ʼn Bittere twis woed by die Potchefstroom High School for Boys en het nou gelei tot ʼn versoek van die DA dat die skool se beheerliggaam dadelik ontbind word.
Gavin Edwards, die DA in Noordwes se woordvoerder oor onderwys, sê die beheerliggaam vervul nie sy mandaat om gehalte onderrig by die skool te verseker nie.
Edwards sê ʼn oorsigbesoek is die afgelope week aan die skool gebring en een van die kommerwekkendste kwessies is die skool se onvermoë om volgende week vir leerders te heropen.
“Dit het onder ons aandag gekom dat die beheerliggaamlede sy wetlike mandaat oorskry deur in te meng met die daaglikse bestuur van die skool. Dit sluit in veranderings aan die akademiese kalender, die onregverdige skorsing van personeel en die onverskillige uitreik en opskort van personeelkontrakte,” sê Edwards.
Hy sê die beheerliggaam het die tesourier ʼn jaar lank sonder ʼn tugverhoor geskors en dat dit ʼn verwoestende uitwerking op die finansiële bestuur van die skool gehad het. Hy voer aan die beheerliggaam het in die vorige boekjaar minstens R160 000 aan regskoste aan verteenwoordiging by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bestee.
Edwards sê die skool het geen goedgekeurde begroting vir die jaar nie en hoewel onderwysers op 1 Februarie aangemeld het, strem die gebrek aan ʼn begroting alle voorbereidings.
Altesaam 14 onderwysers wat by die skool aangestel is, wag volgens Edwards nog op kontrakte en vier vakante poste moet gevul word. Oor die afgelope drie jaar het 17 onderwysers bedank, terwyl daar bewerings is dat sommige onderwysers wat nie vorderingsverslae en leerderassessering indien nie, of swak uitslae het, deur die beheerliggaam beskerm word.
“In Oktober verlede jaar het die departement van onderwys ʼn ondersoek by die skool gedoen ná klagtes deur personeel, maar die uitslag daarvan is nog nie aan die skoolbestuurspan bekend gemaak nie. Pleks daarvan is ʼn verslag aan die beheerliggaam gegee, wat dui op politieke bande tussen lede van die beheerliggaam en die departement,” het Edwards gesê.
Hy sê sowat R2 miljoen van die skool se geld is in die vorige boekjaar wanbestee terwyl die departement nie ʼn vinger verroer het om iets daaromtrent te doen nie.
“Die LUR kan nie ʼn toeskouer wees van die ondergang van die skool met ʼn trotse geskiedenis van 115 jaar nie, terwyl die beheerliggaam sommige onderwysers boelie, ander beskerm en ten koste van leerders misluk in sy wetlike mandaat.”
Johan Kruger, operasionele direkteur by die onderwysvakbond SAOU, sê die beheerliggaam slaan geen ag op enige raad van die skoolhoof nie en hy het reeds verskeie probleme onder die departement se aandag gebring. Dit sluit in die aanstelling van onbevoegde onderwysers sonder dat daar vir die poste begroot is en geen begrotingsvergadering wat verlede jaar met ouers gehou is nie.
Kruger sê top- akademiese presteerders verlaat die skool weens swak aanstellings wat voor die deur van die beheerliggaam gelê word. Leerders druip glo ook onnodig weens swak aanstellings en vakkeuses word meer beperk omdat leerders nie vakke van beweerde swak onderwysers wil neem nie.
Hy sê die skool het ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie minstens drie keer probeer om die begroting aan te pas om daarvoor voorsiening te maak, maar het geen reaksie van die beheerliggaam gekry nie.
Kruger sê daar is ook mondelingse teistering van personeel by die skool.
“Weens swak bestuursbesluite het die personeel geen vertroue in die beheerliggaam nie. Die probleem hiermee is dat die swak besluite die las op onderwysers verhoog,” sê hy.
Die skool het alle navrae na die departement van onderwys verwys. Maroela Media het navrae aan die departement gerig en wag op terugvoer.
Die voorsitter van die beheerliggaam kon nog nie vir kommentaar bereik word nie.
Politiek
So het dit by Gekombineerde Skool Cullinan ook gebeur. Die skool is in 1 jaar van a welvarend, finansieel stabiel en gesogde skool afgebreuk tot a skool wat nie meer sy personeel of krag rekening kan betaal nie. Ons was trots om ons kinders daar te stuur oor die höe kwalityd onderrig.nou weet ons nie meer nie waarheen nie. So word meeste van ons geskiedkundige voorspoed afgetakel en af gebreek tot die buiderwetse vlak van minderwaarheid net oor hulle kan.
Potch Boys High, In my dae as leerling van Volkskool in dieselfde dorp het ons altyd baie respek gehad vir Boys High met hulle sterk tradisies en dissipline, jy kan maar net kyk na die imposante infrastuktuur van die skool om te sien wat hier eens was. ” Potchefstroom Studente-dorp!” Hartseer wanneer ons vandag negatiewe nuus hier hoor.
Ek het BEDANK by die skool, omdat ek GEBOELIE was. Toe daar gevra is ivm die hoë “turnover” van personeel, is 1 van die redes dat EK “agter ‘n man aangetrek het”… OP my UIF wys “absconded”, terwyl ek SKRIFTELIK per brief en per epos bedank het (en dit was aan verskeie mense gestuur). Ek moes bedank agv hartkrampe en longspasmas veroorsaak deur stres agv BOELIES. Ek was ‘n adminpersoneellid, so nie net onderwysers word geboelie nie…