Potch-vrou met skoenveters gewurg; man pleeg glo selfmoord

Natalie Amier. (Foto: Facebook)

Boodskappe van medelye stroom in ná die moord op Natalie Amier (35), ʼn inwoner van Promosa in Potchefstroom, Noordwes.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, het gesê Natalie se familie het Sondagmiddag na haar en haar lewensmaat se huis in Promosa gegaan om na haar te soek.

“Alles was gesluit toe hulle daar aankom. Hulle het die huisdeur oopgedwing en haar (Natalie) op die slaapkamervloer aangetref.

“Dit lyk asof sy met skoenveters verwurg is. Die familie het die polisie ontbied,” het Tselanyane gesê.

Volgens die polisie het Carlo Amier, Natalie se man, omstreeks 13:30 ʼn familielid gebel en dié gevra om hom by die Promosa-dam te ontmoet. Met sy aankoms daar het die persoon Carlo gevind waar hy aan ʼn boom gehang het. Hy het hom klaarblyklik met sy gordel opgehang.

Tselanyane het gesê die familielid het Carlo losgesny om hom te probeer help, maar hy was reeds dood.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. ʼn Geregtelike doodsondersoek word na Carlo se dood gedoen.

Die paartjie het twee jong kinders. Hulle word in dié stadium glo deur ʼn ouma versorg en was klaarblyklik nie by hulle ouerhuis tydens die voorval nie.

Natalie het lank by De Jonge Akker-koffiehuis op Potchefstroom as kelnerin gewerk. “Ons gaan haar ongelooflik baie mis! De Jonge Akker het ʼn juweel verloor!” het die winkel op Facebook geskryf.

Tientalle ander boodskappe van medelye het ook ingestroom. “Ek is so jammer om te hoor van die tragiese dood van Natalie Amier, wat vir baie lank by De Jonge Akker NWU Pukke gewerk het en die beste kelnerin was wat ek ooit ontmoet het. Ons gaan haar professionaliteit en vriendelikheid by NWU-Pukke baie mis!” het nog ʼn gebruiker ook op Facebook geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SM ·

Ek sukkel om te verstaan hoekom mense hulle partners moet uitwis.. as jy so gatvol is beweeg aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.