Potch se oudste skool vier 130 jaar

Die koedoe is eie aan Laerskool ML Fick met die leuse “Altyd getrou”. (Foto: MLFick.co.za)

Laerskool ML Fick op Potchefstroom in Noordwes vier Donderdag sy 130ste bestaansjaar, wat dié skool die oudste Afrikaanse enkelmedium laerskool noord van die Oranjerivier maak.

Volgens Heyns Deacon, waarnemende hoof van Laerskool ML Fick, verloop vanjaar se feesviering vir die skool effens anders en meer gedemp as wat aanvanklik beplan is nadat skole weer te midde van die Covid-19-pandemie gesluit is.

“Dit bly egter ʼn ongelooflike voorreg om deel te wees van hierdie skool met sy ryk geskiedenis waar ons gehalte-onderrig met kultuur, oorspronklike geskiedkundige geboue en vernuwing kombineer,” sê Deacon.

Van die skool se klaskamers spog nog met standsteenblokke en houtvensterrame van die eerste skoolgebou.

Dié skool skrik egter ook nie vir vooruitgang nie, die klein terrein het onlangs ʼn astro-baan vir hokkie en netbalwedstryd bygevoeg. Verder het die skool in Maart verlede jaar met die kleuterskool Kekkel en Kraai saamgesmelt waar kinders van die ouderdom van drie tot gr. R nou “leer deur te speel”.

“ML Fick Kekkel en Kraai spog met die grootste kleuterskoolterrein in Noordwes. Ons glo ook in ʼn informele vorm van onderrig wat daarop fokus dat kinders speel en hulle groot motoriese vaardighede ontwikkel,” sê Deacon.

Laerskool ML Fick is ‘nplek waar almal getrou saamwerk. (Foto: MLFick.co.za.)

Onderwys vir die armes

Onderwys was aan die einde van die 19de eeu ʼn weeldeartikel vir talle van die inwoners van die Suiddorp in Potchefstroom. Gevolglik het net sommige van die dorp se kinders die Publieke Skool in die middedorp bygewoon.

Ds. Marthinus Laurentius (ML) Fick het die nood raakgesien en in Februarie 1890 reeds die saak onder die aandag van die plaaslike skoolkommissie gebring.

Op 30 Julie van dieselfde jaar het die Armenskool, as takskool van die Publieke Skool, sy deure met 99 leerders geopen.

Die skool is gehuisves in die woning van WD Pretorius op die hoek van Kerk- (Walter Sisulu) en Jeugdstraat. Die huis is die oudste bestaande woning in Potchefstroom en is in 1853/54 gebou.

ʼn Onderwysinspekteur het die Armenskool slegs 20 dae ná sy stigting besoek en gerapporteer dat daar toe reeds 120 leerders in die skool was.

Dié skool het vinnig gegroei en Fick het gehelp om ʼn stuk grond op die hoek van Smit- en Greylingstraat te koop om ʼn drievertrekskool in 1892 te bou.

Artikels uit ‘n gedenkblaadjie van dié skool. (Foto: Verskaf.)

Fick ʼn oudstryder vir onderwys

Die laerskool, waar 55 onderwysers tans aan 860 leerders onderrig verskaf, is genoem na Fick wat ook as onderwyspionier bekendgestaan het.

Buiten die Armenskool wat hy gevestig het, was hy instrumenteel in die stigting van die Meriba Skool in die bodorp in 1891, asook die skool wat later Laerskool President Pretorius in Potchefstroom sou word. Hy was voorsitter van albei skoolkommissies.

Die lot van weeskinders ná die Anglo-Boereoorlog het Fick sterk aangetrek en in 1903 het hy ʼn weeshuis tot stand gebring.

In April 1904 het hy vir ses maande in die buiteland gereis om ondersoek in te stel na ambagsonderwys. Die resultaat daarvan was ʼn ambagskool wat in 1906 op die dorp geopen is waar talle weeskinders onderrig is.

Later is die skool verdeel en die huishoudskool vir meisies het later Hoërskool Ferdinand Postma geword terwyl die tegniese skool vir seuns steeds as die Hoër Tegniese Skool bekendstaan.

Die Transvaalse NG-kerk het Fick in 1919 as Armensorg-sekretaris verkies en in 1924 is hy as parlementslid vir Potchefstroom verkies. In dié amp is hy in 1929 en 1933 herkies.

Fick is op 29 Januarie 1955, twee maande voor sy 93ste verjaardag, in die Strand oorlede. Kort daarna is besluit om die Armenskool, wat in die tyd as die ou “South School” bekendgestaan het, tot Laerskool ML Fick te herdoop.

AfriForum se Potchefstroom-tak het hulppakkette aan vyf skole in dié dorp uitgedeel as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek. ML Fick was een van die skole wat ‘n pakket in Junie ontvang het. (Foto: AfriForum.)

Duisende leerders hier gevorm

Lourie van der Merwe, ʼn voormalige skoolhoof van ML Fick, het verlede jaar met die skool se 129ste verjaardag gesê wyle ds. Fick het in sy versiendheid ʼn skool gestig was as heenkome vir ʼn hele klomp kinders gedien het. Sedertdien het duisende leerders hulle vormingsjare hier ontvang.

Sedert die skool geopen het, was daar nog net agt permanente skoolhoofde. Van der Merwe was 36 jaar by ML Fick betrokke en het as onderwyser by die skool begin. Hy het in 2014 die amp as skoolhoof opgeneem nadat sy skoonpa, JHP van der Merwe, ook die sesde skoolhoof van dié skool was.

Deacon is self ook reeds vier jaar by die skool betrokke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Adeline ·

Stunning!! Geluk – oppas net dat die beeld van die bok nie ook deur vernielsugtiges bygekom word nie.

JohanR ·

Geluk Laerskool ML Fick die oudste AFRIKAANSE enkelmedium laerskool noord van die Oranjerivier. Het Panyaza Lesufi nog nie by julle uitgekom nie? Hy laat nie gewoonlik ‘n kaans verby gaan om ‘n net Afrikaanse skool te vernietig nie!

Pieter J ·

Ja JohanR ek stem saam met jou. Lesufi het seker nog nie hierdie berig gelees nie anders was hy lankal op Potch om te kyk hoe hy die situasie kan verander. Sy krulle spring mos regop as hy van ń enkelmeduim afrikaanse skool hoor. Ek dink nie die afrikaanse taal het genoeg toepaslike woorde om my gevoel teenoor hom te beskryf nie.

Scalla ·

Baie geluk met die viering, n voorbeeld vir baie ander skole.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.