Praat só met jou spruit oor kinderontvoering, mensehandel

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Kinderontvoering en mensehandel is tans ʼn warm onderwerp tussen Suid-Afrikaners sedert ʼn rits ysingwekkende voorvalle onlangs die hoofopskrifte gehaal het.

Tog is talle ouers onseker oor hoe om dié belangrike kwessie met hulle kinders te bespreek en koester sekere kinders later vrese wat hulle angstig en uitgeput laat.

Volgens Verushka Laubscher, skooleienaar en hoof van Baba Liefies Kleuterskool in Elarduspark, is dit uiters belangrik dat ouers met hulle kinders oor dié onderwerpe moet praat.

“Ongelukkig is daar kinders wat meer geneig is tot angstigheid en daardie kinders kla gereeld in my klas van maagpyn en moegheid omdat hulle sleg geslaap het. Sommige ouers het ʼn geneigdheid om hulle kinders bang te praat, wat te verstane is, want die ouers is self ongelooflik bang.”

Sy voeg by dat kinders reeds worstel met vrees vir die Covid-19-virus en dat daar kommer is oor die bykomende stres wat gewigtige onderwerpe soos kinderontvoering en mensehandel op kinders plaas.

“Ons leer die kinders reeds van vroeg af basiese veiligheidsmaatreëls- en tegnieke, maar daar is ʼn legio maniere om kinders van moeilike onderwerpe bewus te maak sonder om hulle te traumatiseer,” sê sy.

Charmaine van der Spuy, ʼn spelterapeut van Pretoria, sê dit is belangrik dat ouers insiggewende inligting met hulle kinders deel in ʼn taal wat hulle verstaan. Ouers moet ook bewus wees van hulle eie denke en lyftaal tydens die gesprek.

“Om vir jou kleuter te sê dat hy of sy gesteel gaan word of dat hulle ontvoer gaan word, is abstrakte konsepte wat hulle nie verstaan nie. Omdat hulle dit nie verstaan nie, is hulle bang daarvoor. Die wyse waarop die inligting aan hulle oorgedra word, maak die wêreld se verskil.”

Vir kleuters stel sy voor dat ʼn storie vertel word in die vorm van byvoorbeeld ʼn poppekas. “Die inligting oor die kwessies moet insiggewend wees eerder as om vrees te kweek. ʼn Poppekas wat die storie vertel van Sneeuwitjie wat nie die nare koningin moes vertrou nie of Rooikappie wat vir Wolf se streke geval het toe hy homself as haar ouma voorgedoen het, sal jou jong kind help om te verstaan dat mense met ʼn onskuldige voorkoms dikwels nie so onskuldig is nie en andersom.”

Die skoolgaande kind kan meer abstrak dink, en vir hulle is rolspel – waar ouers ʼn scenario uitspeel en agterna vrae vra om die kind te help om gevaartekens te identifiseer – doeltreffend.

“Deur speletjies te gebruik om konsepte oor te dra, is daar ʼn aspek van pret en sodoende skakel jy die vrees uit,” verduidelik Van der Spuy.

Ouers moet ook altyd seker maak dat dit lyk asof hulle in beheer van ʼn situasie is. “Sodra jou kind agterkom jy is nie in beheer nie, beleef hy of sy instinktief vrees. Inligting moet dus op ʼn koel en kalm wyse oorgedra word, sodat jou kinders nie jou paniekerigheid ervaar nie.”

Van der Spuy deel ook ʼn paar ander praktiese wenke oor hoe om met jou kind hieroor te gesels en veiligheidsvaardighede te kweek:

  • Leer jou kind om sy lyf en instinkte te vertrou. “Sodra sy lyfie ongemaklik is, moet hy weet dat hy homself uit die situasie moet verwyder.”
  • Leer jou kind om te skree wanneer hy in gevaar is, maar dat hy woorde soos “Help my” of “Jy is nie my mamma nie” moet skree. “Kinders is geneig om te skree wanneer hulle speel en daarom sal niemand ʼn oog knip indien jou kind sommer net gil nie. Daarom is dit belangrik om woorde te koppel, sodat omstanders kan weet hy is besig om alarm te maak.”
  • Leer vir jou kind ʼn geheime woord of teken wat net julle gesin ken waarmee hy jou in ʼn restaurant of ander openbare plek kan laat weet dat hy nie gemaklik voel nie. “My kinders weet ook dat iemand wat nié ons geheime teken ken nie, hulle nooit by die skool sal kom haal nie en indien iemand wel probeer, moet hulle dadelik ʼn onderwyser in kennis stel.”
  • Indien jou kind nog huis toe stap van die skool af, identifiseer sekere plekke langs die pad waar hy kan afdraai of aanklop indien hy voel hy is in gevaar. “Dit moet mense wees wat jy as ouer ook vertrou.”
  • Wees versigtig met jou woordeskat. “Gebruik eerder ʼn frase soos: ‘Ons moet paraat wees, sodat iemand jou nie by Mamma wegvat nie’ eerder as: ‘Jy moet pasop, want iemand gaan jou steel’. Gebruik ʼn taal wat jou kind verstaan en praat op sy vlak met hom.
  • Moenie aanneem dat jou kind van hierdie wenke bewus is nie. “Ons dink omdat hulle van kleins af goed soos ‘moenie met vreemdelinge praat nie’ leer, weet hulle hoe om hulleself te beskerm. Dit is nie so nie. Ons moet hulle hiervan leer en seker maak hulle weet presies wat om te doen wanneer hulle onveilig voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Byekonfyt ·

Jip. Dis van kardinale belang. Ons as ouers mag nie terugdeins nie.

shari ·

Help nie om die kinders bang te praat of angsbevange te laat nie.Gee hulle die feite soos dit is en laat hulle weet waaroor dit alles gaan.Ons lewe in gevaarlike tye

Anon ·

Die sistematiese, onbewustelike implimentering van sielkundige en fisiese verdrukking d.m.v vrees want vrees móét ons vrees want ons regering wil ons na kommunisme oorskakel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.