PPE-tender onwettig, ongeldig verklaar

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Tender van R103 miljoen wat die Gautengse departement van gesondheid kort ná die uitbreking van Covid-19 vir persoonlike beskermende toerusting (PPE) aan ’n maatskappy toegeken het, is nou onwettig en ongeldig verklaar.

Die spesiale tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het dié multimiljoen rand‑tender aan die maatskappy Zakheni Strategic Supplies Woensdag hersien en tersyde gestel nadat die SOE ’n aansoek gebring het.

Zakheni is nou genoop om die wins wat hy uit die tender verdien het, terug te betaal.

Die SOE sê in ’n verklaring ’n ondersoek het aan die lig gebring dat die tender toegeken is sonder dat die regulasies vir openbare verkryging gevolg is.

Die ondersoek het onthul dat die departement se hoof‑ finansiële beampte, Kabelo Lehloenya, op 19 April 2020 ’n kwotasie van Zakheni ontvang het vir die verskaffing aan PPE, onder andere handskoene.

Lehloenya het 24 uur later reeds ’n verbintenisbrief aan Zakheni uitgereik. Luidens die brief sou Zakheni PPE ter waarde van R103 770 000 aan die departement verskaf.

Regter Lebogang Modiba, president van die spesiale tribunaal, het eindelik bevind dat die onreëlmatige wyse waarop die kontrak toegeken is, “’n wesenlike oortreding van die grondwetlike waardes van regverdigheid, deursigtigheid, billikheid, doeltreffendheid en kostedoeltreffendheid is.

“Zakheni is nie geregtig om voordeel te trek uit ’n onreëlmatige kontrak nie. Ek vind dus geen gronde om diskresie uit te oefen om onder die huidige omstandighede Zakheni te laat voordeel trek uit die kontrak nie. Dit is dus net regverdig en billik dat Zakheni beveel word om aan die departement verantwoording te doen vir die winste wat hy verdien het of staan ​​om te verdien uit die twyfelagtige kontrak en van die winste ontneem word.”

Zakheni het nou 30 dae om geouditeerde finansiële state vir die betrokke finansiële jare te verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Astrain ·

Die wins??? Wat van die kapitaal? Alle gelde moet mos terug betaal word?

Juffrou ·

Daar sal NIKS van kom! Hy sal NIKS terugbetaal! Die howe is ń klug én kos die belastingbetalers net geld!

SjN ·

Skelm kaders sorg vir mekàar, hoeveel tjo tjo geld het die gekry wat dit goedgekeur het?

Kokkies ·

Hoekom nou nadat die maskers weg gevat is. Boetie boetie, melk solank hulle kan.

Witbaard ·

So dit beteken dat Zakheni nou 30 dae het om die finansiële state te kook.

Dries ·

Ek eet my velthoed op as daar iets hiervan gaan kom. Gaan die korrupte amptenare wat die tender toegeken het, ook hulle wins? terugbetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.