Prasa moet afgedankte hoës weer aanstel – arbeidshof

(Argieffoto)

Die arbeidshof in Johannesburg het die Passasierspooragentskap (Prasa) se besluit om drie van sy uitvoerende hoofde die trekpas te gee, tersyde gestel en Prasa beveel om hulle dadelik weer aan te stel.

Waarnemende regter Moses Baloyi het Dinsdag beslis Prasa se afdanking van Martha Ngoye, Nathi Khena en Tiro Holele was onregmatig.

Ngoye en Khena het in Januarie die trekpas gekry en Holele verlede maand.

Baloyi het voorts bevind die hofaansoek was wel dringend en dat die afdankingsbriewe wat die drie van die maatskappy gekry het, onregmatig was. “Die beëindiging van die kontrakte vir die aansoekers se dienskontrakte word tersyde gestel,” het Baloyi bevind.

Prasa is beveel om Ngoye (voormalige uitvoerende groephoof van regs- en risikovoldoening), Khena (voormalige bedryfshoof) en Holele (ude groephoof in die kantoor van die hoof- uitvoerende beampte) met onmiddellike inwerkingtreding weer aan te stel. Hul salarisse en enige ander voordele wat hulle toekom, moet ook dadelik vanaf die datum waarop hulle in die pad gesteek is totdat hulle weer aangestel is, betaal word.

Baloyi het Prasa beveel om die grootste gedeelte van die drie aansoekers se hofonkoste te betaal.

Ngoye, Khena en Holele het onder meer aangevoer Prasa se verweer dat hul kontrakte ʼn vyfjaarvervaldatum gehad het, word nie deur feite gesteun nie en is nie regsgeldig nie.

Die hof het in hul guns beslis.

Die arbeidshof het verlede week in ʼn afsonderlike aansoek ook in die guns van Nqobile Pearl Munthali, hoof van Prasa se ontwikkelingstigting, beslis. Munthali het die agentskap ook hof toe gesleep oor haar afdanking in soortgelyke omstandighede.

Regter Edwin Tlhotlhalemaje het beslis Prasa se openbare aankondiging oor die opskorting van Munthali se kontrak sonder dat sy vooraf daaroor ingelig is, asook die agentskap se wanvoorstelling van die feite oor die saak, was nie net “skokkend kwaadwillig nie, maar ook onmenslik”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wielspore ·

Nog ‘n staande applous vir PRASA wat uit onkunde en gebrek aan kennis weer die belasting betaler se geld gebruik om hof kostes te betaal. Na my mening behoort die PRASA werknemer in sy privaat hoedanigheid verantwoordelik moet aanvaar vir die regs koste. Jammer dat die hof nie so beslis het.

Jack ·

Prasa is dis funksioneel. Dis vol onbevoegde mense wat na regte ontslaan moet word. Maar ons wonderlike arbeidswetgewing is so beskermend teenoor werknemers dat die skade wat onbevoegde persone die werkgewer kan aandoen glad nie tel nie. Dis geen wonder dat die hele staatsbestel in duie gestort het nie, selfs die regterlike arm van die regering is ook die kluts kwyt.

Johan ·

Doen wat die sport mense doen…werf bekwame bestuurders oorsee….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.