Prasa moet miljoene opdok vir veiligheidsmaatskappye

Die hooggeregshof in Kaapstad. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur James Brent, GroundUp

Die Kaapstadse hooggeregshof het die Passasierspooragentskap (Prasa) sewe dae gegee om sy skuld van miljoene rande aan verskeie veiligheidsmaatskappye te betaal. Die maatskappye, wat verantwoordelik was vir die beveiliging van treine en pendelaars, is in November verlede jaar summier die trekpas gegee.

Prasa het tydens Vrydag se hofverrigtinge geen regsverteenwoordiger gehad nie en die organisasie #UniteBehind het met die regspan van die minister van vervoer ooreengekom dat die saak na later vandeesmaand uitgestel word.

Die organisasie het die hof vroeër gevra om in te gryp en Fikile Mbalula te dwing om verslag te doen oor die vordering met Prasa se omvattende veiligheidsplan.

Mbalula het verlede jaar, ná die uitspraak, uitgevaar teen die regter én die regbank en gesê hoofregter John Hlophe moet homself afvra of hy self weet hoe om ʼn spoorstelsel te bedryf voordat hy ʼn “Mickey Muis van hom maak”.

Prasa het Hlophe ook kort daarna gevra om redes vir die bevel te verskaf, maar Hlophe het geantwoord dat Prasa kan appelleer as hy ontevrede met die uitspraak is.

Prasa het nié geappelleer nie en op 9 Desember het Mbalula vir Bongisizwe Mpondo as Prasa-administrateur aangewys. In ʼn brief aan Mpondo vra #UniteBehind dat Prasa teen 14 Februarie aan die hofbevel – oor die betaling – voldoen.

Op 19 Februarie het Prasa se regsverteenwoordigers egter aangedui hulle onttrek aan die saak. Die gebrek aan enige regsverteenwoordiging dui daarop dat Prasa stééds nie nuwe prokureurs kon aanstel om hom te verteenwoordig nie.

Die veiligheidsmaatskappye Sechaba Protection Services, Chuma Security en Supreme Security Services het nou die konsepbevel bekom dat hulle betaal moet word.

Prasa skuld Sechaba altesame R6,3 miljoen, vir Chuma R7,2 miljoen en Supreme altesame R7,9 miljoen.

Die hof het ʼn bestraffende kostebevel teen Prasa toegestaan, asook toestemming dat ʼn lasbrief vir inhegtenisneming uitgereik mag word sou die geld steeds nie betaal wees nie.

Die hof het nóg ʼn veiligheidsmaatskappy, Vusa-Isizwe Security, toestemming gegee om tot die geding toe te tree en dieselfde verligting (sonder die bestraffende kostebevel) is ook aan dié maatskappye gegee.

In die tweede gedeelte van die aansoek word Prasa gevra vir redes oor waarom hy nie aan Hlophe se aanvanklike bevel voldoen het nie. Dié aansoek is ook toegestaan.

Lees GroundUp se oorspronklike weergawe van die berig hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Die destydse spoorweg polisie het 100% gewerk, alles gaan tans ten gronde!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.