Prasa hervat sekere treindienste  

Minister Fikile Mbalula tydens sy besoek aan Pretoria-treinstasies. (Foto: @MbalulaFikile/Twitter)

Die Passasierspooragentskap (Prasa) sal Woensdag beperkte dienste hervat nadat treindienste maande lank nie beskikbaar was nie weens die landwye algehele afsondering.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Dinsdag treinstasies in Pretoria besoek voordat hy aangekondig het dat hy tevrede is dat passasiers weer vervoer word.

Volgens Prasa sal Covid-19-higiëne-protokolle streng nagekom word, wat sosiale afstande op platforms en treine insluit. Die dra van gesigsmaskers wat die mond en neus bedek, sal ook streng toegepas word.

ʼn Beperkte diens sal geleidelik landwyd deur Prasa ingestel word. Aanvanklik sal net vier roetes beskikbaar wees. In Gauteng sal die Pretoria-Pienaarspoort-roete hervat word, in die Wes-Kaap sal treindienste tussen die Kaapstad- en Retreat-stasie hervat word en in die Oos-Kaap sal die Oos-Londen- en Port-Elizabeth-treindienste hervat word.

(Foto: @MbalulaFikile/Twitter)

Prasa het ʼn beroep op pendelaars gedoen om vroeër by stasies aan te kom sodat daar ekstra tyd is vir sifting en om hul hande te ontsmet. Passasiers wat simptome toon wat verband hou met Covid-19 sal nie in die stasies toegelaat word nie en sal na ʼn houfasiliteit geneem word waar verteenwoordigers van die gesondheidsowerhede aan hul sal aandag gee.

“Geen informele handelaars mag buite die stasiehek, binne die stasie, op die platforms en op die treine werk nie. Boonop sal geen eet- of drinkgoed in die stasies of op treine toegelaat word nie.”

Prasa het gesê sy operasionele treine sowel as hoëvolume-areas in die stasies sal gereeld behoorlik skoongemaak en ontsmet word.

“Passasiers word aangemoedig om te alle tye gehoor te gee aan die sosiale afstand-merkers in die treine sowel as by die kaartjieskantore en op die platforms.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.