Potch-student, vier ander sterf in ongeluk

Marelize Steyn (Foto: Marelize Steyn, Facebook)

“Sy was ʼn beeldskone dame met ʼn hart van goud. Sy het altyd ’n glimlag op haar gesig gehad en haar liefde vir die Here het deur haar geskyn.”

Só sal die meisies van die LaVaria-dameskoshuis aan die Noordwes Universiteit (NWU) vir Marelize Steyn (20) wat Saterdagoggend in ’n gru-ongeluk omgekom het, onthou. Steyn en vier ander mense is dood toe twee ligte motors op die Ventersdorppad in Noordwes trompop gebots het.

Volgens kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het die ongeluk omstreeks 04:30 op die R53-pad tussen Potchefstroom en Ventersdorp plaasgevind. Drie voertuie – ’n silwerkleurige Volkswagen Polo, ʼn silwerkleurige Toyota Etios en ʼn wit Toyota Yaris – was in die ongeluk betrokke. Steyn was in die Toyota Etios.

“Steyn het in die rigting van Ventersdorp gery en die ander twee motors was op pad Potchefstroom toe. Volgens inligting het die Polo die Yaris verbygesteek en kop-teen-kop met Steyn se Etios in die aankomende baan gebots,” vertel Myburgh.

“Vier insittendes in die Polo, twee mans en twee vroue, is op die toneel dood verklaar. Die vyfde passasier in dié motor is met ernstige beserings na ’n hospitaal in Potchefstroom gehaas. Al die insittendes in die Polo is tussen die ouderdom van 30 en 35 en inwoners van Ventersdorp.”

Steyn het op die toneel aan haar beserings beswyk.

Die passasiers in die Yaris het ongedeerd van die voorval afgekom.

Steyn was ’n onderwysstudent aan die NWU en inwoner van die LaVaria-dameskoshuis. Sy kom oorspronklik van Askham in die Noord-Kaap. Haar vriende het haar as ’n “Kalahari-kind” beskryf.

Steyn se vriende en medestudente het op sosiale media hul medelye betuig.

“Sy het altyd met genade, integriteit en deernis opgetree,” skryf Janke Sckonken.

“Ek weet die Here het ’n blink plan met jou gehad. Jy is een van die mooiste beeldskone dames wat ek geken het. Jou ma-hulle het goed gedoen! Jy is só mooi grootgemaak. Ek onthou hoe ek en jy altyd gehuil het as ons terug Potch toe moet gaan om te studeer. Ons al twee is lief vir ons ouerhuis. Jy het ook altyd jou familie gekies. Een van jou mooiste eienskappe,” skryf Johnny Meyer.

“My woorde is min en my hart is so seer, maar die Here kon nie meer wag om sy Kalahari-kind aan sy sy te hê nie. Ons weet jy kyk elke aand hoe die son sak oor die rooi duine en net hoop vir nog ’n bietjie reën, groen velde en vet skapies. Ai, my Marta, wie sou nou raai dat ons laaste gesprek oor ons volgende koffie-date ons laaste sou wees,” skryf Kaylynn Hanekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Sò sò hartseer dat sy haar lewe moes verloor tov ‘n mede pad gebruiker wat nie padreêls gehoorsaam nie. Innige meegevoel en sipatie met haar familie, vriende en mede studente.

Pierre ·

Toe ek die artikel begin lees en “Polo” sien toe weet ek sommer wie die moontlike skuldige party kan wees, Polo bestuurders is dees dae erger as Taxi’s.

VaalDonkie ·

Is een van die redes waarom ek vir my kind ‘n “sportnutsvoertuig” gaan koop. Een met ‘n effense “bullbar”.

Elinette ·

Ek dink ek stem saam met jou, hoewel mens nie moet veralgemeen nie. Ywerige bestuurdertjies (jong laaities) agter die stuur van hulle 1.6 VW Polo’s wat mede-padgebruikers in ander (kleiner) voertuie ‘n “go” wil gee. Hier is so een laaitie hier ook in Worcester, wat gereeld De Doorns se rigting ry met sy 1.6 Polo … maar dié tannie in haar 2014 Hyundai i-20 het hom al gewys: dis nie wát jy ry nie, maar hóé jy ry … hy soek my nou nog op daai stukkie pad ….

koos10 ·

My innige simpatie.
My raad aan alle bestuurders, om moontlik die soort hartseer te vermy, is om ons paaie in die nag/donker te vermy.

Moedeloos ·

Hoekom? As ek by my kinders wil gaan kuier met die aandklok reël, moet ek ook so vroeg moontlik in die pad val. Bestuurders moet net meer oplettend wees en padreëls gehoorsaam veral as dit donker is.

Marlz Johnston ·

Innige simpatie en sterkte aan Marelize se familie

Tiptol ·

Askham, ‘n plek waar mens naby die natuur en God voel. Innige simpatie.

SjN ·

Tragies, simpatie aan die geliefdes, om afstand en spoed te kan insien en implimenteer is bo die vermoe van sekere Polo bestuurders. Hoe het hul bestuurderslisensies gekry?

Flower Girl ·

Hulle moet net die padreels gehoorsaam. Lyk mense vergeet wat hulle in die K53 geleer was. So baie lewens kan gespaar word as dit net sou gehoorsaam word. Sterkte aan haar familie

Mier14 ·

Bitter hartseer. Sulke mooi getuienisse van haar. Sterkte aan haar familie en vriende

Rooikoos ·

Wie was die insittendes van die Polo wat ook oorlede is?

Magda G ·

Nog n onskuldige lewe agv n nalatige/roekelose bestuurder

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.