se niks as jy uit die tronk wil bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.