Poue, duiwe vrek in Durbanville

22 karkasse is gevind. (Foto: Kaap van Goeie Hoop DBV)

Inwoners van Nerina in Durbanville was Dinsdagoggend stomgeslaan toe 22 voëlkarkasse in en om die omgewing aangetref is. Onder die karkasse was die oorskot van 12 volwasse poue, sewe kuikens en drie duiwe.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie is omstreeks 07:00 na Skilpadvleistraat ontbied nadat talle inwoners die polisie oor die karkasse ingelig het.

Polisiebeamptes het op hul beurt inspekteurs by die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) se natuurlewe-afdeling genader om die karkasse te verwyder. Vyf lewende poue is ook na die DBV se dierehospitaal in Grassy Park vir evaluering en waarneming geneem. Een van die voëls het egter op pad daarheen gevrek.

“Ons het een gesien wat stuiptrekkings kry, asof sy wou braak,” sê Ryan Jonas, ʼn inwoner van Nerina.

Daar word vermoed dat die voëls vergiftig is en die polisie het ʼn saak ingevolge die Wet op Dierebeskerming aanhangig gemaak.

Die DBV het ook ʼn beroep op mense gedoen om op die uitkyk te wees vir voëls wat dringend hulp benodig.

Jonas sê die poue het daagliks hul verskyning gemaak en is al jare lank ʼn bekende gesig in die gebied.

“Ons woon al twee jaar lank in die omgewing en een van die redes waarom ons hier ʼn huis gekoop het, was juis die poue. Hulle is regtig besonders en ons het altyd so bevoorreg gevoel om die omgewing met hulle te deel. Dit was altyd so spesiaal vir my en my vrou om stil te hou om na hulle te kyk.”

Volgens Jonas was die poue rustig en het meestal net rondgedwaal op soek na kos. “Ons het nooit omgegee om te wag as hulle saam met hul kuikens die pad voor ons verbygesteek het nie.”

Hy sê dit was hartverskeurend om die voëls leweloos langs die straat te sien lê.

“Ons het ook vandag in die omgewing rondgery op soek na nog poue, maar dit lyk asof daar net ses of sewe wyfies oor is. Ons weet nie of die poue hier gaan bly voortbestaan nie. Dit is baie hartseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter J ·

Wanneer ons daar in die omgewing kom het ek gereeld ń draai gery sodat my vrou fotos van hulle kan neem. Party mense word mos deur alles en almal om hulle geïriteer. Ek hoop hulle vang die skuldige en sluit hom sommer lank toe sodat hulle hom ń paar lesse kan leer in die tronk.

Veronika ·

Ag nee, dis wreed!! Hoop jy word gevang!! Wat is n ou mooier as ‘n pou wat pronk!!

Regverdigheid ·

Makliker om dood te maak , niks gaan oorbly vir ons kinders se kinders, maar mens kwaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.