Potch-beesboer se moordenaars ná ses jaar gevonnis

Koos Van der Leeuw. Foto: Verskaf.

Die drie verdagtes wat skuldig bevind is aan die moord op Koos van der Leeuw (68) is Woensdag in die rondgaande hof in Klerksdorp, Noordwes, gevonnis.

Dit volg ses jaar ná Van der Leeuw, ’n bekende beesboer en sakeman van Potchefstroom, tydens ʼn rooftog doodgeskiet is.

Bibi Ngcamphalala, Idah Lebaka en Samuel Motsi is reeds September verlede jaar skuldig bevind op aanklagte van moord asook op twee aanklagte van gewapende roof. Die drie sou aanvanklik in November verlede jaar gevonnis word, maar die verrigtinge is om verskeie redes herhaaldelik uitgestel.

Volgens adv. Kobus Jacobs, staatsaanklaer, is Motsi, die meesterbrein agter die rooftog, tot lewenslange tronkstraf vir moord gevonnis.

“Motsi het by die slagpale gewerk en het die rooftog haarfyn beplan en gereël. Hy het presies geweet wanneer Van der Leeuw by die slagpale sou wees,” het Jacobs gesê.

Ngcamphalala en Lebaka is tot 22 jaar gevangenisstraf elk gevonnis vir hul aandeel in die moord. Regter Steph Bezuidenhout het die feit dat hulle reeds ses jaar in aanhouding is en ook nie die sneller getrek het nie, as versagtende omstandighede geag.

Al drie beskuldigdes is ook tot 15 jaar tronkstraf op twee aanklagtes van gewapende roof gevonnis. Dié sal gelyklopend met die moordvonnisse uitgedien word.

’n Vierde verdagte wat by die rooftog betrokke was, Tefo Mohua, het nie in September verlede jaar vir die uitspraak opgedaag nie ná hy en Motsi vroeër op borgtog vrygelaat is. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik en die polisie is steeds op soek na hom.

Mohua het glo op die dag van die moord op Van der Leeuw se vrou, Marietjie (73), geskiet en staan tereg op ’n bykomende aanklagte van poging tot moord.

Van der Leeuw is in Augustus 2015 by die dorp se slagpale deur aanvallers oorval en in die kop geskiet. Hy was vroegoggend saam met Marietjie by die slagpale om ʼn transaksie met ʼn man van Krugersdorp te beklink. Die aanvallers het op die toneel aangekom en Koos is geskiet. Hy is later in ’n Johannesburgse hospitaal dood.

Jacobs het die ondersoekbeampte, A.O. Bonita, geloof vir haar goeie ondersoekwerk wat tot die beskuldigdes se inhegtenisneming gelei het.

Hy sê die staat is dankbaar die saak is nou eindelik afgehandel en dat geregtigheid vir die familie kon geskied.

“Ons is ontevrede met hoe die saak gesloer het. Na my mening was dit omdat daar aanvanklik té vinnig borgtog aan Motsi en Mohua toegestaan is,” het Jacobs gesê. “Dié beskuldigdes het allerhande verskonings gehad waarom hulle nie vir hofverrigtinge opgedaag het nie. En só moes die saak herhaaldelik uitgestel word en het dit op die einde van die dag langer gevat as wat dit moes.”

Marietjie het vroeër aan Maroela Media gesê die skuldiges se vonnis raak haar nie eintlik nie omdat sy weet die groot straf lê eendag by die Hoër Hand. Sy het na die verdagtes se skuldigbevinding gesê sy sny haar af van die saak omdat sy wil aanbeweeg met haar lewe.

Sy het vertel die ses jaar ná Van der Leeuw se moord was ontsaglik moeilik vir die familie omdat hulle nie afsluiting kon kry nie. Al waaraan hulle kon dink, was die hofsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Blomme ·

Soos die vraag in die Skrif… Vra ek nou… Wie is ons Naaste? Sjoe mens sukkel om te glo dat jy sulke nikswerd skurke wat moor net vd grap as jou naaste moet sien… Wat nog van lief hê soos jouself!

OW ·

Belangrike vrae wat jy vra Blomme.Kyk na vandag se “Gedagte van die dag” van Oswald Chamber en veral die tweede paragraaf gee vir my ‘n riglyn hoe hierdie vrae van jou, deur God se wil hanteer word.

OW ·

Veronderstel jou woorde is die Waarheid,dan sê jy Matt 5:43-48 is ‘n leuen.

Heinrich ·

Ek verstaan nog steeds nie hoekom vonisse gelyklopend moet wees nie, dit gee mos tog die groen lig vir enige verdere oortredinge nadat jy die eerste een gedoen het.

Misky ·

Borg vir moordenaars…… Hou op borg gee en bou ekstra tronke as dit moet

melW ·

Dit sal nooit gebeur nie, tronke is vol en daar is beslis nie begroot vir ekstra tronke nie, geld maak die rykstes net ryker en dis hoe die regering ń land wil lei! Ek word net warm om my kraag, pateties.

Mariana ·

6 jaar na die moord!!!Is dit nie bietjie lank as beskuldiges reeds daar is nie. Maar ja dit is SA, hier word kriminele mos beskerm en meeste op borg laat gaan en dit terwyl almal weet hulle is skuldig. Dit was nie altyd so nie.

Owlie ·

On nodig om enige Moore saak soveel hare uit te rek Dis tyd dat families saam staan en else begin installing teen elke department, afdeling, persoon wat families vir soveel jaar deur additionele onnodige trauma sit.

Pieter ·

Die regters is net so sleg soos die anc regering vir wie hulle werk n kommunis bly maar net n gemors nasie. Hulle is goed vir niks dit is hoekom dit gaan soos dit gaan.

Chantel ·

Maar van wanneer af mag jy ‘n hofbevel sommer net links en regs verontagsaam,!! Dis mos lekker

Willem ·

Hierdie vonisse wat samelopend uitgedien word is ‘n onding en “lewenslank” behoort hade arbeid te wees tot die wetter dood neerslaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.