Praktiese raad, wenke vir tuissorg van Covid-pasiënte

(Argieffoto: Pixabay)

Met die derde vlaag van Covid-19 wat tans ʼn skadu oor Suid-Afrika gooi, is hospitale landswyd weereens oorweldig deur die toename in gevalle wat mediese sorg nodig het.

ʼn Groot aantal Covid-pasiënte kan egter doeltreffend tuis versorg word deur ʼn familielid of ander persoon wat saam met hulle in die huis woon.

Maroela Media het by dr. Amaan Panday, ʼn internis by die Panorama Mediclinic in Panorama, Kaapstad, aangeklop vir praktiese raad en wenke vir die tuisversorging van ʼn Covid-pasiënt:

  • Eie spasie. Indien moontlik, gee vir die pasiënt sy eie kamer en badkamer en probeer om nie ʼn kombuis te deel nie. Berei liewer vir die pasiënt kos voor en neem dit vir hulle. As hulle die kombuis moet gebruik, maak seker dit word na die tyd gesaniteer.

“Moet ook nie leefareas deel nie en behou ten alle tye ʼn afstand van een en ʼn halwe meter. Dra ook deurentyd ʼn masker en wees streng oor hande was en algemene higiëne,” sê Panday.

  • Saturasie (suurstofvlak). Benewens die pasiënt se temperatuur, is die belangrikste ding wat gemonitor moet word die pasiënt se suurstofvlak. Die ideale suurstofvlak is 95% en hoër, maar hospitale stuur meestal pasiënte huis toe wie se suurstofvlakke 90% en hoër is.Oksimeters wat aan die voorpunt van die wysvinger geplaas word om die suurstofvlakke te meet, is aanlyn by Takealot beskikbaar, asook by groot farmaseutiese handelaars soos Dis-Chem en Clicks.

“Pasiënte wat kortasem raak, raak dikwels angstig en blou van gelaat. Die oksimeter kan help om te bepaal of die pasiënt dringend mediese hulp nodig het,” sê Panday.

“As ʼn persoon se suurstofvlak by 87% en laer draai, is dit groot rede tot kommer en moet hy hospitaal toe gehaas word, hetsy deur ʼn familielid of per ambulans.”

  • Korrekte medikasie. Hoewel daar verskillende nasionale en selfs provinsiale riglyne is, is die meeste mediese praktisyns dit eens dat geen virale infeksie, hetsy dit Covid-19 of ʼn verkouevirus is, met antibiotikum behandel kan word nie. Covid-19 word ook nie met antibiotikum behandel nie, tensy ʼn sekondêre, bakteriële infeksie vermoed word.

Aangesien daar ook nie ʼn kuur vir Covid is nie, behandel dokters dit simptomaties met pynmedikasie soos ibuprofeen en parasetamol. Vitamien C-tablette, ACC200 en sink-tablette bied ook ondersteuning. Pasiënte kan moontlik ook met steroïede behandel word om die longe te versterk. Steroïede word meestal toegedien wanneer ʼn pasiënt asemnood ontwikkel, hoewel daar uitsonderings is.

  • Gee die immuunstelsel ʼn hupstoot. Vermy sigarette en alkohol, aangesien dit die immuunstelsel verswak en die virus kans gee om verdere skade aan te rig. Obesiteit, hipertensie en long- en lewersiektes is die grootste rede waarom jonger pasiënte sieker word.
  • Voorkoming is beter genesing. Dra ʼn masker en was gereeld jou hande. Behou sosiale afstand en moenie die huis verlaat tensy dit noodsaaklik is nie.

“Die nuwe Delta-variant is uiters aansteeklik en ʼn mens kan op enige plek daarmee in aanraking kom,” sluit Panday af.

Dr. Rian van Schalkwyk, ʼn mediese praktisyn van Windhoek, Namibië, het ook die volgende praktiese wenke gedeel vir Covid-19-pasiënte om hul immuunstelsels ʼn hupstoot te gee en te versterk:

  • Bly weg van gemorskos.
  • Bly goed gehidreer. Drink sowat 2,5 l louwarm water per dag en vermy koue drankies. Drink tee met suurlemoen en heuning en hou die keel nat deur gereeld klein slukkies te neem.
  • Eet groente en vrugte, al word smaak- en reuksintuie sowel as die eetlus aangetas.
  • Neem vitamiene D en C sowel as sink.
  • Rus en kry genoeg slaap.
  • Bly warm.

