Prasa onder administrasie geplaas

Fikile Mbalula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het die Passasierspooragentskap (Prasa) met onmiddellike inwerkingtreding onder administrasie geplaas.

Die minister het Maandagoggend gedurende ʼn mediakonferensie aangekondig dat hy ook die tussentydse raad van Prasa ontbind. Bongisizwe Mpondo is met onmiddellike inwerkingtreding as die administrateur van Prasa aangestel.

Volgens Mbalula het die departement van vervoer oor die afgelope paar weke ʼn oorsig van Prasa gedoen. Die departement het op grond hiervan tot die gevolgtrekking gekom dat die entiteit deur talle uitdagings in die gesig gestaar word wat deurslaggewende ingrypings op leierskap- en bestuursvlak sal verg om te bowe te kom.

Dit kom skaars ʼn week nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens in sakeredding geplaas is.

Mbalula verduidelik dat die blote vervanging van ’n tussentydse raad met ’n permanente raad nie die probleme by Prasa oplos nie. “Ek het dus besluit om die tussentydse raad te ontbind en Prasa onder administrasie te plaas,” het die minister verduidelik.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat ’n meer indringende ingryping belangriker is as die aanstel van ʼn permanente direksie. Só ʼn ingryping moet vinnige omkeertye in die besluitneming moontlik maak om die bedryfsprestasie te stabiliseer.”

Mbalula sê die kabinet deel dié siening.

Die minister het gedurende vanoggend se mediakonferensie daarop gewys dat die ouditeur-generaal (OG) in sy bestuursverslag vir die boekjaar 2018‑’19 kritieke kwessies rakende Prasa se bestuur uitgewys het. Volgens die OG het Prasa nie doeltreffende stappe toegepas om onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes by die entiteit te voorkom nie.

Die OG het ook in die verslag benadruk dat geen vordering gemaak is om die wesenlike tekortkominge met betrekking tot finansiële rapportering en interne bestuur uit die weg te ruim nie.

Die staande komitee vir openbare rekeninge (Scopa) het die besluit om Prasa onder administrasie te plaas, verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Nog ‘n kader kameraad in beheer.

Michael P

Dit is nou mooi bewys die ANC kan nie regeer nie. Ai as die mense wat vir hulle stem net kan verstaan wat Administrasie beteken want soos die ANC dink hulle dit is sukses

HPV

Beste is hulle ontken dit nie eers meer nie. Viva ANC!

Ruiklont

Daar is net een manier om die land se probleme op te los en dit is dat die totale ANC vervang moet word

PROPPIE

Dis omdat die bestuur skelm is dat hulle waar hulle is.