Potch-plaasaanval: Sakeman gegroet

Cobus en Lynette van Wyk. Foto: Facebook

ʼn Gedenkdiens vir Cobus van Wyk (69), die sakeman wat verlede week tydens ʼn plaasaanval buite Potchefstroom gesterf het, word Vrydag in dié Noordwes-dorp gehou.

Van Wyk is dood nadat hy Vrydag omstreeks 22:30 vermoedelik deur drie aanvallers op ʼn plaas in die Vyfhoek-omgewing oorval is. Werner van Wyk, Cobus se seun, het Dinsdag op sy Facebook-blad bevestig ʼn gedenkdiens “vir ons ongelooflike, wonderlike eggenoot, pa, oupa, broer en vriend” sal Vrydag om 11:00 gehou word.

Maroela Media het vroeër berig lt.kol. Pelonomi Makau, ʼn woordvoerder van die polisie, het Dinsdag gesê ʼn nadoodse ondersoek het bevestig Van Wyk het aan ʼn hartaanval gesterf en is nie doodgeskiet soos voorheen vermoed nie.

Makau het vroeër gesê Van Wyk en een van sy seuns het Vrydagaand buite die huis op die plaas gaan ondersoek instel nadat ʼn alarm afgegaan het. Hulle het drie verdagtes naby die heining gewaar. ʼn Struweling het tussen Van Wyk en sy seun en een van die aanvallers ontstaan en ʼn skoot is in die proses afgevuur. Van Wyk se seun kon glo daarin slaag om ʼn vuurwapen en ʼn mes by die aanvaller af te neem, maar Van Wyk het op die toneel gesterf.

Die aanvallers het van die toneel gevlug. Die polisie het aanvanklik ʼn saak van moord ondersoek, maar het dit na aanleiding van die uitslae van die nadoodse ondersoek na ʼn saak van poging tot moord verander.

Makau het gesê Van Wyk se familie vermoed dat die struweling met die aanvaller sy hartaanval veroorsaak het. Die aanvallers was ook glo gewapen en daarom word ʼn saak van poging tot moord ondersoek.

Van Wyk en sy vrou, Lynette, het die Multi Styl-onderneming in Potchefstroom bedryf wat dekorverhuring vir troues en gesellighede doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MvN ·

Die vraag is…sou hy n hartaanval kry as dit nie vir die oortreders was nie? Is hy dood as gevolg daarvan…? Dan is dit moord…

Amanda ·

Ja nou gaan daar gese word dit is nie moord nie. Hy mos nou dood aan hartaanval. Maar sal nie se hoekom hy die hartaanval gekry het nie.

Lui ·

Plaasaanvalle en moorde word mos net as “huisroof” gesien. Enige swart op wit geweld is “huisroof” self al word bejaardes met bakstene geslaan – “huisroof” maar gaan KFC toe dan is die poging tot moord.

Schalk van der Merwe ·

Jammer Afriforum het nie ‘n kenner om die polisie en aanklaers op hulle foute te wys nie …

Theresa ·

Lt.kol. Mackau: Nee, jy is nie reg nie. HIerdie man sou nog gelewe het (sou nie ‘n hartaanval gekry het nie) as die aanvallers nie sy eiendom betree het en hul aangeval het nie.
Dis maklik, eenvoudig en voor die hand liggend. Dis moord. Doelbewuste oortreding op eiendom. Doelbewuste oortreding deur om iemand se goed te wil steel/mense te beseer. Wapen en mes. Dus nie kom partytjie hou PER UITNODIGING nie. Wanneer gaan mense leer of geleer word om NIE op iemand anders se eiendom te gaan snuffel/speel/loop/wegkruip/kwaaddoen nie. Is ek mal of is dit net hier in ons land wat dit so gemaklik toegelaat word. Sover ek weet, is dit taboe in enige land waar mense hulself as gesofistikeerde landsburgers sien. M a w: dit moet vir almal in die land uitgespel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.