Van Schalkwyk sê die virale blootstelling per dag moet ook beperk word. Dit kan gedoen word deur die volgende riglyne te volg:

  • Gorrel met Betadine-mondspoelmiddel. Jy kan ook sout en koeksoda by die mengsel voeg.
  • Stoom met water en Vicks.
  • Spoel die neusholtes met soutwater en voeg gekonsentreerde Betadine-druppels by.

Sy wenke om longvolume te behou is die volgende:

  • Vermy dit op plat op jou rug te lê en slaap op jou sy of op jou maag.
  • Doen gereeld boks-asemhalingsoefeninge (ook genoem vierkantige asemhaling; box breathing): Haal vir vier sekondes deur jou neus asem, hou dit vir vier sekondes in en asem dan met mening uit deur saamgeperste lippe vir vier sekondes. Doen dit vyf keer en op die vyfde uitaseming, forseer twee hoese uit.
  • Jy kan ook oefen deur ballonne op te blaas met drie asemteue, of borrels in ʼn glas water blaas met ʼn strooitjie.

Van Schalkwyk voeg laastens by dat dit belangrik is om na jou emosionele welstand om te sien.

  • Probeer kalm en rustig bly en hou noodnommers byderhand.
  • Vorm ʼn netwerk van vriende en familie wat kan help met noodsaaklikhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

DieKriek ·

Wat ek graag wil weet, wat doen n enkelma, met bv n 3-jarigr, wat siek word? Moet die kind na n familielid toe gaan of moet sy by haar ma in isolasie bly?

Cherokee ·

Kriek, jou vraag is nie duidelik nie. As die ma of die 3jarige siek word? As watter een siek word? Indien die ma siek is, kan jy tog nie die kind in risiko plaas nie.

DieKriek ·

Skuus, Cherokee, wat gebeur as die ma siek word?

Niemand is nog siek nie maar soos dit nou aangaan is die vraag wanneer gaan jy siek word, nie of jy gaan siek word nie.

Marianna ·

Wat van Ivermectin?? Hoekom vermy dokters dit? Dit werk!!!!

Miskruier ·

Dit doen solank mens gou genoeg daarmee begin. Dus sodra jy siek voel begin dit gebruik.

Leeuwyfie ·

Baie dankie MM. Met sulke inligting kan mens pro-aktief werk daaraan. Elke pasiënt verskil en die dokters probeer alles in hul vermoë om hul pasiënte deur te trek. Of dit ivermectin, suurlemoensap met kookwater, antibiotika, vitamine, kortesoon, kuraflo is. Hulle probeer dit. Vir die wis en die onwis. Hopelik werk iets, want almal reageer anders. Die oxymeter is so belangrik. Dit gee mens ook net bietjie gemoedsrus as jy sien jou suurstof is bo 90. Dit kos so R500. ‘n Nubelizer is ook ‘n moet. Jy kan ook met acc nebuliseer.

Miskruier ·

Het n oxymeter gekoop vir R250 ons sanitize dit en leen dit aan ander ook.

Miskruier ·

Spandeer elke dag n tydperk in die son met kaal arms of bene. Dit lig die gemoed en die liggaam kan vit D vervaardig.

Miskruier ·

Drie kommentare waarvan twee direk geplaas word en die een oor ivermectien ge modureer word. Sê baie.

Theo ·

Dis tog absoluut verstommend dat daar deur die medikus geen melding van beproefde behandelings gemaak word nie. Dis eintlik krimineel nalatig behalwe as dit uit onkunde is. Daar is ‘n oorsig van 60 kliniese studies wat almal die effektiwiteit van ivermektien bevestig, dis goedgekeur vir aanwending maar nee, dit “werk nie”. ‘n Mediese navorser Dr. Chetty van Port Edward vertel hoe hy 4000 pasiênte in en om PE gesond gedokter het met steroiede en antihistamien wanneer hulle klokslag op dag agt met erge inflammasie, hiperallergiese reaksie en kortasem gepresenteer het. Nie een is dood of gehospitaliseer nie. Kyk onderhoud deur dr Mobeen Syed met hom op youtube.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.