Prasa ontken ‘grootste tenderblaps’ vir nuwe treine

Só lyk die nuwe treine Foto: @AlstomItalia, Twitter

Só lyk die nuwe treine Foto: @AlstomItalia, Twitter

Prasa het Maandag gesê 13 ingevoerde nuwe diesellokomotiewe wat R600 miljoen gekos het, voldoen aan al die regulatoriese standaarde en maatreëls.

“Ons voldoen aan die standaarde,” het Lucky Montana, uitvoerende hoof van die staatsbeheerde Passasierspooragentskap (Prasa), tydens ʼn perskonferensie in Johannesburg gesê. “Ek kan bevestig dat dit nie net aan die veiligheidstandaarde voldoen nie, maar dat dit oortref word.”

Montana het reageer op ʼn mediaberig wat Sondag verskyn het dat die treine ingevoer is ondanks “uitdruklike waarskuwings dat die lokomotiewe nie gepas is vir plaaslike spoorlyne nie” en dat Prasa die nuwe diesellokomotiewe in ontvangs geneem het wat “te hoog is” vir die langafstandroetes waarvoor hulle bestem is.

Die 13 treine is deel van ʼn bestelling van 70 wat Suid-Afrika teen R3.5 miljard van die Spaanse vervaardiger Vossloh España aangeskaf het.

Montana hou egter vol die spoorveiligheidsreguleerder het bevestig dat hulle ʼn permit aan Prasa uitgereik het. “Ons is tevrede dat die lokomotiewe aan al die vereistes voldoen.”

Rapport het Sondag die tenderooreenkoms beskryf as “bes moontlik die land se grootste en duurste onlangse tenderblaps”.

Volgens senior spoorwegingenieurs en sekere bronne, is Prasa gewaarsku dat die treine te hoog is vir plaaslike gebruik en die maksimum hoogtebeperking oorskry word.

Volgens Rapport is die lokomotiewe 4 264 mm hoog, terwyl diesellokomotiewe op plaaslike langafstandlyne nie hoër as 3 965 mm mag wees nie.

Montana het egter Maandag gesê die reguleerder het die persverklaring aan die betrokke joernalis gestuur waarin dit uiteengesit word dat die lokomotiewe aan die nodige standaarde voldoen. Hy het bevraagteken waarom die owerheid nie “ernstig opgeneem” is nie en waarom ʼn brief van ʼn anonieme ingenieur hoër geag word as dit wat die reguleerder gesê het. Volgens hom is die lokomotiewe 4.1 meter hoog. “Ek dink die groter vraag is waarom die media besluit het om nie die verklaring van die spoorveiligheidsreguleerder te publiseer nie,” het hy gesê.

“[Volgens die berig] kan ons lokomotiewe nie onderdeur ʼn brug kan beweeg nie, maar ons het deur tonnels gery. Van ons kant af is daar nie ʼn storie nie, die bohaai is geskep.”

Prasa het tydens sy perskonferensie ʼn video gewys hoe een van die lokomotiewe deur ʼn tonnel ry om te bewys dat die treine geen probleem het nie. Hy het gesê terwyl Prasa die lokomotiewe voorberei het, moes hulle seker maak dat daar behoorlike belyning plaasvind en dat die Transnet- en Spoorwegveiligheidsreguleerder saam met hulle sal gaan.

Hy het gesê hy is teleurgesteld oor politieke partye se uitlatings oor die kwessie. “Hulle is nie behoorlik ingelig nie.” Hy het ook ontken dat daar enige korrupsie tydens die aanskaffingsproses was. “Dit is baie jammer, en ek hoop dat die politieke partye hulself sal vergewis van die feite en nie probeer om goedkoop politieke punte in te win nie.”

Montana het gesê die lokomotiewe kon nie deur ʼn Suid-Afrikaanse maatskappy vervaardig word nie.

Die toetsfase vind tans plaas waar al die treine 3 000 km moet aflê voordat dit vir kommersiële gebruik aangewend mag word.

Hy het die berig in Rapport verwerp en gesê die uitlating dat dit die grootste tenderblaps is, is verkeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Francois ·

Mooi so, mens kan nie een die video sien nie! En dinkk julle nou vir een oomblik die kaders gaan erken hulle het ‘n fout gemaaak?

Francois ·

Montana wie? – Montana Crossing of Montana Junction…dis in Pta Noord…lol….

Peet Schabort ·

Wat is 299mm nou tussen vriende. Dis maar net liniaallengte.
Ek verstaan dat dit nie gaan oor of hulle deur ‘n tonnel sal gaan maar wel dat hulle té naby aan die oorhoofse elektriese lyn gaan wees en sodoende skade gaan berokken.
Hoe dit ookal sy, na 21 jaar is daar seer sekerlik kundiges om foutjies uit te skakel.

polap ·

Die kundiges in SA word nie meer geraadpleeg nie – hulle is nie meer in diens nie!! Dit is hoekom dit gaan soos dit wil – skep net met elke geleentheid soveel jy kan.

Winston ·

Ons het die kundigheid in SA om sulke projekte af te handel. DIT WORD NET ONTKEN.

Marie ·

Ag ons sal eendag die goed verroes een of ander plek sien staan. Sal Prasa dan nog stry?

Wessel ·

Almal het dit verkeerd. Dis die nuwe “soustrein”. Dit gaan ry tussen die parlement in Kaapstad, Unie gebou in Pretoria en Nkandla.

Robyn Jonker ·

Dit is opmerklik dat die video begin met die loko reeds die kant van die brug. Maklik om in trurat te ry die loko te hak en weer vorentoe te ry sodra die kamera rol. Wonder maar net.

André Claassen ·

Laai die mense wat hierdie tender aanvaar het in “hulle” nuwe trein en laat hulle op ‘n “joy ride” gaan dan kyk ons hoe “Lucky” is hulle…

Filemon, The Wise One ·

Eish! Julle mense weet niks. As die lokos te groot is vir spoorweg dan maak ons net die pale langer en die tonnels hoër. Problem solved. Daar is baie mense wat werk soek…

Filemon, The Wise To ·

Wat van ons blaas net die wiele af. Dan behoort hulle ondeur die pale te kom en deur die tonnels te kan ry.

pop ·

Ai maar die klomp vat ons darem vlak. Daai video is so vals soos kan kom. Eks verstom dat apartheid nie weer die skuld moet kry vir hierdie baie duur geldvermorsing. Ons kon mos darem seker voorsien het dat daar eendag mense gaan kom wat niks weet van niks nie. En daar sal geen haan kraai daarna nie. Stoot bloot die petrol prys en belasting op. MAKLIK

piet ·

Ai , wat help al die redenasies tog ? Dis na 21 jaar steeds die Nuwe rsa , net maar nog n ” VetVreet” sessie en boggerol gaan gebeur want werk KAN dit nie werk nie. Fantastiese voorbeeld van Intelegensie ! ! ! En wie moet jy bedank ? ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.