Prasa-man oorleef derde rooftog in 4 jaar

Vernon Brynard het tien steke in die wond aan sy arm gekry en sterk nou tuis aan. Foto: Verskaf

Vernon Brynard (56), ʼn senior administratiewe beampte van Metrorail in Soutrivier in Kaapstad, het Maandag ʼn derde gewapende rooftog die afgelope vier jaar oorleef.

Brynard was omstreeks 04:00 op pad werk toe en het by die Tygerberg-stasie vir sy trein gewag. Hy is toe deur sewe mans oorrompel en met ʼn skerp voorwerp in sy arm gesteek. “Hulle het my treinkaartjie, my ID-kaart en my motorsleutels gevat. Ek laat altyd my selfoon by die huis as ek gaan werk,” het Brynard aan Steve Harris, algemene sekretaris van die United National Transport Union (Untu), vertel.

Die boosdoeners het probeer om Brynard se motor uit die parkeerarea te steel, maar kon vanweë die motor se alarmstelsel nie daarin slaag nie. Hulle het die voertuig net daar gelaat en laat spaander.

Brynard het by die Parow-polisiekantoor gaan aanklop vir hulp.

Hy het tien steke in die wond aan sy arm gekry en sterk nou tuis aan.

Sonja Carstens, woordvoerder van Untu, sê in ʼn verklaring Brynard werk al 38 jaar lank vir die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) en dit is nie die eerste keer dat hy beroof word terwyl hy op pad is werk toe nie. “Op 29 Maart 2017 om 04:30 is Brynard by die Koeberg-depot oorval deur ʼn gewapende rower wat van agter gekom en ʼn vuurwapen in sy rug gedruk het. Sy selfoon en bril is gesteel,” sê Carstens.

In 2015 het Brynard weer deurgeloop toe ʼn groep gewapende rowers hom by die Kraaifontein-stasie van sy selfoon beroof het.

“Ek het genoeg gehad, maar wat kan ek doen? Ek het my werk nodig om te oorleef. Ek kan net bid dat ek oorleef tot my aftrede oor ses jaar,” sê Brynard.

Hy sê hoewel hy ʼn motor het, kan hy nie bekostig om elke dag werk toe te ry nie en is hy afhanklik van die trein. “Ek moet al soggens teen 04:00 die trein haal om te verseker dat ek nie laat is vir werk nie. Dit is ʼn aaklige gevoel om in die oggend uit jou huis te stap met daardie onsekerheid of jy vanaand lewend gaan terugkeer.”

Brynard sê hy hoop dat hy ʼn bevordering kan kry sodat hy genoeg kan verdien om met sy motor werk toe te ry.

Harris het die aanval op Brynard veroordeel en gesê dit is duidelik dat die SAPD nie in staat is om die publiek of Prasa-werknemers op die treinroetes te beveilig nie. “As dit nie kriminele is wat hulle aanval nie, is dit Prasa se swak infrastruktuur wat hulle in die steek laat,” sê Harris.

Hy sê Untu het begin met regstappe om dr. Blade Nzimande, minister van vervoer, te dwing om dringend ʼn oplossing te vind vir voortgesette aanvalle op Untu-lede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jakes ·

Hy is n senior admin beampte en steeds betaal julle hom so n swak salaris dat hy nie eers met sy eie kar kan werk toe ry nie?
Ai, en dan word miljarde vermors deur prasa.

Sterkte aan hom.

LD ·

Uiters swak dat hulle hom so min betaal dat hy nie eers sy eie voertuig kan gebruik werk toe en terug nie! 38 jaar lank vir ñ plek werk en hulle betaal hom so min…. sy velkleur is nie reg nie! Want party “ander gelukkiges” stap by ñ plek in met geen kwalifikasies of ondervinding van enige aard nie en word ñ massiwe salaris betaal vir sit en niks doen nie! Suid Afrika gaan al meer agteruit en ons blanke mense word verdruk!!

Skandelik ·

GEE VIR DIE MAN ‘N PETROL TOELAAG DAT HY DIE PETROL KAN BETAAL VIR SY KAR .. JULLE IS INHALIG … ander senior manne kry miljoene en die arme man moes al drie aanvalle afweer net om by die werk te kom om JULLE Te dien… SKANDE MAN SKANDE . hoeveel kry PRASA se grootkoppe???? GEE Vir die man ‘n petroltoelaag .. !!

wraggies ·

Meneer, ek stel voor dat jy alle prosesse tot jou beskikking gebruik, dat vroë aftrede bewerkstellig word. Oor ses jaar sal jy dalk nie in staat wees om op pensioen te gaan nie, en met die PIC se korrupsie sal jy dalk nie kry wat jy verwag nie.

Sê net ·

En ek was aan geraai om met die trein werk toe te ry toe ek daar gebly het. Wat ñ grap.

Gys ·

Hierdie is loshande die hartseerste berig wat ek in donkiejare gelees het.
Baie meer hartseer as babas wat weggegooi word.
Selfs ‘n tikkie meer hartseer as diere wat mishandel word.
Ek wens so ek het ‘n besigheid gehad sodat ek vir hom ‘n tipe admin pos kon aanbied.
Is Afriforum of Solidariteit nie dalk lus om vir hom iewers ‘n werk aan te bied nie? Enige werk.

aj ·

Bewapen en verdedig jou self! Niemand anders gaan dit doen nie. Dis nou OORLOG!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.