Potch-kiesers moet besonderhede verifieer

Argieffoto

Argieffoto

Des van Rooyen, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het geregistreerde kiesers in Tlokwe versoek om hul besonderhede op 9 en 10 Julie te verifieer.

“Minister Van Rooyen, ook die voorsitter van die interministeriële komitee oor verkiesings, ondersteun die Onafhanklike Verkiesingskommissie se poging om die besluit van die konstitusionele hof te implementeer,” het Legadima Leso, woordvoerder van die departement, gesê.

“Ons maan alle geregistreerde kiesers in die Tlokwe-gebied om op 9 Julie en 10 Julie van 08:00 – 17:00 hul adresbesonderhede te verskaf of foutiewe adresbesonderhede op die kiesersrol te wysig,” het Van Rooyen gesê.

Volgens Leso doen die regering ʼn beroep op alle belanghebbendes, insluitend die media, gemeenskapstrukture, politieke partye, kandidate en ander persone binne Tlokwe en omliggende gebiede om te help om die boodskap te versprei en geregistreerde kiesers sonder adresse aan te moedig om hierdie naweek hul stempunt te besoek.

Dié besluit volg ná die pragmatiese uitspraak van die konstitusionele hof wat onder andere beslis het dat die munisipale verkiesing op 3 Augustus mag voortgaan met die bestaande kiesersrol – met die uitsondering van Tlokwe. Die hof was verlede jaar baie duidelik dat, wat Tlokwe betref, die Verkiesingskommissie steeds moet seker maak dat die November 2015 Kham-uitspraak en gevolglike beslissing deur die verkiesingshof, geïmplementeer moet word.

“As die departement ondersteun ons gevolglik die werk van die OVK en erken die reg van alle geregtigde burgers om deel te neem aan die sake van hul regering deur hul stemme uit te bring, een van die hoekstene van demokrasie,” het Leso bygevoeg. “Vir burgers om hul demokratiese reg op 3 Augustus 2016 uit te oefen, ondersteun ons die samestelling van ʼn omvattende en inklusiewe kiesersrol wat die adresse van kiesers insluit.”

Leso het gesê dit is egter belangrik vir gemeenskappe in die gebied om kennis te neem dat dit nie ʼn geleentheid is om as ʼn nuwe kieser te registreer nie. “Dit is wel ʼn geleentheid vir geregistreerde kiesers om hul besonderhede op die kiesersrol na te gaan en te wysig. Die kiesersrol is reeds gesluit en dit is belangrik om dit só te hou ter wille van integriteit.”

Van Rooyen het gesê die regering is tevrede dat die OVK reeds vordering maak om die besluit van die konstitusionele hof te implementeer.

“Ons glo hierdie vinnige aksie deur die OVK om die addresse te verifieer is prysenswaardig en baanbrekerswerk, aangesien dit deel is van die breër fundamentele opdrag om ʼn omgewing te skep vir ʼn vry, regverdige en geloofwaardige verkiesing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

John ·

Maar dankbaar dis net helder oordag, anders gaan ‘n mens ‘n paar bleek gesigte sien wanneer die ‘dooies’ uit hul grafte opdaag om hul regte adresse te gee… “En se vir my gewese man asb tog, hulle het my naam verkeerd gespel… op my steen… Dis is met ‘n s nie met ‘n z nie…”

Wiltrud ·

Onthou net dat studente eers aanstaande week moet terug wees en dus dan nie kans sal hê om dit te doen nie.

Hendrik ·

Ten minste sal die plaaslike verkiesing meer regverdig in Potchefstrrom wees as in die res van die land. Dir vry gedeelte word later bepaal deur die IEC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.