‘Power regstelsel’ faal fietsryer se familie

Nino Oppel is in 2018 vir dood gelaat nadat hy van sy fiets afgery is. (Foto: Verskaf)

Die familie van ʼn fietsryer wat in 2018 vir dood gelaat is nadat ʼn motoris hom van sy fiets afgery het, sê hulle het alle vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel verloor – veral nadat die man wat hulle vermoed die skuldige is nou al vier jaar lank wegkom met moord.

Nino Oppel (41) is destyds deur ʼn motor in Muldersdrift van sy fiets afgery terwyl hy besig was om vir die Berge en Dale-fietswedren op te warm. Die motoris het glo van die toneel weggejaag en Nino sterwend agtergelaat.

Hoewel die motoris later in hegtenis geneem is, is hy oënskynlik weens onvoldoende bewyse vrygelaat. Dít terwyl die polisie glo sy beskadigde motor in ʼn motorhuis aangetref het en ʼn reeks ander bewyse het.

Aldo Oppel, Nino se broer wat sedertdien landuit is, sê hy kan steeds nie glo tot watter mate die Suid-Afrikaanse regstelsel sy familie gefaal het nie.

Hy sê dit is skokkend dat die persoon wat hulle vermoed vir Nino doodgery het, nog steeds nie verantwoording vir sy dade gedoen het nie.

“Ek het geen vertroue in Suid-Afrika se regstelsel om ons as burgers se regte te beskerm nie.”

Dít is ook een van die redes waarom Aldo en sy gesin na Mauritius verhuis het.

“Almal moet die reg hê om veilig te voel en deur ʼn betroubare regstelsel ondersteun word,” sê hy.

Nino se weduwee, Daleen, sê terwyl haar man se beweerde moordenaar se lewe normaalweg voortgaan, was die afgelope vier jaar sonder haar steunpilaar uiters taai.

“Dit is moeilik om skielik ʼn enkelouer te wees,” sê die ma van twee laerskoolkinders. “Ek voel dit is tyd dat die skuldige vir sy dade boet.”

Sy het jare gelede AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader om vuur onder die aanklaer in Krugersdorp te maak sodat die motoris vervolg word.

Andrew Leask, hoofondersoeker by die eenheid, het reeds vir die tweede keer die direkteur van openbare vervolging (DOV) genader sodat die skuldige vervolg word.

Nino se dood het die afgelope tyd weer aandag begin geniet ná die tragiese ongeluk waarin André Piehl dood is.

Aldo meen daar kan meer gedoen word om fietsryers te beskerm.

“As ʼn mens kyk na Nino se ongeluk en verskeie ander die afgelope ruk, is dit duidelik dat die wet bloot verontagsaam word. Mense het ook absoluut geen respek vir hul medemens se lewe nie.

“Na my mening is strenger wetstoepassing nodig wat deur ʼn betroubare regstelsel ondersteun word sodat fietsryers en Suid-Afrikaners oor die algemeen beskerm word,” sê hy. “Ons familie is stukkend en dit is steeds baie moeilik vir ons almal om dit te verwerk. Nino se dood het ʼn ongelooflike groot leemte gelos wat nooit gevul kan word nie. ʼn Pa, huweliksmaat, seun en broer is onnodig van ons af weggeruk.”

Daleen sê sy wonder gereeld wat deur die persoon se gedagtes gaan wat hulle glo haar man doodgery het.

“Weet hy wat hy eintlik gedoen het? Besef hy die skade wat aangerig is?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Die oomblik dat so skurk wegjaag van die toneel, is dit sy skuld erkenning. As dit werklik ‘n ongeluk was, sou hy gebly en hulp verleen het. Nee wat, ons regstelsel beteken niks nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.