Prasa misbruik monopolie, bevind kommissie

(Argieffoto: Facebook)

Die Mededingingskommissie wil die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) beboet omdat dié glo sy monopolie van die bedryf misbruik deur buitensporige fooie vir busdienste te hef. Die kommissie wil nou hê die mededingingstribunaal moet Prasa opdrag gee om ʼn boete gelykstaande aan 10% van hul jaarlikse omset te betaal. Die tribunaal moet ook ʼn bevel uitreik wat Prasa verplig om op te hou om sy monopolie oor Parkstasie in Johannesburg te misbruik.

Die kommissie het ʼn ondersoek gedoen nadat verskeie klagtes van interprovinsiale busdienste ontvang is. Daar is bevind dat Prasa buitensporige toegangsgeld op busdienste hef, terwyl die busdiens Autopax, wat met Prasa geaffilieer is, onregverdig bevoordeel word by Parkstasie in Johannesburg. Die ondersoek het daarop gedui dat Prasa Autopax meer ruimte binne die stasie bied en ook Autopax se mededingers toegang tot die stasie verbied of hul toegang beperk.

“Prasa is alleeneienaar en bestuurder van intermodale fasiliteite (waar vragte oorgelaai word of passasiers oorklim van een wyse van vervoer na ʼn ander) in Suid-Afrika. Parkstasie is veral sentraal geleë om verskillende tipes vervoer aan passasiers in Gauteng beskikbaar te stel. Daar is geen alternatiewe intermodale fasiliteit in Johannsburg nie,” sê die kommissie Dinsdag in ʼn verklaring. “Prasa se intermodale fasiliteite is dus onontbeerlik vir busoperateurs én passasiers om gerieflik en veilig van een wyse van vervoer na ʼn ander oor te skakel.”

Argieffoto van ‘n Intercape-bus (Foto: Intercape, Facebook)

Luidens die verklaring kompeteer Prasa met ander dienste by wyse van Autopax, wat twee busdienste bedryf – Translux en City to City. Die busdienste word deur die regering gesubsidieer.

“Omdat ander langafstandbusdienste soos Intercape, Eldo Coaches en Greyhound nie geld van die regering ontvang nie, is die koste van toegang tot intermodale fasiliteite vir hulle belangrik. In 2013 het Prasa die toegangsgeld vir busdienste by Parkstasie opgestoot. Die jaarlikse verhoging in toegangsgeld vir Intercape was byvoorbeeld 460%. Die toegangsgeld tot laaisones by Parkstasie is tans R480 per bus per uur. Prasa hef ʼn R150-boete vir elke 15 minute waarmee ʼn bus sy aanvanklike uur oorskry,” sê die kommissie. “Die kommissie is veral besorg dat die koste van hierdie toename in toegangsgeld op passasiers afgeskuif word. Die ineenstorting van ander busdienste weens hierdie buitensporige fooie, kan ook veroorsaak dat Autopax ʼn monopolie kry oor die bedryf en dus buitensporige fooie kan hef.”

Die kommissie het ook bevind dat Prasa ʼn groot gedeelte van die laaisone by Parkstasie eksklusief aan Autopax beskikbaar stel. Die busdiens gebruik ook nie hierdie laaisones ten volle nie. “Autopax hoef ook nie die toegangsgeld óf vir die huur van kantoorruimte by Parkstasie te betaal nie, terwyl Prasa dreig om ander busdienste die stasie te verbied, omdat hulle agterstallig is met die maandelikse betalings.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leon ·

Die monoploistiese regerings instansies.PRASA, TFR, TELKOM, ESKOM,SAL. Almal besig om bankrot te speel. So op ‘n streep.

Anel ·

Komunisme, dis al wat ek kan sê anders plaas MM nie my komentaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.