Potch-broers vas vir moord; saak teen een teruggetrek

Argieffoto

Twee broers wat vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is ná polisielede van die Potchefstroom-blitspatrollie in Noordwes ’n jong vrou se liggaam in hul motor se kattebak gevind het, het vanoggend in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring die aanklagte teen een van die broers (30) is egter gedurende vanoggend se hofverrigtinge teruggetrek. Die ander broer (38) staan steeds tereg op aanklagte van moord en bly in aanhouding.

Hy is geïdentifiseer as Richard Motsetse Mosiane. ’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die oorledene Mosiane se meisie was.

Maroela Media het vroeër berig polisielede van die Potchefstroomse blitspatrollie-eenheid was Maandagaand op patrollie net buite Potchefstroom naby die Ikageng- informele nedersetting toe hulle ’n verdagte Volkswagen Polo Vivo in Jeppestraat gewaar het. Die polisie het ’n u-draai gemaak en die verdagte motor agternagesit.

Die motor is glo tot stilstand gedwing waarna die polisie die liggaam van ’n 26-jarge vrou in die verdagte motor se kattebak gevind het. Die twee broers is op die plek in hegtenis geneem.

Die verdagtes en die oorledene was inwoners van die Ikageng- informele nedersetting net buitekant Potchefstroom.

Mosiane sal weer op 1 November in die hof verskyn, sê Myburgh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.