Potch-beesboer se moordenaars dan eers gevonnis

Koos Van der Leeuw. Foto: Verskaf.

Die drie verdagtes wat skuldig bevind is aan die moord op Koos van der Leeuw (68) gaan nou eers volgende jaar gevonnis word.

Twee van die beskuldigdes het Woensdag hul regsverteenwoordigers die trekpas gegee voordat vonnisverrigtinge kon begin. Die saak duur nou al langer as vyf jaar.

Bibi Ngcamphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi sal na verwagting op 29 Januarie in die rondgaande hof in Klerksdorp gevonnis word.

Henry Mamothame, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê dit is om Motsi en Ngcamphalala kans te gee om nuwe regsverteenwoordiging te kry. Dit is nie bekend hoekom hulle hul regsverteenwoordigers afgedank het nie.

Koos, ’n bekende beesboer en sakeman van Potchefstroom in Noordwes, is in Augustus 2015 by die dorp se slagpale deur aanvallers oorval en in die kop geskiet. Hy was vroegoggend saam met sy vrou, Marietjie (73), by die slagpale om ʼn transaksie met ʼn man van Krugersdorp te beklink. Die aanvallers het op die toneel aangekom en Koos is geskiet. Hy is later in ’n Johannesburgse hospitaal dood.

’n Vierde verdagte, Tefo Mohua, het nie vir die vorige hofverrigtinge opgedaag nie en ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Hy is vroeër borgtog toegestaan.

Marietjie het aan Maroela Media gesê dat sy nou wil aanbeweeg met haar lewe aangesien die afgelope vyf jaar ontsaglik moeilik vir haar was met die saak wat herhaaldelik uitgestel is. Sy en haar familie kon nie afsluiting kry nie.

“Ek steur my nie aan die vertraging van die vonnisoplegging nie omdat ek weet die skuldiges is klaar agter tralies. Ek weet ook die groot straf lê eendag by die Hoër Hand. Ons laat dit in die hand van die gereg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Moedeloos ·

Lekker man speel so reg in die ANC se hande. Los alles tot die nipperjie en dan dink jy gou n plan uit om die appelkar om te gooi.

Persheks Adri ·

Pateties dat ‘n saak so lank vat! Sien en dis hoekom hulle nie moet borg kry nie, want dan is hulle baie vinnig weg! Die land is in sy glory in dankie cartel

Mariana ·

Hoekom is hulle nog nie gevonnis nie. Iemand doen nie hul werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.