Prasa-hofsaak aangehoor: ‘Peters het mag misbruik’

Popo Molefe, die voormalige voorsitter van die Prasa-direksie, in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: ANA

Popo Molefe, die voormalige voorsitter van die Prasa-direksie, in die hooggeregshof in Pretoria. Foto: ANA

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag uitspraak voorbehou in die dringende aansoek wat Popo Molefe, die voormalige voorsitter van die Prasa-direksie, gebring het om Dipuo Peters, minister van vervoer, se besluit om Prasa se direksie te ontbind tersyde te stel.

Peters het die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se raad op 8 Maart ontbind, nadat die raad die voormalige waarnemende hoof, Collins Letsoalo, vroeër vandeesmaand uit sy posisie verwyder het omdat hy sy salaris met 350% na R5.9 miljoen verhoog het.

David Unterhalter, vir Molefe, het in die hof aangevoer die minister het irrasioneel opgetree deur die raad te ontbind en haar besluit was buite wetlike perke geneem. Hy het gesê Peters se besluit was ʼn misbruik van mag en ʼn irrasionele uitoefening van statutêre mag.

Hy het verder beklemtoon die raad beheer Prasa en Letsoalo se mandaat sluit in dat hy aan die raad rapporteer, dus is hulle by magte om hom uit sy pos te verwyder. “Die raad het oorgenoeg rede gehad om Letsoalo af te dank. Hulle het die voorskrifte van Letsoalo se aanstelling gebruik om hom af te dank.”

Letsoalo word daarvan beskuldig dat hy nie deur die vergoedingskomitee gewerk het toe hy sy salaris na R5.9 miljoen per jaar verhoog het nie. Unterhalter het gesê die raad het inteendeel definitiewe stappe geneem om mense wat die welstand van Prasa bedreig, aanspreeklik te hou.

Hy het aangevoer Peters het impulsief opgetree, aangesien sy mense “verwyder” het wat nie meer raadslede was nie. “Sy het die raad sonder enige diskresie verwyder. Sy het mense verwyder wat nie eens meer deel van die raad was nie,” het hy gesê.

Etienne Labuschagne, Peters se regsverteenwoordiger, het Unterhalter se argument teengestaan en gesê die verwydering van die raad was deel van die beplanning, aangesien die raad ʼn geskiedenis van swak prestasie gehad het. “Daar was goeie rede vir die verwydering van die raad. Wanadministrasie en onreëlmatige uitgawes was volop en het al meer geword. Die verwydering van die Prasa-raad is gedoen weens hul versuim om hul oorsig-rol te vertolk,” het Labuschagne gesê.

“Die minister het die raad al vir langer as ʼn jaar veroordeel oor Prasa se swak prestasie onder hul toesig. Die raad het versuim om behoorlike finansiële risikobestuur en verkrygingstelsels in te stel, soos openbare finansiële bestuur vereis.”

Popo Molefe, die voormalige voorsitter van die Prasa-direksie, buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: ANA

Popo Molefe, die voormalige voorsitter van die Prasa-direksie, buite die hooggeregshof in Pretoria. Foto: ANA

Labuschagne het gesê die raad het ook betalings aan hulself goedgekeur wat onreëlmatig was. Hy het gesê die minister en die parlement het geëis dat die geld terugbetaal word, maar die raad het geweier om dit te doen.

Volgens Labuschagne het Letsoalo behoorlike finansiële risikobestuur en verkrygingstelsels ingestel. “Hy het die raad gegrief deur te eis dat hulle die onreëlmatige betalings terugbetaal wat hulle aan hulself gemaak het,” het hy gesê.

Molefe het buite die hof gesê hy is nie geraak deur wat Letsoalo gesê het nie en dat dit vir hom niks beteken nie. “Ek is ʼn professionele persoon en ek het al in my lewe met hierdie soort mense te doen gehad, wat wilde bewerings sal maak en selfs lieg. Dit is nie iets wat ek gaan najaag nie, dit is klein kwessies,” het Molefe gesê.

“Ons het ʼn probleem met respek wat teenoor die Grondwet getoon moet word en die wetlikheid van die minister se optrede en haar rasionaal daaragter. Dit is waarop ons saak berus.”

Molefe het bewerings dat die raad geld skuld, ontken. “Geld is aan direkteure betaal vir ekstra werk wat hulle gedoen het. Dit is ʼn beginsel wat in genoteerde en ongenoteerde maatskappye geld.”

ʼn Vroeëre hofaansoek van Letsoalo, om een van die respondente in die saak te wees, is met koste van die hand gewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

DPJ ·

Dit is tragies om te sien hoe mense in sekere mags posiesies hulle magte misbruik en nie landsbelang eerste stel nie.

Johanna Botha ·

Daar tref sy ook nou n popo … onkundig en minagtend is al zuma se mense …en dis hoekom SA nou in so n gemors is ….hoop 2019 kry hulle n hard pak !

w ·

Oe lala. Dis leka ini nuwe SA. Ons prop ons bankrekeninge vol vol vol. En niemand lig n vinger om dit te stop. Twyfel of ANC sal pak kry by stembus want hul belowe net wee n hamper vi di miljoene ongeskooldes en voila da kry hul stemme. Res van Afrika is mos n goeie voorbeeld en as hul ni in hul land kand survive dsn vlug hul

Chris Ws ·

Plaas die minister eerder haar aandag aan die padveiligheids kwessie wy.Daar sterf jaarliks 14,000 plus mense op ons paaie maar sy is TE SLEG om iets daadwerkliks daaromtrent te doen.

Realis ·

Dit waarvoor ons al 23 jaar wag. Hond vreet hond. Dit het deur die hele Afrika gebeur en ons is geen uitsondering nie. Ek voorspel dit gaan nog erger word tot ‘n nuwe bedeling oorneem.

zoom zoom ·

Hulle volg net NR1 se voorbeeld. Gaan alles oor I ME and MYSELF

WitBlits ·

Wat my altyd verstom is dat die meeste politici altyd deur wittes verteenwordig word wanneer hulle eie sake op die spel is, maar ander tye word kwotas en swart ekonomiese bemagtiging op alle vlakke tot die uiterste gedryf. Nou wonder ek in my helder oomblik hoekom sou dit so wees………….?

Adam ·

Jy is doodreg, Realis, deur te beweer “hond vreet hond”. Dit is skokkend om te sien hoe roekeloos die regering optree. Selfs die howe word nie eens gerespekteer nie. Interressant genoeg is daar boonop die “my enemy’s enemy is my friend” verkynsel wat al hoe meer kop uitsteek, namate die hopelose politieke dwergies teen die een draai en met die ander saamspan. Soos jy tereg noem sal slegs ‘n nuwe regering ‘n beter bedeling kan skep, maar dit sal waarskynlik eers 40 jaar na 1994 werklik vrugte oplewer. Die ANC is weliswaar besig om in te plof, maar die res van die politieke aanbod lyk ook maar treurig. Die sewentiger jare se Pack for Perth manne was toe nie so dom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.