Prasa moet sy geld gebruik vir sy lede se veiligheid

Pieter (Piet) Botha (Foto verskaf)

Pieter (Piet) Botha (Foto verskaf)

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) moet getrou bly aan die belofte wat die maatskappy teenoor die vermoorde treindrywer, Pieter (Piet) Botha, se vrou gemaak het voordat daar geld bestee word om weereens ʼn nuwe gesig aan die Kaapstad-stasie te gee, het die vakbond Untu gesê.

Steve Harris, hoofsekretaris van die United National Transport Union (Untu), sê hy is teleurgesteld om in die media te lees dat die sukkelende Prasa ʼn bydrae gaan maak vir die ontwikkeling en opgradering van die infrastruktuur waar ʼn 120 kamer-hotel, kantoor en winkelkompleks opgerig gaan word. Die ontwikkeling sal sowat R1 miljard kos.

“Prasa het die aansoek vir die hersonering van die grond sodat die ontwikkeling kan voortgaan, meer as ʼn jaar gelede ingedien. Die voorgestelde ontwikkeling is die derde opgradering aan die stasie oor die afgelope 8 jaar,” het Sonja Carstens, woordvoerder vir Untu, in ʼn verklaring gesê. “In 2010 is daar tydens die Sokkerwêreldbeker R408 miljoen belê aan verbetering daarvan. ʼn Verdere R126 miljoen is bestee op die opgradering van die Parade-binnehof wat verlede jaar voltooi is.”

Dit kom ʼn week nadat William Steenkamp, waarnemende direkteur van Prasa, tydens Botha se roudiens beloof het dat Netreg-stasie beveilig sal word vir personeel en passasiers. Hy het Botha se vrou, Tania (42), en kinders, Nadia (16) en Brendon (19) beloof om hulle binne drie maande weer na die Netreg-stasie te nooi sodat hulle kan sien watter verbeterings gedoen is ter herinnering van hulle eggenoot en pa.

Maroela Media het vroeër berig Botha (46) is op 11 Julie by die Netreg-stasie beroof en vermoor. Harris het gesê Botha is twee keer in die kop geskiet. Botha was besig met ʼn verfrissingskursus op die sentrale lyn en het vir ʼn trein gewag nadat hy van ʼn ander trein afgeklim het, toe hy oorval is.

Harris waarsku egter dat dit nie net die Netreg-stasie is waar veiligheid van personeel en passasiers ʼn groot bekommernis is nie. “Prasa moet dringend ʼn evaluering doen van die veiligheidsmaatreëls by al sy stasies om te bepaal waar dit opgeskerp moet word om ʼn soortgelyke tragedie soos die roof en gewelddadige moord op Botha, ʼn lojale lid van Untu, te voorkom,” het hy gesê.

Untu wag steeds vir ʼn antwoord van Prasa ná die vakbond daarop aangedring het dat ʼn ondersoek gedoen moet word om te bepaal waar die veiligheidswagte was toe Botha helder oordag aangeval is.

Carstens het bygevoeg JP du Plessis (58), ʼn treindrywer van Metrorail, is op 25 Desember 2012 ook op ʼn trein naby Hercules, Pretoria, met ʼn steekwond gevind. Du Plessis was ook ʼn lojale lid van UNTU.

“Lucky Montana, voormalige groep uitvoerende hoof van Prasa, het in daardie stadium aangekondig dat R100 miljoen beskikbaar gestel sal word om veiligheidsmaatreëls by stasies op te knap,” het Harris verduidelik. “Dit sou insluit gewapende wagte by gevaargebiede, sigbare polisiëring en kringtelevisiemateriaal. Montana het nie by sy belofte gehou nie.”

In sy eerste onderhoud sedert sy aanstelling op 1 Julie, het Collins Letsoalo, Prasa se nuwe groep uitvoerende hoof, beloof hy sal sy personeel afsonderlik by hul werkstasies besoek en uitvind hoe dit met hulle gesinne gaan, want dit is wat vir hom belangrik is. Letsoalo moedig die personeel aan om deel te word van ʼn span om mee rekening te hou.

Harris meen Letsoalo kan slegs spanwerk verwag as sy personeel veilig voel by hul werk. “Untu het al by herhaling vir Prasa gevra om die probleem aan te spreek. Prasa vervul nie sy grondwetlike plig om te sorg dat personeel in ʼn veilige omgewing werk nie. Die vakbond hoop dat Letsoalo die verandering kan bewerkstellig,” het Harris bygevoeg.

Lees alle vorige berigte oor Pieter Botha op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.