Power wiskunde-uitslae ‘weens inperkingsmaatreëls’ – SOS

Leerders aan Laerskool Lynnwood, skryf die VAW se gestandardiseerde wiskunde-eksamen. (Foto: Verskaf)

Leerders wat in 2020 minder gereeld by die skool was weens inperkingsregulasies het swakker gevaar in wiskunde tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se gestandaardiseerde eksamens.

Dié eksamens is in November deur Afrikaanse skole afgelê. Luidens die SOS se verslag oor die eksamen, wat Donderdag bekendgestel is, het gr. 5- en gr. 8-leerders besonders swak in wiskunde gevaar. Talle van dié leerders kon nie eens 30% vir die eksamen behaal nie.

Die eksamen, wat in 2018 die eerste keer afgelê is, bied ’n plaasvervanger vir die departement van basiese onderwys (DBO) se Jaarlikse Nasionale Assesserings (ANA’s) wat in 2014 laas plaasgevind het. Altesaam 11 401 leerders in gr. 4 tot gr. 11 het verlede jaar wiskunde geskryf, 5 189 leerders in dieselfde grade het Afrikaans geskryf en 1 298 gr. 6- tot gr. 9-leerders het wetenskap geskryf.

“Uit die uitslae is dit duidelik dat Covid-19-maatreëls, wat sedert Maart verlede jaar by skole ingestel is, ʼn wesenlike uitwerking op uitslae gehad het. Dit was opvallend dat die gr. 5- en gr. 8-groep wat die minste kontaktyd gehad het, baie swakker presteer het as vorige jare en as ander graadgroepe wat meer dae by die skool kon wees,” lui die SOS se verklaring.

(Argieffoto: Unsplash)

“Dit was veral opmerklik in die gr. 5-groep van 2020 se wiskunde-uitslae, waar die gemiddeld 12,2% laer as dié van 2019 (62,8%) was.” Dié groep se slaagsyfer vir wiskunde was 66,5%, teenoor die 92,4% van gr. 4-leerders en die 85,4% van gr. 6-leerders wat geslaag het. Meer as 300 gr. 5-leerders het boonop minder as 30% vir die wiskunde-vraestel behaal. Die afdelings ruimte en vorm het die grootste afname getoon, met leerders wat gemiddeld 20,1% swakker presteer het as in 2019.

“Dit kan wees weens min kontaktyd met vakonderwysers en minder tyd vir hersiening en deeglike vaslegging. Dit dui ook moontlik op tekortkominge in aanlyn onderrig,” lui die verslag.

Ook die gr. 8-groep se graadgemiddeld van 43% vir wiskunde was aansienlik minder as die 48,8% van 2019, wat ook luidens die verslag die gevolg was van min kontaktyd met onderwysers. Die grootste gedeelte van die gr. 8-groep (amper 600 leerders) het minder as 30% vir die wiskunde-eksamen behaal.

Luidens die verslag het die gr. 9-groep van 2020 aansienlik beter as die 2019-groep in wiskunde gevaar, met ʼn gemiddeld van 51% teenoor die 46% in 2019. “Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan beter prestasie in die afdelings getalle, bewerkings en verwantskappe, asook meting. Die meeste van dié afdelings is voor die nasionale afsonderingstydperk behandel.”

Die SOS moedig skole aan om in 2021 aan die gestandaardiseerde eksamens deel te neem ten einde moontlike agterstande weens die Covid-19-inperkings betyds te identifiseer en op grond van die uitslae doelgerig te kan beplan om tekortkominge te ondervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elize ·

Dit is ook kommerwekkend hoe die standaard van onderwysers wat wiskunde kan aanbied geval het.

MakersMark ·

Blameer inperkings die feit dat SA skole al jare die 48 ste plek uit 50 lande ivm wiskunde en wetenskap geletterdheid behaal het niks daarmee uit te waai nie……

Marius ·

Onbevoegde mense in poste . Daar is jare gelede gese dat n wiskunde onnie tenminste n dokters graad moet he , nou wat nou ??

Louwrens ·

Ongelukkig as jy nie in jou jong dae basiese beginsels van rekene leer nie gaan jy altyd sukkel. Jy kan nie iemand logika leer wat nie logika besit nie.

KB ·

Ek het (en ís) geleer dat Wiskunde oefening op oefening is…hoe meer mens die somme doen, hoe beter presteer jy. Verder dink ek dat ouers (in baie gevalle) nie meer betrokke is by hul kinders se huiswerk nie.
Die afwesigheid/onbekostigbaarheid van broodnodige tegnologie in baie huise, het ook sy aandeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.