Prasa-hoof afgedank

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het sy uitvoerende hoof die trekpas gegee.

Zolani Matthews, Prasa se uitvoerende hoof, is afgedank. (Foto: Prasa)

Die raad het Donderdag gesê hy het eenparig besluit om Zolani Matthews se dienskontrak met onmiddellike inwerkingtreding op te skort.

Die besluit volg op ʼn ondersoek deur ʼn senior advokaat om te bepaal of Matthews doelbewus versuim het om inligting oor sy dubbele burgerskap aan Prasa bekend te maak.

Die raad sê Matthews se dienskontrak stipuleer duidelik, as een van die sleutelvereistes, dat sy kontrak net bekragtig sal word as hy sekerheidsklaring kry. Die Staatsveiligheidsagentskap wou egter nie hoogs geheime veiligheidsklaring – of enige ander veiligheidsklaring – aan hom verleen nie.

“Tydens die ondersoek deur ʼn senior advokaat het mnr. Matthews die geleentheid gehad om sy weergawe mondelings en skriftelik deur die regsverteenwoordiger te stel. Sy regsverteenwoordiger was ook teenwoordig toe die advokaat tydens die ondersoek ʼn onderhoud met hom gevoer het.”

Die uitslag van die ondersoek was teen Matthews.

“Die raad het die verslag in ʼn baie ernstige lig beskou en met die aanbeveling saamgestem.”

Matthews is in Februarie vanjaar deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, as uitvoerende hoof van die sukkelende Prasa aangestel. Net ’n maand later het Mbalula berigte gekap dat Matthews te oud vir die werk is. Daar is destyds berig Matthews kwalifiseer nie vir die aanstelling nie omdat hy 64 jaar oud is. Prasa se beleid bepaal dat werkers by die agentskap op 63 moet aftree.

Die raad sal nou begin met die proses om weer ʼn nuwe hoof te werf.

Geen verdere inligting oor Matthews se “dubbele burgerskap” is in die verklaring bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jack ·

So gaan dit.Geen praktiese reel geld nie.Te oud- Geen probleem die ANC stel aan soos hulle wil.Onbevoeg- Geen probleem die ANC stel aan wie hulle wil en ‘n krimineel – Geen probleem die ANC hou van misdadigers in hulle poste.Ons kan dus sien dat die onbevoegde en hopelose Fikile Mbalula wat net St2 het eenvoudig net maak en breek soos hy wil.Of Prasa ten gronde gaan is nie regtig die kwessie nie.Solank daar elke maand geskep kan word kan alles maar met tyd omval en ten gronde gaan.Die leuse van die ANC

Jaco ·

Hoekom in dié simpel SA bly as hy wel ook Britse burgerskap het? Die lewe is 1000 maal beter in Brittanje as in SA. Dink net, GEEN beurtkrag, lae misdaad, skerp polisie wat misdaad vasvat, ordentlike munisipale dienslewering, beste openbare vervoer ter wêreld, en en en. My lys is eintlik BAIE langer.

Di ·

Ja maar DAAR kan korrupsie nie so mildelik plaasvind soos hier nie. Wil net in poste gaan sit om alle ander redes as om ‘n diens te lewer.

Henning ·

Jaco jy is reg, hy is n Britse burger. maar hulle het nie die beste openbare vervoer in die wereld nie….hulle is vierde na Singapore, Hong Kong, en Berlyn

Chris dupreez ·

Is die enigste kwalifikasie vir n bestuurspos ,wat die anc vereis, om goed te kan lieg .?

Thelsa ·

Dis duidelik dat daar nie vooraf enige inligting oor die kwalifikasie geverifieer is nie. Ons doen sommer aanstelling so oor ‘n glas Johnny Walker Black. Lekker vet pakket wat hy seker nou kry.

lodewyk ·

En hy gaan seker met n stewige hand skud gegroet word ,soos n sekere CEO by Eskom wat R30 miljoen rand gekry het vir n jaar en half se diens by Eskom,en die ou kom ook van Spoornet daai tyd af???

Kokerboom ·

Die lys van onbevoegde kaders wat nog op ANC soustrein moet ry is lank. Die heer is verseker van ‘n heerlike pensioen op belastingbetaleronkoste. Prestasie is NOOIT ‘n vereiste. Skande

Di ·

Dis is tyd dat AL die “OU mense” in die regering aftree! Van hulle is hopeloos te oud om nog die werk te doen. As sekerheidsklarings op al die Regeringsamptenare gedoen moet word sal die minium goedgekeur word, selfde geld ook vir al die SAW en SAPD lede.

Hennie J ·

Shame, die arme Fikile en Prasa. Hulle kan maar net nie n kader/pel vanuit die geledere van our people kry wat bevoeg is om die joppie te doen nie. Verder as eie geledere sal hulle beslis ook nie soek nie!

pompies ·

Inwerklilheid moet Mbalula uit sy sak vir hierdie aanstelling ondersoek en gemors betaal. Maar nee julle paar belasting betalers sal betaal volgens hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.