Prasa ontken belegging in VBS Bank

Argieffoto

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) het ontken dat hy van voornemens is om R1 miljard te belê in ʼn relatief onbekende bank wat vir pres. Jacob Zuma ʼn lening van R7,8 miljoen toegestaan het vir nie-sekuriteitsopgraderings aan sy privaat huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.

Prasa het Sondag in ʼn verklaring gesê bewerings dat hy van voornemens is om ʼn betaling aan VBS Bank te maak, is ongegrond. “Prasa het beleggingsrekeninge by al die groot banke in Suid-Afrika. VBS se voorstel of enige ander bank is algemene praktyk. Prasa word beheer deur die Prasa-beleggingsbeleid wat ʼn riglyn is vir transaksies van dié aard.”

Die geld wat tans in beleggingsrekenings gehou word, spruit uit “surplus geld wat vir kort periodes beskikbaar gemaak word indien kapitale projekte vertraag of uitgestel word”. “Die geld word dan vir kort periodes belê as ʼn maatreël om seker te maak dat Prasa se voortgesette likiditeit maklik toeganklik is indien enige onvoorsiene kapitale uitgawe nodig is. Voor enige belegging gedoen kan word, moet die bewaring van die openbare geld en onmiddellike beskikbaarheid daarvan gewaarborg kan word.”

Prasa moet ook, as ʼn staatsbeheerde onderneming, verseker dat alle beleggings voldoen aan die riglyne van die Nasionale Tesourie en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur. “In hierdie verband word daar voldoen aan alle voorskrifte en praktyke wanneer enige saketransaksie-voorstel aan Prasa gemaak word en voor enige formele ooreenkoms aangegaan word. Dit sluit die VBS-aanbod in. Prasa analiseer in hierdie stadium die VBS-aanbod voor die nasionale tesourie amptelik genader sal word om seker te maak VBS voldoen aan die riglyne.

“Prasa benadruk dus dat geen betalingsopdrag deur die raad van Prasa of die waarnemende groepshoof in hierdie verband gegee is nie. Daar is ook nie enige sperdatum waaraan Prasa moet voldoen wat betref die VBS-aanbod nie. En die belangrikste van als is dat die goedkeuring van hierdie tipe betalings nie berus by die voorsitter van die raad of die waarnemende groepshoof nie.

“Dis daarom oneerlik om voor te stel dat daar druk geplaas is op die waarnemende finansiële hoof om die VBS-aanbod goed te keur of enige ander aanbod goed te keur sonder om die behoorlike proses te volg wat betref die uitdruklike waarborg op die belegging en die beskerming van openbare geld.”

Die tussentydse raad en die waarnemende groepshoof het bevestig dat hulle nie enige VBS-voorstel goedgekeur of afgeteken het nie en Prasa is nie verbind tot die VBS-aanbod nie, aldus die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ja ne ·

Ondervinding het geleer dat die oomblik as iets so heftig ontken word deur n politikus dit als die waarheid is. Merk my woorde. Hierdie is die waarheid. Watse bank gaan vir n man geld leen met zuma se krediet rekord???

lvh ·

Ja!! Alweer n kwessie van ” waar n rokie trek, daar is n vuurtjie”.

Ander Annie ·

Wanneer gaan hulle dan leer? Ek dink hoeka is daai bank ‘n Zupta bank. My gevoel is ook, waar daar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.