Potch-vliegongeluk: Oorledenes se name bekend

Die ongelukstoneel vanuit die lug. Foto: Verskaf

Die ongelukstoneel vanuit die lug. Foto: Verskaf

Die twee mense wat Donderdag dood is nadat ʼn ligte vliegtuig by die Potchefstroomse vliegveld neergestort het se name is deur die polisie bevestig.

Sers. Kealeboga Molale, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig die oorledenes is John Higgs (60) en Andrew Ndlovu (28).

Die ligte Ravenvliegtuig het omstreeks 10:00 neergestort en aan die brand geslaan. Daar was geen ander mense aan boord nie. Die oorsaak van die ongeluk word deur die Burgerlugvaartowerheid ondersoek.

Francois Viljoen, eienaar van ʼn vliegskool in Potchefstroom, was op die toneel toe die ongeluk plaasgevind het. Hy het aan Maroela Media gesê die vliegtuig het opgestyg, twee keer oor die aanloopbaan gevlieg en neergestort.

Volgens Viljoen was Higgs, ʼn kontrakteurvlieënier, ʼn bekende gesig by die Potchefstroomse vliegveld en het gereeld van daar af gevlieg. Viljoen het gesê Higgs se lewensmaat was ook op die toneel toe die ongeluk plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.