Potch-plaasaanval: Sakeman nié doodgeskiet

Cobus en Lynette van Wyk. Foto: Facebook

Cobus van Wyk (69), die sakeman wat Vrydagaand tydens ʼn plaasaanval buite Potchefstroom in Noordwes gesterf het, is nie doodgeskiet soos voorheen vermoed is nie.

Lt.kol. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn nadoodse ondersoek het bevestig Van Wyk het aan ʼn hartaanval gesterf. Volgens Makau is die saak van moord wat ná die voorval aanhangig gemaak is gevolglik na poging tot moord verander.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het omstreeks 22:30 in die Vyfhoek-omgewing plaasgevind. Volgens die polisie het Van Wyk en een van sy seuns gaan ondersoek instel toe ʼn alarm op die plaas afgegaan het en het hulle drie verdagtes naby die heining gesien.

ʼn Struweling het tussen Van Wyk en sy seun en een van die aanvallers ontstaan en ʼn skoot is in die proses afgevuur. Van Wyk se seun kon glo daarin slaag om ʼn vuurwapen en ʼn mes by die aanvaller af te neem, maar Van Wyk het op die toneel gesterf.

Die aanvallers het van die toneel gevlug. Daar is voorheen vermoed Van Wyk is doodgeskiet, voordat die oorsaak van sy dood deur die nadoodse ondersoek bevestig is.

Makau het gesê Van Wyk se familie vermoed dat die struweling met die aanvaller sy hartaanval veroorsaak het. Die aanvallers was ook glo gewapen en daarom word ʼn saak van poging tot moord ondersoek.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Van Wyk en sy vrou, Lynette, het die Multi Styl-onderneming in Potchefstroom bedryf wat dekorverhuring vir troues en gesellighede doen. Van Wyk se seun, Marius, wou nie Dinsdag kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

AL ·

Dis net so goed soos moord. Hy moes geweldig getraumatiseer gewees het.

Alma ·

My vriendin se pa het ook tydens ‘huis roof aan ‘n hartaanval gesterf. Dit is MOORD!!!

$ ·

As die aanvallers hom en sy geliefdes nie laatnag aangeval het nie, sou hy nie van skok en trauma ‘n hartaanval gekry het nie. Dis in my oë steeds moord.

Michelle ·

Dit is moord, ek stem met almal se antwoord hier bo, dit is skok van die aanval wat hom aan sy hart laat beswyk het. My innige meegvoel met sy geliefdes.

Chris Ws ·

Ek se ook dis steeds ‘n moord saak.Ek wens die’ kriminele kom haal hulle streke by ons uit.Ek haal hulle uit sonder om vra te vra.Geen geld vermorsing om hulle te voer in ‘n tronk nie.

Annie ·

Stem saam met almal dit is MOORD, as hulle nie op sy plaas ingebreek het nie sou dit nie met die arme boer gebeur het nie. Maar weereens word die SKELMS/DIEWE beskerm. RIV oom.

Anel ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie…. nie meer n saak van moord nie… daar is net nie meer woorde oor vir die sisteem nie, hartverskeurend vir die famielie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.