Potch-rugbylegende vermoor: Drie sibbe weer in hof

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna (Foto: Facebook)

Die twee broers en hul suster wat teregstaan op aanklag van moord op die bekende oudrugby- en oudkrieketspeler van Potchefstroom, Sias Willemse (74), het Maandag vlugtig in die landdroshof op dié dorp verskyn.

Die drie sibbe, Petrus Mahlapa (24), Andries (28) en Meriam (20), het tydens hul vorige hofverskyning in Oktober besluit om nie om borgtog aansoek te doen nie. Die drie word aangekla van moord, huisroof en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Dit het al vroeër aan die lig gekom dat Petrus jare lank vir Willemse op sy plaas gewerk het.

Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, sê een van die twee broers het intussen erken dat hy die dag voor die moord in Willemse se huis ingegaan en ʼn vuurwapen uit sy bedkassie gesteel het. Meriam het glo buitekant die huis gestaan en wag.

“Die beskuldigde wat die vuurwapen gesteel het, het die volgende dag saam met sy broer en Meriam na die huis teruggekeer en Willemse agter sy lessenaar in sy studeerkamer aangetref. Hy het Meriam glo beveel om dasse uit die kas in die hoofslaapkamer te gaan haal, wat sy toe gedoen het. Hy het na bewering die dasse om Willemse se nek gebind en hom opdrag gegee om die kluissleutels vir hom te gee,” vertel Mamothame.

Die beskuldigdes het onder meer roomysbakke vol R5-munte van derduisende rande uit die kluis gevat. Hulle het ook ander huishoudelike items gesteel.

Volgens Mamothame het hulle na Parys in die Vrystaat met die gesteelde goedere gevlug.

“In verklarings van winkelassistente in Parys en Potchefstroom het hulle bevestig dat hulle kort ná die moord klante gehad het wat R5-munte vir geldnote wou omruil.”

Die saak is vir eers uitgestel vir verdere ondersoek. Die drie sal in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning op 2 Desember.

Willemse se liggaam is op 22 September in sy huis in Bailliepark in Potchefstroom gevind. Hy is met twee skietwonde in sy nek aangetref. Daar was ook verskeie dasse om sy nek vasgebind.

Willemse is beskryf as ʼn “groot rugbygees en ywerige krieketman” en ʼn ware “Potch-legende”. Hy is ʼn oud-Puk- en oud-Wes-Transvaalse krieketspeler. Hy het ook op sy dag die Potch Dorp-rugbyklub as kranige speler op die veld verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Agter die skerms

Sias Willemse RIV – die drie aangeklaagdes moet maar defnitief bang wees om aansoek te doen vir borgtog. Sy eie werknemer – maar dit is mos hoe dinge werk – dit is nie goed genoeg dat mens vir hulle sorg nie – dan wil hulle meer en meer en meer he en dit eindig op in moord. Dit is net ‘n siek sirkulasie. Oom Sias was net ‘n rustige mens wat net sy lewe wou afsluit in rustigheid

Janee

Geen kommentaar….dis al…dit raak nou ‘n alledaagse storie.
Ons dink en bid vir elke gesin wat deur hiedie vlaag getref is

Misky

Iemand se lewe neem vir n paar roomysbakke vol R5 munte…… die duiwel is lustig en dwaal tussen ons rond

Anel

En dan kan our people nie verstaan hoekom ons hulle nie meer in diens wil neem nie!!!